Bybelkoerant praat met Job oor sy lewe en sy swaarkry

Skrywer: Onbekend
Ontstaanstyd: Die verhaal speel in die aartsvadertyd af, maar is waarskynlik eers baie later finaal te boek gestel
Doel: Daar is nie maklike verklarings vir lyding nie. God se weë kan nie so maklik in ons eenvoudige denkraamwerke ingepas word nie.

Die rook van die kosvuur voor sy tente draai lui die lug in. Iewers in die rante hoor ek ’n paar lammers blêr, en die geskater van kinderstemme klink op uit een van die tente. In die skadu van ’n groot ou terpentynboom sit hy, toe-oë, ’n vergenoegde glimlag om sy mond. Die littekens van talle swere – nou reeds lank weer genees – oortrek sy hele lyf, van sy kop en gesig tot by sy voete wat onder die lang kleed uitsteek. Hy spring op toe hy my sien en buig diep. “Goeiedag, Meneer. Welkom, welkom. Kom maak jouself gemaklik hier in die skaduwee. Ek kry gou ’n bietjie water dat jy jou voete kan afspoel, en ’n slukkie lekker koel bokmelk.”

Hy wil niks weet van dat dit te veel moeite is nie, en toe ek hom probeer keer neem hy aanstoot, sodat ek uiteindelik gelate gaan sit en sy oordadige gasvryheid my laat welgeval. Ons praat oor sy kinders, nog jonk, maar skrander, verseker hy my, en sy borskas swel van trots. Die Here is vir hom goed, want ná die tragiese dood van sy tien kinders in ’n frats windstorm het die Here hom weer ’n vol huis gegee. Die Here neem, maar Hy gee weer, méér as wat ’n mens kan vermoed.

Hoe het hy dit reggekry om heel anderkant uit te kom?

Hy sit sy melk neer en trek-trek aan sy baard voor hy antwoord: “Jy weet, ek het ’n vol lewe gehad, en toe verloor ek op een enkele dag alles wat vir my kosbaar was: my kinders, my besittings, en selfs my gesondheid. Ek het soos my vinger oorgebly, ek en my vrou, en sy het dit nie goed gevat nie, siestog. Teenspoed doen dit maar aan ’n mens, jy weet. Dit laat al jou gewaande sekerhede wegval, al jou trots, totdat jy kaal voor God staan. En dan is daar altyd mense wat vir jou kom vertel dat dit eintlik jou eie skuld is dat dit so sleg met jou gaan omdat jy kwansuis een of ander sonde in jou lewe het wat maak dat God jou straf. En dis amper die ergste van alles, dié beskuldigings, want hoe verweer ’n mens jou eintlik teen sulke beskuldigings?”

’n Mens raak seker vir God ook kwaad?

Hy knik. “Hoe dan ook anders? Want ek glo tog dat Hy oor my lot beskik, so op een of ander manier moes die rampe by Hom verbygekom het. My vrou wou hê ek moet God vloek en my dan maar oorgee aan die dood, maar hoe kon ek dit doen? God het my jare lank geseën, en toe was ek tevrede. Hoekom sou ek dan die rug op Hom draai wanneer dit nie goed gaan nie?

“Jy sien, my vriend, wat ek geleer het uit alles wat oor my gekom het, is dat ons nie God se weë kan deurvors nie. Ons kan maar net in die geloof aan Hom vasklou in ons nood. En ek kan jou dít sê: Hy los ons nooit. Sonder die soort vriende wat my probeer troos het, kan ek klaarkom, maar sonder God? Nooit! Hy het my deur hierdie ding gedra.”

Maar hoekom het die ellende hom dan getref? Het hy ’n antwoord op dié vraag gekry?

“Ek was in die diepste dale van depressie oor dié vraag, en toe kom God met my praat. En weet jy wat het Hy oor die oorsaak van my ellende gesê? Net mooi niks! Hy het my op ’n reis deur die wêreld geneem, sodat ek iets van sy almag en grootheid kon snap, en toe is my vrae ook sommer weg, want voor die grootheid van God is ons so klein dat dit mos verregaande arrogant is om te dink ons kan sy werke uitpluis. Wie is ons om te dink ons kan dit verstaan, of dat ons sy optrede kan bevraagteken? Ek was so skaam, ek het nie geweet waar ek my kop moet indruk nie.”

Maar kom die ellende dan van God af?

Job skud sy kop heftig. “Nooit! Nooit mag jy dit selfs net dink nie, my vriend, want Hy is die Bron van alles wat goed is. Nee, ons leef nou eenmaal in ’n stukkende wêreld, en dan is Satan natuurlik ook nog daar wat die situasie uitbuit en mense teen mekaar opsteek en aanhits om verkeerde dinge te doen. So iewers tussen ons eie sondigheid as mense en Satan se boosheid broei al die ellende uit. Dit kom nie van God af nie.”

Wat is sy boodskap vir die mensdom?

“Wees maar nederig oor die dinge wat jy meen jy oor God en sy Raad weet. En moet nooit jou hoop op Hom prysgee nie. Hy sal jou nie los nie, al gaan dit ook hoe swaar.”

image_pdfimage_print

Views: 130

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.