Ons ken hom almal: die voortvarende man wat deur die Here Jesus “Petrus” genoem is, Rots. Die ou wat soos ‘n klip gesink het toe hy op die water na Jesus wou loop. Die man wat op die Berg van Verheerliking ewe voorbarig vir Jesus, Moses en Elia elkeen ‘n hut wou bou. Bybelkoerant het nader kennis gaan maak met dié formidabele man.

Hoe sien jy jouself?

Ek is ’n visserman; dis in my bloed. Eers het ek in die See van Galilea vis gevang, en nou vang ek in die oseaan van die volkere dié mense na wie God my stuur.

Wat was jou slegste ervaring?

Dit was sonder twyfel daardie nag toe ons Here Jesus gevang en verhoor en later gekruisig is. Ek het Hom soveel keer in daardie paar uur teleurgestel. Eers het ek Hom in die skande gesteek toe ek ’n swaard uitgepluk het toe die soldate Hom in hegtenis geneem het. Ek het ’n man se oor afgekap! Dit skree teen alles wat ons Here vir ons geleer het. En toe, asof dit nie erg genoeg is nie, het ek in die binnehof van Kajafas die Here nóg drie keer in die steek gelaat. In plaas daarvan om vir die wêreld en almal wat wou en nie wou hoor nie, te vertel dat my Here ’n wonderlike Godsman is en onskuldig aangekla word van onsin, het ek ontken dat ek Hom ken. Ek, wat met groot bravade vir Hom gesê het ek is bereid om saam met Hom te sterwe! Eers toe die haan kraai, onthou ek die Here se waarskuwing dat presies dit sal gebeur. En toe draai die Here om en kyk my in die oë. Die pyn in sy oë – ek sal dit nooit ooit vergeet nie. Ek was só stukkend oor myself dat ek soos ’n muishond weggesluip het. Dis ook hoekom ek nie langs Johannes en tannie Maria by die kruis gestaan het om Hom te ondersteun nie; nóg iets waaroor ek vandag nog spyt is. Ek het net gevoel ek hoort nie daar nie, want ek is Hom en sy liefde nie werd nie.

Noem ’n hoogtepunt in jou lewe

Die drie-en-‘n-half jaar wat ek in rabbi Jesus se skool was, was een lang hoogtepunt. Tog is daar twee gebeurtenisse wat ek wil uitsonder. Die een is toe die Here my geroep het om sy dissipel te word. Ek was maar net ’n eenvoudige, ongeleerde visserman, en hier kom die rabbi oor wie almal gaande is, en vra ek moet Hom volg. Dit was die begin van ’n nuwe lewe. En die ander hoogtepunt was toe die Here Jesus my in ere herstel het in die dissipelkring. Dit was by die See van Galilea, nie lank ná sy opstanding nie. Ek was so skaam daardie tyd omdat ek Hom in die steek gelaat het toe Hy gevange geneem is, dat ek Hom nie in die oë kon kyk nie. Maar Hy het my weer ingetrek en aangestel as sy dissipel. Daardie oë vol liefde – ek sal dit nooit kan vergeet nie.

Wat het die lewe jou geleer?

Om te struikel en te val, is nie die einde van die wêreld nie. Moenie dan lê en jouself jammer kry nie. Staan op en begin weer! Ons Here is ’n God van tweede kanse.

’n Boodskap vir Bybelkoerant se lesers?

Ek het twee briewe geskryf wat in julle Bybel opgeneem is. Daarin staan die dinge wat ek dink belangrik is. Ek skryf onder andere in my tweede brief: “Daarom moet julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie.” Wat ek bedoel, is dat ’n dissipel van ons Here Jesus nie net ’n prater kan wees nie. Jou lewe moet dit wys. Mag Bybelkoerant se lesers dit doen!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.