Wat maak dié kort briefie in erg persoonlike trant in die Bybel? En dan is die agtergrond van die brief boonop die wêreld van slawerny – ’n onderwerp wat sedertdien ’n soort vloekwoord in die Westerse wêreld geword het – sonder om dit te veroordeel. In plaas daarvan vra Paulus dat die slaaf weer in diens geneem word.

Bybelkoerant praat met Paulus oor sy kortste brief

Skrywer: Paulus
Doel van die brief: om Filemon, ’n slawe-eienaar, te oortuig om sy weggeloopte slaaf terug te neem
Ontstaanstyd: ongeveer 62 nC
Ontstaansplek: Rome, waar Paulus in huisarres is

“Kom, Tertius!” por Paulus die soldaat aan wie hy met ’n ketting vasgeboei is, goedig-ongeduldig aan. “Ons kan nie die man die hele dag laat wag nie.” Hy lig die ketting apologeties op as hy by my in die binnehof kom. “Jammer hieroor, maar dis nou maar een van die goed waaraan ’n mens gewoond moet raak.” Hy glimlag in die rigting van Tertius as hy vervolg: “Ek kla nie, hoor, ek kla glad nie, want ek is nie net aan die liewe Tertius vas nie. Hy is ook aan my vas, en nou moet hy na alles luister wat ek kwytraak. Of hoe, my liewe oppasser?”

Tertius knik gewigtig. “Dit is so, meneer Paulus. En dis vir my ’n voorreg om na u te luister. Ek wens ek kon die boeie afhaal om dit vir u makliker te maak, maar dan is die leeus in die Kolosseum sekerlik my voorland.”

Toe Paulus die doel van my besoek hoor, val sy gesig. “Ag nee! Onesimus is seker nie meer as ’n week gelede nie saam met Tigikus hier weg met die brief, terug na sy baas in Kolosse. Dat jy hom nou moes misloop. Hy is ’n dierbare mens, glo my. Nie dat hy altyd een was nie, hoor. ’n Deugniet as jy al ooit een gesien het.” Hy glimlag en trek sy skouers op. “Maar so maak die evangelie mos maar met ’n mens: dit verander jou, my broer. Die Here vat jou soos jy is, krom en skeef en dwars. Maar as Hy jou eers beet het, werk Hy met jou, want Hy gaan jou nie los soos jy is nie. Onesimus het so verander dat ek hom teruggestuur het na sy baas toe. Ek was spyt om hom te verloor, want ek het lief geword vir die kêrel, maar daar het goed tussen hom en Filemon gebeur wat nie so kan bly nie. Hy moet gaan regmaak wat hy verbrou het.”

Is dit nie wreed om hom terug te stuur na ’n lewe van slawerny nie?

“Nee, glad nie. Jy moet onthou dat Filemon ’n gelowige is, en ek het die volste vertroue dat hy Onesimus goed sal behandel. Buitendien, Onesimus is Filemon se eiendom, en daarom móét hy terug. Dis die wet.”

Maar hoekom spreek hy hom nie uit teen slawerny nie? Dit kan tog nie wees dat hy daarmee gelukkig is nie?

Paulus skud sy kop. “Dis nie ons plek om die samelewing op sy kop te keer nie, my broer. Buitendien, in die kerk maak dit nie saak of jy ’n slaaf of ’n baas is nie. Onesimus en sy baas Filemon is broers in die Here, en dít moet hulle verhouding bepaal. Dís wat ek vir Filemon geskryf het. Hy moet só teenoor sy slaaf optree dat Onesimus die Here in hom sal sien, en Onesimus moet op sy beurt weer so voor sy baas leef dat die liefde van die Here Jesus sy optrede sal bepaal.

“Jy sien, my broer, ek stel my nie op teen allerhande gebruike in die samelewing nie. Ek glo eendag sal die evangelie wel mense beweeg om nuut te dink oor slawerny, maar my standpunt is dat ’n gelowige tevrede moet wees met sy omstandighede. Jy kan op enige plek en in enige omstandigheid die liefde van die Here uitleef en ’n getuie vir Hom wees.” Hy ratel die ketting wat hom aan die soldaat verbind. “Of wat praat ek alles, Tertius?”

image_pdfimage_print

Views: 14

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.