Hemelvaart, die herdenking van die gebeurtenis toe Jesus opgevaar het hemel toe – wat beteken dit in die praktyk? Coenie Burger het ’n hele boek oor dié vraag geskryf, met die titel: “Waar is Jesus nou?” Want beteken Jesus se hemelvaart dan dat Hy gaan aftree het in die hemel nadat Hy sy aardse taak afgehandel het? Jy sal aanvoel dat dit nie heeltemal so kan wees nie. Maar tog is Hy weg hemel toe. Wat het Hy daar gaan maak? Of was dit maar net logies dat Hy sou terugkeer na sy ewige woning?
Die eerste ding waaraan ek dink as ek aan Jesus se hemelvaart dink, is dat dit sy troonsbestyging was. Met sy hemelvaart het Hy sy regmatige plek aan die regterhand van die Vader ingeneem, in die posisie van mag, om oor sy kerk, oor jou en my, te regeer. Hy is immers ons koning, en dís wat Hy nou doen: Hy regeer, Hy beskerm, Hy waak oor sy kerk (Ef 1:20-23). Terloops, dit is onder andere die rede waarom daar so ’n groot verskil tussen die kerk van die Ou Testamentiese bedeling en die kerk van die Nuwe Testament is. Die Ou Testamentiese Godsvolk was ’n sukkelende instelling. Dink maar aan die Ou Testamentiese verhaal: dis ’n treurige verhaal van mislukking, totdat die Godsvolk later ’n onbeduidende deeltjie van die Romeinse Ryk uitgemaak het teen die tyd dat Jesus gebore is. Maar skielik, ná Jesus se hemelvaart, begin die kerk groei. Binne die eerste drie eeue ná Jesus se hemelvaart was feitlik die hele destydse wêreld Christene. Hoekom? Omdat Jesus as Koning sy kerk bewaar en opgepas en beskerm en gelei het!
Dit het Hy natuurlik gedoen, onder andere deur sy Gees aan die kerk te gee. Daarom kan ons nie hemelvaart en Pinkster los van mekaar bedink nie. Christus regeer sy kerk deur sy Woord en deur sy Gees, het ons nog altyd bely. Daarom het Jesus belowe, voor Hy hemel toe is, dat Hy sy dissipels nie wees agterlaat nie (Joh 14:18). En deur sy Gees is Hy natuurlik steeds hier teenwoordig, al is Hy na sy liggaam in die hemel. Hy het ons immers in Matt 18:20 verseker: “Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek in hulle midde.”
Maar Jesus is nie net aan die Vader se regterhand om te regeer nie. Hy is ook daar om vir sy dissipels in te tree en te pleit (Rom 8:34). Want Hy weet wat dit is om mens te wees, om emosies te hê, om versoekings te moet deurstaan; Hy is immers nie net Seun van God nie, maar ook Jesus, die mens, gebore uit ’n vrou. En daarom kan Hy as ons oudste Broer vir ons met begrip en deernis pleit en intree, daar aan die regterhand van die Vader.
Ons het ’n Broer in die hemel! Jesus is daar; ’n mens. Daar is ’n mens in die hemel, en dit is ons waarborg dat ons ook daar sal kan kom. Die hemel is nie net ’n plek vir God en sy engele nie. Dis ook ’n plek vir God se mense. Dit bewys Jesus se hemelvaart. En het Hy nie gesê (Joh 14:2) daar is baie plek in die huis van sy Vader nie? En dat Hy vir ons gaan plek berei nie?
Views: 103