Bybelkoerant gesels met die apostel Paulus oor sy heel eerste brief
Skrywer: Paulus van Tarsus
Eerste lesers: die gemeentes in Galasië wat gestig is met Paulus se eerste sendingreis, nl. Antiogië-in-Psidië, Ikonium, Listra en Derbe
Doel van die brief: om die dwaalleer dat jy ’n Jood moet word voor jy by die kerk kan aansluit, af te wys
Ontstaanstyd en -plek: geskryf in Antiogië, in die herfs van 49 nC, tussen Paulus se eerste en tweede sendingreis
Ek kry hom by sy huis in Antiogië, waar hy kruisbeen vooroor gebuig sit en werk aan ’n stuk tentdoek, die ene konsentrasie. Talle vars, opgehewe littekens ontsier sy groot pankop. Toe ek keel skoonmaak, kyk hy verbaas op en glimlag dan; ’n hartlike glimlag wat sy hele gesig laat straal. “Sjalom! Jy moet die man van Bybelkoerant wees,” groet hy en vryf selfbewus oor sy pan. “Verskoon maar hoe ek lyk. Die Jode het my met klippe toegetakel in Listra. Maar die Here het my bewaar.”
“Dis mos onder andere aan die mense van Listra wat u hierdie brief geskryf het,” sê-vra ek en hou ’n afskrif van die brief na hom toe uit.
Sy oë gly oor die brief. “Sjoe! Ek het my nogal sterk uitgedruk, nè,” glimlag hy effens verleë. “Maar dit was nodig.” Sy gesig word intens as hy begin verduidelik: “Ek en my kollega Barnabas het verlede jaar deur Galasië gereis en die evangelie aan die mense gebring. Die Here was goed, en ons kon ’n hele paar gemeentes daar stig. Die vreugde van die mense as hulle ontdek dat God hulle liefhet en dat Christus ook vir húlle gekom het – ag, my liewe broer, jy moes daar gewees het! Dis ’n wonder van Bo! Mense wat uit die duisternis van die heidendom tot die ewige lig geruk word. Ek is so dankbaar ek kon dit beleef.
“In elk geval, ons het teruggekeer en kom verslag doen oor hoe dit gegaan het. Dit was tog die gemeente hier wat ons uitgestuur en vir ons werk gebid het. En toe, seker so ’n maand of wat gelede, kom Timoteus hier aan. Hy is ook een van die bekeerlinge van Listra. Dierbare kind, met ma en ouma en al. En hy sê toe vir my hulle is heeltemal verward, want nadat ons daar weg is, het daar manne van Jerusalem af gekom en vir hulle ’n heeltemal ander storie vertel as wat ons vir hulle geleer het. Hulle het gesê alles wat ons hulle geleer het, is reg.” Hy glimlag wrang. “Ek sou so dink! Ek het dit dan self vir hulle verkondig. Maar toe gaan staan en sê hierdie manne ons het vergeet om te vertel van die besnydenis. En nou wil die Galasiërs hulle laat besny sodat hulle ook regte egte gelowiges kan wees. Kan jy dit glo?”
Dit gaan oor die vraag: Wie is die Here Jesus vir jou?
Hy spring op, van voor af ontsteld, en loop heen en weer in die klein vertrekkie terwyl hy armswaaiend verduidelik: “Ek moet seker nie vir hulle kwaad wees nie, want hulle is nog kinders in die geloof. Hulle het nog nie genoeg onderskeidingsvermoë om deur die leuens te sien nie. Maar ek was woedend vir die manne van Jerusalem, en diep ontsteld toe ek dit gehoor het. Want dit gaan nie maar net oor besny of nie besny nie. As dit maar so eenvoudig was! Maar dit gaan nie daaroor nie. Dit gaan oor die vraag: Wie is die Here Jesus vir jou? Wat het Hy kom doen? Die evangelie, die goeie nuus, is tog dat Hy ons kom verlos het van die wet! Daarom hoef ons, nee, mág ons nie meer op die wet staat maak om in God se goeie boekies te kom nie. Christus het dit in ons plek gedoen, volledig en finaal. Hy het God se vryspraak vir ons verdien. Ons hoef dit nie te verdien met ons danige wetsonderhouding nie. Ons is vry! Natuurlik nie vry om sonde te doen nie, want dan bind die sonde jou tog. Maar vry om vir God te lewe.”
Hy skud sy kop en kom weer sit. “Dít het die Galasiërs nie verstaan nie. Toe skryf ek vir hulle en sê: Daar is nie ’n ander evangelie as die een wat ek vir hulle gebring het nie. As hulle hulle laat besny, trek hulle ’n streep deur alles wat Christus vir hulle gedoen het. Want as jy by God kon uitkom met jou eie wetsonderhouding het Christus mos verniet gesterwe, nie waar nie?”
Hy trek sy skouers op en glimlag skamerig. “Dis maar al wat ek vir hulle duidelik wou maak, my broer.” Dan word hy skielik weer ernstig: “Sê dit tog vir jou lesers ook. Daar is nie ’n ander pad na God toe as deur die vloekhout van Golgota nie. Daar is nie ’n ander evangelie nie!”
Mensig, Jaco, jy het darem hiedie wonderlike aanvoeling om teologie met gevoel aan te bied vir die mens van die dag. Ek is vies vir myself dat ek nie gestruktureerd ELKE DAG jou stukkies lees nie, want as ek dit doen, soos vanoggend, is ek weer opnuut geraak – deur die teologie, … en jou styl! Geluk, dankie, en groete vanuit “gevangeneskap”. C
Dankie, Carel. Wat ‘n voorreg om só met die Woord besig te kan wees.