Tereggestelde rabbi se dissipels verward, ontnugter
JERUSALEM. – Groot verwarring en onsekerheid heers in die geledere van rabbi Jesus van Nasaret se volgelinge.
Die rabbi is Vrydag op Golgota gekruisig, en dieselfde middag nog begrawe. Vanoggend, toe party van die vroue wat hom gevolg het, by die graf kom om sy liggaam te balsem, het hulle tot hulle ontsteltenis ontdek dat die graf leeg is. Volgens die ma van een van die dissipels, Johanna die moeder van Jakobus, het twee mans in blink klere – sy sê dit was engele – aan hulle vertel dat Jesus uit die dood opgewek is.
Navrae by die ander dissipels kon ongelukkig nie die vroue se bewerings bevestig nie. Een van die dissipels, Tomas, het reguit gesê hy dink dit is ouvroustories. Die ander dissipels was nie so uitgesproke nie, maar dit is duidelik dat hulle glad nie oortuig is dat die vroue die waarheid praat nie. “Ons het ook na die graf gegaan toe ons hoor wat die vroue vertel. Die graf ís leeg, maar ons het nie enige teken van ons meester óf die engele gesien nie,” het hulle gesê.
Dit is duidelik dat die dood van hulle geliefde meester ’n groot skok vir die dissipelkring is. Daar is algemeen verwag dat rabbi Jesus die Messias is en ’n volksopstand teen die Romeinse bewind sou lei om hulle só te bevry van onderdrukking. Van dié verwagting het daar nou niks gekom nie.
Tomas se woorde som miskien die dissipels se ontnugtering die raakste op. Hy het gesê hulle het almal so gehoop dat dit hy is wat Israel sou verlos. Maar nou is Jesus al drie dae in die graf, en sal hulle maar moet aanvaar dat hy maar net ’n gewone, baie begaafde mens was.
- Lees meer oor hierdie aanvanklike onsekerheid, en die dissipels se oorstelpte blydskap later, in Luk. 24.
TRAGEDIE EINDIG IN VREUGDE
KAPERNAUM. – ’n Gesiene sinagogeraadslid van die dorp en sy gesin het gister hulle dogter aan die dood afgegee. ’n Uur of wat later was sy egter weer springlewendig danksy rabbi Jesus!
Die twaalfjarige dogter van raadslid Jaïrus is al geruime tyd siek. Haar toestand het gister drasties versleg. Dis toe dat Jaïrus besluit het om die bekende wondergeneser Jesus van Nasaret se hulp in te roep. Jesus was egter in daardie stadium op see nadat hy vroeër Gerasa besoek het. Jaïrus het hom by die hawe gaan inwag.
Jesus het onmiddellik ingestem om die dogtertjie te sien. Op pad na die huis is hulle egter voorgekeer met die tyding dat die kind reeds gesterf het. Jesus het hom egter nie aan dié berig gesteur nie. Hy het gesê die dogter slaap net, en is toe saam met die verslae pa na die kind se kamer. Enkele minute later het hy met die kind uit die huis gekom. Sy was springlewendig!
Die vraag op almal se lippe is nou: was die dogter regtig dood, of het die familie hulle misgis?
- Lees hiervan in Mark. 5:21-43.
Water uit ’n rots!
REFIDIM. – ’n Uiters plofbare situasie is gister hier ontlont toe die nomadeleier Moses seun van Amram deur ’n wonderwerk vir sy mense water uit ’n rots laat vloei het.
Moses en sy mense het enkele weke gelede wonderbaarlik aan die slawejuk in Egipte ontsnap. ’n Nuwe krisis het die jong volk egter in die gesig gestaar toe hulle water in die woestyn opgeraak het. Verwyte is na Moses geslinger dat hy hulle net uit Egipte laat trek het om in die woestyn van dors om te kom. Die vraag is selfs gevra of hulle God hulle verlaat het.
In opdrag van die God van Israel het Moses toe die volk na die berg Horeb geneem, met sy kierie teen ’n rots daar geslaan, en – daar het water uit die rots begin stroom!
Toe Moses om kommentaar genader is, het hy gesê mense is te gou om paniekerig te raak. “As God by jou is, is daar nie iets soos ’n doodloopstraat nie,” het hy gesê.
- Lees hiervan in Eks. 17:1-7.

Niks is by God onmoontlik nie
Die probleem met die Emmausgangers op daardie eerste Paassondag is dat hulle God onderskat het. “Ons het so gehoop dat dit Hy is,” sug hulle (Luk. 24:21). G’n wonder nie dat Jesus as ’t ware hande in die lug gooi en hulle verwyt (24:25): “Wat ’n gebrek aan begrip!”
Jesus se opstanding wil in dik hale onderstreep wat reeds vir Moses en Jaïrus duidelik begin word het: niks is by God onmoontlik nie! Niks! Selfs nie die dood is finaal nie.
Maar dan is die probleme wat jou bekommer en waarmee jy so spartel, mos nie onoorkomelik nie! Jesus leef en ons met Hom!
Views: 151