Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” (vers 35)
Een van ons basiese behoeftes is om raakgesien te word, erken te word, en ook om belangrik te wees, al is dit dan net onder dié naaste aan jou. Daarmee is daar niks verkeerd nie. Dis deel van menswees. Die probleem kom in as die samelewing jou leer dat jou belangrikheid gemeet moet kan word aan wat jy het: geld, mag, invloed, status.
Jesus se dissipels is ook ingesuig in dié soort denke, en daarom stry hulle onder mekaar oor wie van hulle die belangrikste is. Dis tóé dat Jesus sê om eerste te wees, beteken nie noodwendig dat jy eerste staan, dat jy beter vaar, dat jy ander wen nie. Ware grootheid lê daarin dat jy ander dien, dat jy die minste is.
Jesus het dit nie net gesê nie. Hy het dit geleef. Uiteindelik het sy diens aan jou en my sy dood gekos. Dís die soort grootheid wat volgelinge van Jesus moet hê.
Views: 3