GERAR. – Koning Abimelek het gister ’n vredesverdrag gesluit met ’n gesiene Hebreër wat al vir ’n geruime tyd in sy gebied woon.

Die skatryk Hebreër wat dié sonderlinge eer te beurt geval het, is Isak seun van Abraham, ’n baie groot veeboer. Dit is bekend dat daar die afgelope paar maande dikwels wrywing was tussen Isak se veewagters en Filistynse wagters oor die gebruik van waterputte in die ryk.

Koning Abimelek, vergesel van sy vertroueling Agussat en genl. Pikol, die bevelvoerder van die koninklike leër, het die Hebreër gister oor die aangeleentheid gespreek. As vrug hiervan is die verdrag gesluit.

Hopelik sal die verdrag ’n einde maak aan al die onsmaaklikheid.

Sewentig seuns van Gideon in bloedbad uitgewis

OFRA. – Die stad is met skok en afgryse vervul oor die massamoord gister waarin al die seuns van Gideon die Abiësriet omgekom het. Slegs een seun het daarin geslaag om die moordbende te ontwyk.

Die aanvoerder van die moordenaars is niemand minder nie as hulle eie broer Abimelek, ’n seun wat Gideon by sy byvrou uit Sigem gehad het. Hy het gisteroggend vroeg uit Sigem hier aangekom, vergesel van ’n bende deugniete. Hulle het toe sy niksvermoedende broers een vir een gevang en hulle almal op dieselfde klip keelaf gesny. Net die jongste broer, Jotam, het ontkom deurdat hy betyds kon wegkruip.

Inspekteur Miga van die stadspolisie, wat die misdaad ondersoek, het aan verslaggewers gesê dit is die ergste voorval van geweld wat hy in al sy jare as geregsdienaar teengekom het. “Daar was so baie bloed, dit het na ’n slagplaas gelyk,” het hy sigbaar ontsteld gesê. Hy het gesê die ergste van alles is dat hulle nie die skuldige kan vervolg nie, want Sigem weier om hom uit te lewer.

Die vermoorde broers se vader was tot met sy dood enkele jare gelede een van Ofra se bekendste inwoners en die ongekroonde koning van Israel. Hy het Israel destyds tot ’n ongeëwenaarde oorwinning aangevoer in die stryd teen Midian. Hy wou egter nooit toegee aan sy volksgenote se versoek om koning te word nie.

Ironies genoeg lyk dit in hierdie stadium of dit juis die koningskap van Israel is wat tot Gideon se seuns se dood aanleiding gegee het. Ons korrespondent in Sigem berig dat Abimelek verlede week met die stadsvaders in Sigem ’n verdrag gesluit het waarvolgens hulle hom as koning sal kroon indien hy sy broers uitwis. Hulle het na bewering ook die moordbende gefinansier met geld uit Baäl-Berit se tempel. Klaarblyklik hoop hulle om met hierdie skuif Sigem weer die politieke sentrum van Israel te maak.

  • Lees hiervan, en van die skrikbewind wat Abimelek hierna gevoer het, in Rig. 9.

 

HOOF VAN DIE LEËR DOOD

JERUSALEM. – Die lyk van die hoof van die leër, genl. Amasa seun van Jeter, is gister in raaiselagtige omstandighede gevind.

Genl. Amasa was op ’n veldtog teen die opstandeling Seba seun van Bikri. Toe hy nie by Abel opdaag nie, waar sy troepe Seba vasgekeer het, het die seuns van Seruja, Abisai en Joab, die bevel oorgeneem. Seba is gedood en die opstand onderdruk.

Na ’n intensiewe soektog is genl. Amasa se liggaam laat gistermiddag langs die pad by die groot klip in Gibeon gekry. Daar was ’n gapende wond aan sy maag waardeur sy ingewande gepeul het.

Die polisie ondersoek die saak.

 


Die Isak-opsie

In die Rigtertyd het anargie in Israel geheers. Dit was omdat daar nog nie ’n koning was nie, verduidelik die skrywer (Rig. 17:6). Maar dieperliggend was die oorsaak dat hulle nie die Koning geken en vertrou het nie. Persoonlike ambisie was hulle god. Daarom het Abimelek niks daarvan gedink om sy eie broers te vermoor nie. En jare later het Joab ook op hierdie manier sy sake gereël.

Isak wys ons dat daar ook ’n ander opsie is. Dat dit nie nodig is om jouself met geweld te laat geld nie. Hy verlaat hom op God se sorg, en uiteindelik kon selfs die Filistyne dit nie miskyk nie (vgl. Gen. 26:29)!

Hoekom kies so baie mense – ook gelowiges vandag – teen die Isak-opsie? Dalk omdat hulle God nie met hulle lewe en toekoms vertrou nie?

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.