OFRA. – Dit was ’n glansgeleentheid vir die stad toe die goue efodbeeld wat Gideon seun van Joas laat maak het, gistermiddag hier onthul is. Hooggeplaastes uit al die stamme van Israel het die geleentheid kom bywoon.

Gideon het die efodbeeld laat maak uit sy aanvoerdersdeel van die buit wat hulle gemaak het in die onlangse oorlog teen Midian.

Die verrigtinge het gistermiddag begin met ’n verwelkomingswoord deur die burgemeester van Ofra, raadslid Elimelek seun van Mattan. Hy het gesê Ofra wil met dié seremonie hulde bring aan een van sy grootste seuns. Die stam Benjamin is wel nie die grootste of sterkste stam in Israel nie, maar die oorlog teen Midian bewys dat die Benjaminiete beslis die dapperste is, het hy gesê. Hy het Gideon bedank omdat hy uiteindelik Ofra op die kaart geplaas het.

Toe hy die beeld onthul het, het Gideon gesê hy het die beeld laat maak ter herinnering aan die ongelooflike oorwinning wat die Here teen Midian bewerk het. “Ek wou hê ons moet iets tasbaars hê om ons en ons nageslag voortdurend daaraan te herinner dat die oorwinning aan die Here behoort. Dit is Hy wat Midian verslaan het, nie ons nie,” het die beskeie aanvoerder gesê. Hy het bygevoeg dat hulle met behulp van die efodbeeld die Here nou ook in Ofra sal kan raadpleeg. “Dit kan baie vir ons stad en sy mense beteken,” het hy gesê.

Godsdienskenners met wie Bybelkoerant gepraat het, is nie so seker dat die efodbeeld ’n goeie idee is nie. Hulle sê dit is veelseggend dat hoëpriester Sagaria van Silo nie die verrigtinge bygewoon het nie, ten spyte daarvan dat hy gevra is om die onthulling van die beeld te behartig. “Silo is die plek waar die ark van die Here staan, en dit is daarheen dat die volk in die verlede gegaan het om die Here te raadpleeg. Dit is ook waar ons hoëpriester is. Met hierdie efod beeld in Ofra kan dit geestelike verdeeldheid onder ons mense bring,” het een opgemerk.

 

KONING HISKIA SE HERVORMING: OOK KOPERSLANG BLY IN SLAG

JERUSALEM. – Die godsdienstige hervormings wat die jong koning Hiskia verlede maand begin het, het gister heftige reaksie uitgelok toe hy opdrag gegee het dat die koperslang van Moses ook vernietig moet word.

Die koperslang, ook Negustan genoem, word allerweë as een van die belangrikste godsdienstige erfenisse in Juda beskou. Slegs die tempel self, en die verbondsark van God met die Tien Gebooie daarin, het meer godsdienstige waarde. Die koperslang is nog deur die groot leier Moses self gemaak op bevel van God toe giftige slange die volk in die woestyn aangeval het. Diegene wat na die koperslang gekyk het, het nie van die slangbyte gesterf nie.

Ou inwoners van Jerusalem is woedend omdat dié kosbare erfstuk nou vernietig gaan word. “Hoe kan ons so ’n heilige voorwerp tot niet maak? God self het tog vir Moses beveel om dit te maak!” het ’n ontstoke man opgemerk. Hy het gedreig dat hy en ’n klomp ander gegriefdes vandag die koninklike kopersmidswinkel gaan beset.

Die koning se perssekretaris het by navraag bevestig dat die slang vanmiddag vernietig sal word. Die koninklike kopersmid het opdrag gekry om dit met ’n hamer stukkend te slaan en dan op te smelt.

 


Afgodsfabrieke

Die hervormer Johannes Calvyn het al gesê die mens is ‘n afgodsfabriek.

Afgodsdiens is om iets wat nie bedoel is om ’n god te wees nie, te verhef tot ’n vlak waar dit begin meeding met die plek wat God alleen in jou lewe behoort in te neem. Dit hoef nie eers iets verkeerds te wees nie. Trouens, meestal is die afgode in ons lewe juis nié verkeerde goed nie, maar mooi dinge, gawes van die Here aan ons. In ons sondige hande word dit dan misbruik en word dit ’n afgod, lynreg teen die oorspronklike bedoeling in.

Enige iets kan ’n afgod word. Gideon se efodbeeld is bedoel om die volk te help om God se wil te verstaan. Die efod was deel van die priester se gereedskap om God se wil bekend te kan maak. Só gewild was hierdie efodbeeld egter dat dit die volk van Silo weggelok het. Die beeld, en nie meer God nie, het nou die voorwerp van aanbidding geword. Dieselfde het gebeur met die koperslang van Moses. In plaas daarvan dat dit net ’n herinnering was van God se verlossing in die woestyn, begin die mense dit aanbid en offers daarvoor bring.

Vandag lyk ons afgode anders, maar dit verdring God se plek in ons lewe net so effektief: sport, politiek, geld, populariteit, vriende. As dit jou in jou onverdeelde navolg van die Here Jesus hinder, is daar net een antwoord: doen afstand van dié afgod.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.