Ons ken almal die verhaal van Paulus se bekering; hoe die Here hom letterlik in sy spore gestuit het sodat hy soos ’n os daar in die pad neergeslaan het.
Op dié punt wil ek maar net weer sê: Jy kan nie as gelowige in hierdie wêreld volhou en staande bly as jy nie die Here self ontmoet het nie. Hoorsê gaan jou nie deurhelp as die twyfelvrae en die wonder oor alles na jou toe kom nie, en glo my, dit gaan kom. Ons word van alle kante gebombardeer met dié soort versoekings en vrae. As jy dan nie die Here as persoonlike Verlosser ken en ontmoet het nie, gaan jy sukkel.
Maar dis nie soseer by Paulus se bekering wat ek vanoggend wil stilstaan nie. Ek wil hê ons moet ons vir ’n oomblik in Ananias se skoene plaas.
Ons weet nie wat Ananias se verhaal is nie. Was hy een van die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het toe die vervolging uitgebreek het? Dit lyk nie so uit die manier waarop hy aan ons bekend gestel word nie. Dalk het hy in Damaskus by een van die vlugtelinge van Jesus gehoor; of dalk was hy op Pinksterdag in Jerusalem en het hy daar gelowig geword en toe na Damaskus teruggekeer. Maar dis nie so belangrik nie. Belangrik is dat Ananias geglo het hy is veilig in Damaskus, uit die spervuur.
Maar toe verander alles. Daar word gefluister dat die verskriklike Saulus van Tarsus, die baasbrein agter Stefanus se steniging, in Damaskus is om sy vervolging na die gelowiges daar uit te brei. En nou stuur die Here vir Ananias na hom toe! Hy moet gaan heul met die vyand!
Ananias se heel eerste reaksie is: “Nee, Here, dit kan ek nie doen nie. Dié man spel moeilikheid.” Maar die Here laat Hom nie keer nie, en in die volgende toneel sien ons vir Ananias in die straat afstap. Ek dink sy skouers hang en hy skud sy kop, want hy verstaan nie wat aan die gang is nie. Maar hy ken die verhaal van Jona, en hy weet dit sal nie help om te probeer vlug nie.
Kan ek vra: is daar dalk een van julle wat ook al ’n ruk loop met die wete dat die Here jou na iemand stuur, maar jy het nog nie by dié persoon uitgekom nie? Jy weet jy moet gaan, maar op die oomblik is jou verskonings oor hoekom jy nie by die persoon uitkom nie, nog nie op nie.
Die Here kan nie mense met verskonings gebruik nie. Hy kan net gehoorsame mense gebruik.
Toe Ananias by die huis in Reguitstraat instap, ontmoet hy daar iemand totaal anders as wat hy hom voorgestel het. Nie ’n monster nie, maar iemand wat deur die Here voorgekeer is. Nie iemand vol van homself nie, maar iemand wat bereid is om in die Here se diens te staan. Hy ontmoet in Saulus van Tarsus nie ’n vyand nie, maar ’n broer, iemand wat hy kan en mag aanraak.
Ek dink nie toe Ananias daardie oggend opgestaan het, het hy kon glo dat hy later daardie dag met Saulus in dieselfde vertrek sal sit en saam met hom sal bid nie.
Paulus se bekering kon eers volledig uitgewerk word toe Ananias gehoorsaam geword het, sy eie vooroordele en voorbehoude gelos het en hy na Paulus gegaan het.
Dis deel van navolging, nie waar nie? Want as ek aan Ananias se worsteling met God se opdrag dink, kan ek nie anders nie as om te dink aan Iemand anders wat óók oor God se plan met sy lewe geworstel het, en óók nie halfpad omgedraai het nie. Hy het daarmee ons, vyande van God, in broers en susters verander.
Ek praat natuurlik van Jesus in Getsemane, en later, tot sy sterwe aan die kruis. Ons gedenk vandag saam daardie gehoorsaamheid, tot in die dood. As ek en jy netnou die stukkie brood neem en in ons mond steek, die slukkie wyn of sap drink, is dit nie net ’n herdenkingsmaal nie. Dit is ook ’n ja-sê maal, waar ek sê: Ja, Here, soos U, wil ek gehoorsaam wees. Ek sál U volg waar U lei.
Ek wonder hoeveel van God se werk in hierdie wêreld bly onklaar omdat ons nie die deel doen wat God van ons vra nie. Die Heilige Gees wil ons daar bring waar ons God gehoorsaam, soos Ananias, al verstaan ons nie alle nie, want ons vertrou God dat Hy weet waarheen Hy met ons en met die wêreld op pad is. En deur die tekens van brood en wyn versterk God ons vanoggend in ons geloofsgehoorsaamheid, sodat ons kán volg waar Hy ons lei.
Amen.
Views: 69