Bybelkoerant gesels met die skrywer van die boek Daniël
Naam van boek: Daniël
Skrywer: Onbekend
Publikasiedatum: ± 165 vC
Soort geskrif: Apokalipties
Lesers: Vervolgde Jode
Hy was nie maklik om op te spoor nie. Sy huis het hy lankal opgegee, sedert hy hom aangesluit het by die gevegsmagte van Judas Makkabeus, die held van die Joodse opstandelinge teen die bewind van Antiogos Epifanes IV. Ek het hom in die berge van die Judese woestyn besoek, waar die Makkabese gevegsmagte hulle gereed maak om Jerusalem uit die kloue van Antiogos te bevry sodat hulle die tempel kan reinig.
Sy naam is nie Daniël nie, sê hy dadelik toe ek hom ontmoet. Hy verkies om anoniem te bly.
Waarom dié boek?
Ek wou by hom weet waarom hy die boek geskryf het. Hy staan op en stap na die bek van die grot, wat weswaarts kyk. “Daar agter die horison lê Jerusalem, die stad wat God uitgekies het om sy Naam ewig te vestig. Die tempel staan ook daar, maar dis in die hande van goddelose mense wat ons geloof wil vernietig en wil hê ons moet Zeus aanbid. Jy weet self van die afskuwelike altaar wat Antiogos in die tempel opgerig het ter ere van Zeus. Dit het ons mense diep gegrief, maar ook geweldig ontstel. Kan ons nog glo in God as ’n heidense koning die tempel ontheilig en vir sy eie walglike god opeis? Baie het reguit gesê hulle is so moedeloos, hulle weet nie meer of hulle glo nie.
“Dit was tóé dat ek die verhale oor Daniël gaan opdiep het, en die gesigte wat hy gesien het. Jy weet, sy omstandighede was baie soos ons s’n vandag. Hy het dit ook beleef dat heidene die land en Jerusalem ingeneem het, en die tempel verwoes het. Maar hy en sy vriende het bly glo, en … God het hulle gehelp en keer op keer gered!” Hy gryp my aan die mou en sê dringend: “Dís die boodskap wat ons mense nou nodig het: dat God nog steeds in beheer is, net soos destyds.” Hy trek sy skouers op. “Ek het nie eintlik die boek geskryf nie, jy weet. Dis Daniël se boek. Ek het maar net die dinge wat hy vertel het, en die dinge wat oor hom vertel is, bymekaargesit en ’n bietjie uitgebrei om vir ons eie tyd ’n boodskap te hê.”
Die boek is dinamiet
Hoekom skryf hy dan nie hierdie dinge in sy eie naam nie? Sal dit nie lekker wees as almal weet hy het die boek geskryf nie?
Hy lag breed. “Miskien. Maar ek dink ek sal dood wees lank voordat ek dit kan geniet, want as Antiogos weet die boek kom van my, sal hy my teregstel voor jy kan sê ‘Nebukadnesar’, dié moet jy weet. Die boek vertel dan dat die volk van God nie voor sy vervolging moet swig nie, en dat God hulle sal help om hom te onttroon. Dis mos dinamiet! G’n regeerder sal ’n mens wat sulke dinge skryf, duld nie.” Ons loop weer die grot in, waar hy my ’n beker bokmelk aanbied voordat hy byvoeg: “Buitendien, wat maak dit saak wie die boek geskryf het? Dis die boodskap van die boek wat saak maak.”
Vreemde beelde en visioene
Hy is duidelik opgewonde as hy oor die boek praat. “Dis in twee dele geskryf. Die eerste deel is verhale, en die tweede deel is visioene. Die verhale uit Daniël se lewe wys vir ons dat God jou nie in die steek laat as jy bereid is om te staan by wat jy glo nie. En die visioene vertel weer wat God in óns tyd doen en gaan doen. Een van die visioene sê byvoorbeeld dat God die gruwelike Zeus-altaar in die tempel sal vernietig. Dít bring troos in hierdie deurmekaar tyd, en gee ons mense moed om aan te hou glo.”
Ek het hom ook gevra waarom hy vreemde beelde soos monsters met horings en goed gebruik. “Dis eintlik ’n soort kode-taal om my en die boek te beskerm,” verduidelik hy, en sy hande praat saam. “Vir die owerheid sal die boek nie veel sê nie, want hulle sal nie verstaan waaroor die beelde gaan nie.”
’n Aanhaling uit die boek wat hy graag wil uitlig? “Ongetwyfeld die woorde van Daniël se vriende aan koning Nebukadnesar in die aangesig van die dood: ‘Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie …’ Dís die soort geloof wat ons vandag nodig het.”
Views: 31