Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.” (vers 49)
Markus 10 is ’n hoofstuk wat ’n mens wéér en wéér moet lees, want hier is baie om in te neem: Jesus se standpunt oor egskeiding; sy liefde vir kinders; sy aandrang dat niks tussen jou en God mag kom nie; en nóg ’n keer sy dissipels wat mekaar wil voorspring in belangrikheid.
Die laaste perikoop, oor Bartimeus, gee egter vir my ’n prentjie van Jesus wat ek graag wil vashou. Onthou, Jesus was vir oulaas op pad Jerusalem toe vir die Paasfees. Hy het vir sy dissipels gesê Hy weet Hy sal daar ’n wrede dood sterf. En Hy is haastig om daar te kom (vers 32). Wou Hy wat voorlê, verbykry? Dalk. Maar dan hoor Bartimeus, die blinde bedelaar, dat Jesus verbygaan, en hy roep na Jesus om hulp.
Almal is teen dié tyd haastig en maak hom stil. Hulle is immers na die fees op pad. Hulle het nie nou tyd vir ’n blinde bedelaar nie. Maar wat doen Jesus? Hy gaan staan, want Hý het tyd vir Bartimeus.
God het tyd vir jou ook. Dít is die evangelie.