Bybelkoerant gesels met Moses oor die eerste vyf boeke van die Bybel
Naam van boeke: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium, ook genoem Pentateug
Skrywer: Onbekend. Groot dele gaan waarskynlik terug na Moses, maar dit het oor jare talle medewerkers gehad totdat dit uiteindelik in sy huidige vorm gegiet is, waarskynlik in die tyd van die Babiloniese Ballingskap.
Doel: Die boeke lê die grondslag vir die geloof in ’n enige God wat alles gemaak het. Hy het ’n volk vir Hom op aarde gekies, en die boeke wil dié volk leer hoe om voor Hom en met mekaar te leef.
Daar is ’n kalmte, ’n innerlike krag wat hom omgewe. Dit is die eerste indruk wat ek kry toe ek met die legendariese leier van die Israelitiese slawe-volk kennis maak. Hy is nie meer jonk nie – honderd en twintig, sê hy met ’n skewe glimlag – maar sy gees is nog dié van ’n man in sy fleur, en sy oë kyk skerp en helder.
Hy hou sy hande afwysend op toe ek van sy vyf boeke praat. “Waarvan praat jy tog, ou seun?” lag hy. “Ek het nie vyf boeke geskryf nie.”
“Dis tog hoe ons oor hierdie boeke dink,” verdedig ek my aanname.
Nie die skrywer nie
Moses skud sy kop beskeie terwyl hy deur die boeke blaai wat ek saamgebring het. “Ek wil nie ontken dat ek ’n aandeel aan hierdie geskrifte gehad het nie. Ek het ’n klompie wette opgeteken soos die Here God dit aan my voorgeskryf het, dit is so. Jy moet darem onthou, ek is een van die min mense hier rond wat kan lees en skryf omdat ek in die paleis in Egipte skoolgegaan het terwyl my volksgenote slawe-arbeid moes verrig. En om dié klomp slawe te organiseer tot ’n nasie hét meer as net ’n wet of twee vereis.
… om dié klomp slawe te organiseer tot ’n nasie hét meer as net ’n wet of twee vereis,
Ek was in die posisie om baie riglyne neer te lê oor gesonde kos en buurmanskap en sulke dinge, bo en behalwe die wette wat God vir ons gegee het. En ek moes riglyne gee vir hoe om die diens by die tabernakel in te rig. Daarmee het my broer Aäron – hy was ons eerste hoofpriester – my natuurlik baie gehelp.
En verder het ek ook noukeurig dagboek gehou van ons wedervarings in die woestyn. So jy kan seker sê die meeste van die goed wat in hierdie tweede boek staan – ek sien julle noem dit Eksodus – nogal ’n gepaste naam, moet ek sê – kom van my af. En die toesprake in die vyfde boek is ook ’n goeie opsomming van my afskeidswoorde aan my mense nou die anderdag.
Maar vat nou maar hierdie eerste boek, Genesis. Dis verhale wat ek as kind gehoor het; verhale wat my ma my vertel het soos sy dit weer by háár ouers gehoor het. Ek het hier en daar van dié verhale neergeskryf sodat dit vir die nageslag behoue kan bly, maar dit maak my tog nie die skrywer van die verhale nie. En dan hierdie vierde boek wat so wemel van sensus-getalle; ek sien hier is ook ’n paar dinge in opgeteken soos dit uit my dagboek gehaal is. Maar die meeste van die goed wat hier staan, het ek nie geskryf nie.”
Nederig
“Ek het nogal daaroor gewonder,” gee ek toe. “Ek kon nie verstaan hoe u byvoorbeeld hierdie woorde oor uself sou neerskryf nie: Moses was ’n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde.”
Hy skud sy kop. “Ek sal bly wees as mense dít van my onthou, maar dis darem nie regtig waar nie, ou seun. Ek was by tye darem goed omgekrap oor my mense so dwars foeter. Dis dié dat ek bly is die goed staan nou opgeteken, dat die nageslag kan sien hoe verkeerd dinge kan loop as jy nie naby die Here leef en Hom elke dag gehoorsaam en vertrou nie. Ek bedoel, ons gebrek aan vertroue in God het ons veertig jaar van rondswerf in die woestyn gekos. Ek wens dit my grootste vyande nie toe nie.”
Beloofde land
“Maar nou staan julle op die drumpel van die beloofde land.”
“Ja. Maar ek sal nie die land ingaan nie. Ek is oud. Ek het my beurt gehad. Nou moet die jongmanne oorneem, soos Josua seun van Nun.”
“Dis seker vir u ’n groot teleurstelling dat u nie die intog sal meemaak nie.”
Hy kry ’n veraf kyk in die oë, en knik dan. “Ek sal jok as ek sê dit is nie. Maar God maak nie foute nie, en ek het dit so aanvaar.”
God se hartklop
Toe ek opstaan om te gaan, hou hy my terug. “Ek wil jou ’n guns vra, ou seun. As jy nou skrywe vir jou mense, pleit tog by hulle om hierdie boeke te lees. Sê vir hulle dis nie mý boeke of die mense wat ná my daaraan gewerk het, s’n nie. Sê vir hulle dis God se boeke. As hulle dit lees, sal hulle daarin God se hartklop vir sy mense hoor, sy oneindige geduld en liefde vir ons. Sê tog hulle moenie ophou lees voordat hulle nie dít gehoor het nie. Sal jy dit skryf, asseblief?”