Van ons Ou Testament redaksie

EN-GAROD. – Israel het gister hier teen alle verwagting in daarin geslaag om die magtige leër van Midian te verpletter. Nie minder nie as 120 000 Midianiete het in die geveg omgekom. Onder die gesneuweldes tel ook die Midianitiese generaals Oreb en Seëb.

Teen druktyd was die argitek van die oorwinning, genl. Gideon die Abiësriet, warm op die spoor van die twee Midianitiese konings, Sebag en Salmunna, wat met 15 000 van hulle elite-troepe die Israelse magte ontwyk het. Sover vasgestel kan word, het hulle gistermiddag die Jordaan oorgesteek en ooswaarts gevlug in die rigting van Karkor.

Militêre kenners beskryf die oorwinning as “ongelooflik” en “die verrassing van die eeu”. Genl. Gideon is egter baie beslis daaroor dat sy eie aandeel aan die oorwinning baie gering is. “Die oorwinning is die Here s’n, nie myne nie,” het die beskeie held gesê in die paar minute wat hy kon afknyp om Bybelkoerant te woord te staan.

Die geveg het begin toe genl. Gideon en sy driehonderd uitgesoekte manne in die nag die Midianitiese kamp omsingel het, gewapen met ramshorings, kruike en fakkels. Op ’n teken van die generaal het almal gelyk hulle kruike gebreek, die fakkels geswaai, op die ramshorings geblaas en uit volle bors geskreeu: “Vir die Here en vir Gideon!” Die Midianiete het op die vlug gestaan, en in die deurmekaarspul mekaar begin aanval en uitgewis. Toe het Gideon sy volksgenote opgeroep om te kom help. Hulle het die Jordaandriwwe afgesny en sodoende gekeer dat die Midianiete kan ontvlug. Slegs die twee konings met die koninklike wag het daarin geslaag om weg te kom.

  • Lees van die merkwaardige oorwinning, en die reaksie van die Efraimiete, in Rig. 7:16-25 en 8:1-3.

 

Eerste wyn ná vloedramp gepars

ARARAT. – Die enigste oorlewendes van die ongelooflike vloedramp van enkele jare gelede het gister nog ’n mylpaal bereik toe die eerste wyn na die ramp gemaak is.

Om die geleentheid te vier, het die wynmaker en vader van die pioniers-groepie, Noag seun van Lameg, al sy mense na ’n fees uitgenooi. Die fees sal die hele week duur.

 

JOODSE SEKTE BESTENDIG, DOG KRY ORAL WIND VAN VOOR

Van ons Nuwe Testament redaksie

ATENE. – ’n Joodse sekte wat in die volksmond die bynaam “Christene” gekry het, kry oral sterk teenkanting van die kant van tradisionele Joodse gelowiges.

Die jongste van ’n reeks voorvalle waarin die Joodse gemeenskap skerp teen aanhangers van die sekte gereageer het, was in Berea. Talle Jode en ook Grieke het hulle daar by die sekte aangesluit nadat ’n vooraanstaande Joodse rabbi en bekeerling tot die Christendom, ene Paulus van Tarsus, daar begin preek het. Toe ontstoke Jode van Tessalonika egter in Berea ’n veldtog teen die Christene gaan voer het, het Paulus inderhaas die stad verlaat.

Hy het gister hier in Atene aangekom en beplan om die “goeie nuus”, soos hy dit stel, ook aan die Ateners te bring.

 


Van die begin af was dit so: die duiwel hou net nooit op om God se werk te probeer verongeluk nie. Daarby is sy arsenaal nogal uitgebreid: Deur drankmisbruik en ’n gebrek aan respek word Noag se gesin uitmekaar geskeur. Ywer vir hulle godsdiens bring die Jode telkens in botsing met Paulus, sodat hy moet vlug. En wanneer God ’n magtige oorwinning vir sy volk bewerk, dryf jaloesie die Efraimiete daartoe om teen Gideon te draai.

As jy, soos Noag en Gideon en Paulus, naby die Here leef en ’n werktuig in sy hand is, kan jy verwag dat die duiwel ook vir jou nie sal uitlos nie. Wees dus op jou hoede. Hy kom in menige gedaantes: soms soos ’n brullende leeu (1 Pet. 5:8), soms soos ’n engel van die lig (2 Kor. 11:14). Die gevolge as jy in sy strik trap, is egter in elke geval dieselfde: sonde wat stukkend breek.

Soek daarom jou krag in die Here en in sy groot mag (Ef. 6:10-18). Ook vir vandag.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.