Van ons militêre korrespondent

WAARSÊERSHOOGTE. – Die Midianiete, wat gister nog die gek geskeer het met die Israeliete, is nou glad nie meer so seker van hulle saak nie. Die bravade waarmee hulle die manewales in die Israelitiese laer gade geslaan het, het die afgelope paar uur verdwyn.

Die ommeswaai het gekom toe dit hier bekend geword het dat Gideon op bevel van sy God sy manskappe tot slegs driehonderd verminder het. “Ons sien kans vir dertig- of selfs honderdduisend Israeliete. Maar ons sien nie kans om teen hulle God te veg nie,” het een van die soldate bekommerd opgemerk.

Om die soldate te kalmeer, het koning Sebag hulle laat vanmiddag toe gespreek. Hy het gesê dis net natuurlik dat hulle onseker voel. Dit hoort so voor ’n geveg, het hy sy troepe gerus gestel. Hy het hulle opdrag gegee om môre-oggend teen eerste lig gereed te wees vir die aanval. “Ons sal daardie nar Gideon en sy bende opfrommel voor die son behoorlik op is,” het hy die manne verseker.

 

Koning Ussia ongesteld

JERUSALEM. – Die koning se sekretaris het gister hier ’n persverklaring vrygestel waarin bevestig word dat koning Ussia ongesteld is. Die aard van sy siekte word egter nie vermeld nie, maar allerweë word vermoed dat hy melaats is. Tot tyd en wyl sy gesondheid sodanig verbeter dat hy sy ampspligte kan hervat, sal sy seun Jotam as regent waarneem.

Die verklaring is ’n bevestiging van gerugte wat al geruime tyd in omloop is dat die koning nie gesond is nie. Die laaste keer dat hy in die openbaar verskyn het, was toe hy in die tempel wierookoffers wou bring. Daar was destyds nogal ’n taamlike kabaal in die tempel, aangesien die priester Asarja, vergesel van tagtig priestersoldate, probeer keer het dat hy die offer bring. Die koning was glo briesend en het ’n hele paar onvleiende dinge teenoor die priester kwytgeraak. Van die priestersoldate wat teenwoordig was, beweer dat melaatsheid toe op sy voorkop uitgebreek het.

Hoewel die paleis tot nog toe nie hierdie bewerings wou bevestig nie, het die koning sedertdien nog nie weer in die openbaar verskyn nie. Die jongste verwikkelinge dui daarop dat die koning wel melaats is.

  • Lees die tragiese verhaal van dié briljante koning in 2 Kron. 26.

 

IS JOHANNES DALK DIE EEN WAT SOU KOM?

BETANIË. – Hardnekkige gerugte bly die ronde doen dat Johannes seun van Sagaria, ook bekend as “Die Doper”, die beloofde Messias is, en dit in weerwil van talle uitdruklike ontkennings deur Johannes self.

Johannes is al vir ’n geruime tyd besig om met kragtige prediking die Godsvolk tot bekering op te roep. As teken van hulle berou laat die mense hulle ook deur hom in die Jordaan doop; vandaar sy bynaam. Talle mense stroom uit Jerusalem en omstreke om na hom te luister waar hy met kenmerkende profetegewaad optree.

Johannes sê hy is maar net ’n wegbereider vir die Messias wat aan die kom is. Hy verwag dan ook dat die Messias binnekort sal begin optree.

 


Hoogmoed vs. nederige ootmoed

Een van die groot versoekings is hoogmoed. Hoogmoed maak dat jy meer van jouself dink as wat paslik is. Dit is dan dat jy ophou om in ootmoed voor die grote God te lewe.

Dit was die groot sonde van koning Ussia. Dat hy inderdaad ’n besondere koning was, is nie te betwyfel nie. Trouens, die Bybel rits sy prestasies die een na die ander af, en kom tot die slotsom: “Sy roem het wyd gestrek … en hy het ’n magtige man geword” (2 Kron. 26:15). Ongelukkig kon hy nie sy roem hanteer nie, en het hy gedink hy staan bokant die reëls wat vir gewone mense geld, selfs al kom dié reëls van God self.

In skrille kontras hiermee staan Johannes die Doper, wat tot die einde toe volhou dat sy enigste grootheid daarin staan dat hy die weg na die Messias mag aanwys. Sy grootste vreugde is as Christus meer word en hy minder (vgl. Joh. 3:30).

Iets van hierdie nederige ootmoed merk ons ook by Gideon. Agter sy grootpraterige maniere skuil daar ’n man wat nie sy krag en moed in sy eie prestasies soek nie, maar volledig op God steun. En hierin kom God hom telkens te hulp met tekens om sy geloof te versterk.

In Sef. 3:12, waar die Here sy oordeel oor sy volk aankondig, sê Hy: “Ek sal in jou laat oorbly net dié wat nederig en ootmoedig is en vertrou op die Naam van die Here.”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.