God se beplanning is perfek, en daarom moet ons ook besef dat die keuse vir wanneer Hy sy Gees na die kerk gestuur het, besondere betekenis het. Net soos dit baie insiggewend is dat Jesus juis tydens die Paasfees gekruisig is. Die Paasfees was die fees waarin die Jode hulle verlossing uit Egipte gevier het, o.a. deur die slag van die paaslam, en nou sterf Jesus juis op dié fees, want Hy is God se Paaslam, geslag om ons te verlos.
Net so is die uitstorting van die Heilige Gees op ’n besonder dag: op Pinksterdag. Dit was ook een van die groot Joodse feesdae (saam met Paasfees en die Huttefees). Pinksterfees was ’n oesfees. Dit was ’n vrolike fees waarin God gedank is vir die oes, en God geëer is as die Gewer van alle goeie dinge. Nou kom die Heilige Gees juis op die oesfees. God gee die grootste van alle gawes aan sy kerk: die Heilige Gees. En met sy koms word die eerste oes van gelowiges vir God se koninkryk ingesamel. Lukas sê op daardie eerste Pinksterfees is omtrent 3000 mense by die getal gelowiges gevoeg en gedoop.
Kom ons gaan in die gees terug na daardie eerste Pinksterdag. Al die gelowiges is bymekaar vir die verrigtinge, waarskynlik in die Pilaargang van Salomo op die tempelplein, waar Jesus dikwels sy volgelinge geleer het. Ek skat hulle was redelik stil en bedees, want dieselfde mense wat nog nie twee maande tevore nie “Kruisig Hom!” geskreeu het, was ook daar. Wie weet of hulle nie die volgende slagoffers sal wees nie?
En toe gebeur dit. Hulle hoor hierdie geluid van ’n geweldige stormwind wat die hele pilaargang vul, en sien die vuurbal wat afkom en verdeel en op elkeen kom. Die Heilige Gees het na die kerk gekom, na God se kinders, om in hulle te woon.
Die heel eerste ding wat met die gelowiges gebeur het toe die Heilige Gees hulle vervul het, was dat hulle opgewonde begin praat oor – God! Ons lees in vers 11 dat die ander mense sê: “… ons hoor hulle … praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”
Ek wonder dikwels hoekom ons so skroom om oor God te praat. Dit is sekerlik deel van ons Afrikaner-kultuur en veral ons NG kultuur, hierdie streep terughoudendheid oor ons geloof. Maar ek wonder ook of een van die redes nie dalk is dat ons nie vervul is met die Heilige Gees nie. As Hy jou lewe oorneem, kan jy amper nie stilbly nie. Soos Petrus en Johannes later (Hand 4:20) vir die Joodse Raad sê: “Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”
Ons kon ongelukkig nie die hele hoofstuk vanoggend lees nie, maar gaan kyk gerus na die res van Petrus se toespraak. Daar kry ons ’n beter idee wat dit is waaroor hulle nie uitgepraat kon raak nie, of liewer: Wie dit is waaroor hulle so praat. Dit is natuurlik Jesus, wat hulle Here en Christus is (vers 36).
Dit is merkwaardig. Onthou, dit is Pinksterdag. Die gebeurtenis is die koms van die Gees van God na die kerk, en Hy kom met allerhande tekens. Maar dís nie die hoofpunt van Petrus se preek nie. Sy hoofpunt is Jesus. Want, so het Jesus mos al vooraf gesê, wanneer die Gees kom, sal Hy nie oor Homself praat nie, maar Hy kom om Jesus te verheerlik (Joh 16:14). Om Jesus Heer te laat wees in mense se lewens. Om ons te rig op Jesus, te laat praat oor Jesus, te laat word soos Jesus.
Dis wat daardie dag gebeur het. Die beteuterde groepie gelowiges, wat kort tevore nog agter geslote deure vergader het van bangheid, is skielik só vol van Jesus se lof dat hulle nie kan stilbly nie. Later, as Paulus oor die werk van die Gees skryf en probeer saamvat wat met ’n mens gebeur wat vervul is met die Gees (hy noem dit in Gal 5:22-23 die vrug van die Gees) beskryf hy eintlik in ’n paar woorde vir Jesus (en luister of julle Jesus in hierdie woorde herken): liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, selfbeheersing.
Die Heilige Gees kom om Jesus te verheerlik. Daarom praat mense oor Jesus as hulle vervul is deur die Gees, en word hulle soos Jesus. Hy doen dit ook in jou en my lewe! Dít is die evangelie, die goeie nuus van Pinkster.
Halleluja!