Bevelvoerder stuur feitlik die hele leër huis toe
EN-GAROD. – Militêre waarnemers hier het hulle hande verslae in die lug gegooi toe dit bekend geword het dat genl. Gideon die Abiësriet op driehonderd man na die hele leër van Israel huis toe gestuur het.
Die Israelitiese leër van 32 000 het al klaar ’n gedugte taak gehad teen die oormag van 135 000 Midianiete en Amalekiete. Tog het genl. Gideon dit goed gedink om eers almal wat wou die kans te gee om huis toe te gaan. Tóé reeds was die skrif aan die muur toe net tienduisend man by hom gebly het. Maar ook hiermee was hy nie tevrede nie, en hy het die meeste van hulle ook laat omdraai. Slegs driehonderd man het teen laat gistermiddag nog oorgebly.
Van die soldate wat huis toe gestuur is, het hulle misnoeë luidkeels te kenne gegee. Party het hardop gewonder of hulle aanvoerder weet wat hy doen. Ander het uiters onvleiende dinge kwytgeraak wat neerkom op laster.
Gerespekteerde volksleiers het ook hulle bedenkinge uitgespreek oor Gideon se geskiktheid om die verantwoordelike pos as aanvoerder van die Israelitiese magte te beklee. “Dit het tyd geword dat Israel ’n strategie ontwikkel waarvolgens sy militêre leiers gekies word. Ons kan dit werklik nie bekostig dat enige Jan Rap en sy maat die ramshoring blaas en die vyand aandurf nie. Niemand weet iets van hierdie Gideon nie. Hoe kan ons hom met ons land se verdediging vertrou?” het ’n afgetrede offisier gesê. Hy het ’n noodvergadering van die stamleiers belê om ’n nuwe aanvoerder aan te wys sodat die leër weer opgeroep kan word. Die vergadering sal aanstaande Maandag in Silo gehou word.
Intussen berig ons oorlogskorrespondent in die kamp van die vyand op die Jisreëlvlakte net ten noorde van En-Garod dat die geharde Midianiete die hele petalje taamlik geamuseerd betrag. Grappies oor die Israeliete se krygsvermoë doen oral die rondte. Veral genl. Gideon die Abiësriet word nie gespaar nie. Daar word spottenderwys na hom verwys as die “Aap van Apiesriet”.
- Lees oor die uitdunning van die leër in Rig. 7:1-8.
Vasdag lok groot skare na tempel
JERUSALEM. – In die lig van die ernstige bedreiging wat die gedugte vyandelike koalisiemag van Moabiete, Ammoniete en Meüniete by En-Gedi op die oosgrens van Juda inhou, het koning Josafat ’n vasdag vir die hele Juda uitgeroep.
Mans, vrouens en selfs kinders het vanoggend vanuit die hele koninkryk by die tempel bymekaargekom om die hulp van die Here te vra. Die verrigtinge by die tempel is met ’n innige gebed deur die koning self geopen. Daarna het die Leviet Jagasiël seun van Sagaria opgestaan en geprofeteer dat die Here self die bedreiging sal afweer. “Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie ’n saak vir julle nie, maar vir God,” het hy gesê.
Die verrigtinge is met ’n dankgebed afgesluit, waarna die hele vergadering onder leiding van die Levitiese koor ’n magtige loflied tot eer van God gesing het.
Die koninklike leër, vergesel van die Levitiese tempelsangers, sal môre die aanvalsmagte tegemoet trek.
- Lees hiervan, en die ongelooflike uitkoms wat die Here bewerk het, in 2 Kron. 20:1-30.
By God is daar hoop
Josafat en Gideon het iets begryp waarmee ons vandag dikwels groot probleme het: dat God anders is as ons. Dat Hy almagtig is. Dat Hy dinge kan doen ver bo wat ons ooit kan bid of dink (vgl. Ef. 3:20).
O ja, ons bely dit ook. En ons glo dit selfs. Maar leef ons dit? Is ons nie maar alte dikwels soos die boer wat vir die dominee gesê het hulle kan maar ’n biddag vir reën hou as die dominee daarop aandring, maar hy wil maar net sê: dit sal nie help solank die wind wes waai nie. Daarom beperk ons God se hulp tot dít wat volgens ons menslike berekeninge haalbaar is. Ons bid by die siekbed, ons bid vir vrede en versoening – ons bid, maar in ons agterkop het ons eintlik klaar besluit: daar is nie eintlik meer hoop nie. Ons bid vir die korona-pandemie, maar meen nie dat ‘n bo-natuurlike oplossing sal kom nie.
As Josafat en Gideon so geredeneer het, was hulle en hulle mense verlore. By God is daar altyd hoop!
Eks. 15:11 sê: “Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!”
Glo jy dit? Leef jy dit?