OFRA. – Die gevreesde Midianitiese en Amalekitiese roofbendes – 135 000 sterk – het verlede week vir die agste agtereenvolgende jaar die Jordaan oorgesteek en kamp opgeslaan in die vrugbare Jisreëlvlakte.
Berigte uit die Jisreëlvlakte dui daarop dat die bendes reeds die plase in die vlakte begin plunder het. Boere daar het in aller yl gevlug en moes magteloos toekyk hoe al hulle besittings geroof en hulle huise afgebrand word. Talle boere wat hulle besittings probeer beskerm het, is vermoor. Hulle dogters is geroof en hulle vrouens verkrag.
Intussen het Gideon seun van Joas gister die ramshoring geblaas en alle Abiësriete opgeroep vir die stryd teen die roofbendes. Boodskappers is ook na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali gestuur om hulle op te roep om te kom veg. Die eerste manskappe het hulle reeds in hier in Ofra by Gideon kom aanmeld. Na verwagting sal daar uiteindelik meer as dertigduisend man opdaag vir die stryd.
Plaaslike inwoners is nie almal oortuig dat Gideon die regte man is vir die gedugte taak wat wag nie. Party sê reguit hy is ’n “bangbroek met ’n groot mond”. Ander gee hom weer krediet dat hy ten minste iets aan die ellende probeer doen. “Hy het die moed gehad om die Baäl-altaar af te breek, en dit sê baie vir die man,” het ’n ou inwoner gesê.
Gideon self is heel beskeie oor sy rol. “Ek doen maar net wat die Here my beveel het, en Hy het op ’n wonderlike manier my geloof versterk,” het hy gesê.
- Lees hiervan, en hoe die Here sy geloof versterk het, in Rig. 6:33-40.
Jong priester voorspel ellende vir Juda
ANATOT. – ’n Jong priester uit dié Leviete-dorp net noord van Jerusalem het gister groot ontsteltenis en selfs konsternasie veroorsaak toe hy voorspel het dat Juda ’n ramp tegemoetgaan.
Die jong priester is Jeremia seun van Gilkija. Hy het gesê die Here het aan hom geopenbaar dat Hy ’n ramp uit die noorde gaan stuur oor almal wat in die land woon, omdat Juda Hom verlaat het en ander gode vereer.
Profete in Jerusalem het baie skepties oor die uitsprake van die jong priester gereageer. Die bekende hofprofeet Gananja seun van Assur het gesê: “Die jong broeder moet hom liewer by sy amp hou. Laat hom maar die offers voorberei soos sy werk is. Ons profete sal God se profesieë oordra.”
Intussen het die stadsraad hier op ’n blitsvergadering besluit om Jeremia die swye op te lê. Hulle het gesê die priester se negatiewe voorspellings werp ’n ernstige refleksie op die stad as geheel, en dit kan nie geduld word nie. Hulle het besluit dat hulle Jeremia sal doodmaak as hy dit weer waag om in die Naam van die Here as profeet op te tree.
Toe Jeremia vir kommentaar genader is, was hy baie geskok oor die besluit. “Hulle het my niks daarvan laat weet nie,” het hy verslae gesê.
BESETE DOGTER DEUR RABBI GENEES
TIRUS. – ’n Joodse rabbi wat hier op besoek is, Jesus van Nasaret, het gister ’n dogter wat in die mag van ’n duiwel is, genees, en dit sonder om haar eers te sien.
Die dogter se ma vertel dat sy van die rabbi se besoek gehoor het, en haar uit radeloosheid tot hom gewend. Sy het berigte uit Galilea gehoor dat hy die Messias is wat die Jode verwag, en besluit om by hom om hulp aan te klop. “Hy was eers nie juis geneë om my te help nie, maar toe ek aanhou, het hy gesê my wens is vervul. Toe ek by die huis kom, was my kind gesond! Ek kan dit nou nog amper nie glo nie,” het sy gesê.
- Lees die berig in Matt. 15:21-28.
Om met God te praat
’n Mens is partykeer nogal verbaas oor die vrymoedigheid waarmee mense in die Bybel met God redeneer en selfs teëpraat. Soos die Kanaänitiese vrou wat net nie nee vir ’n antwoord vat nie. En soos Jeremia wat openlik vir die Here sê hy sien nie kans vir sy opdrag nie.
Gideon se vrypostigheid span egter die kroon. Nie net is hy vol slimpraatjies met die engel nie, maar later sien hy heeltemal kans om met God te onderhandel oor presies hoe en waar die dou moet val. Die verstommende is: God laat dit toe!
Dis nogal stof tot nadenke vir ons wat dikwels só vroom is dat ons nie eers vir God ons werklike hartsbegeertes vertel nie. “Hy is te besig met belangrike dinge. Hy kan nie aan my puntenerigheid of voorkeure ook nog aandag gee nie,” redeneer ons dan.
Nee. God is nié te besig nie. Hy het vir jou ook ’n oor. Ef. 3:12 sê: “In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.”
Openhartig en eerlik. Só moet ons verhouding met Hom wees.
Views: 3