Filippi was die eerste stad op Europese bodem wat Paulus besoek het, en die gemeente wat hy daar gestig het, het ’n besondere plek in sy hart gehad. Jy kan gerus sy Brief aan die Filippense gaan lees. Dis ’n brief wat borrel van blydskap. Baie kommentators noem dit sy vreugdesbrief.

Hy skryf onder andere in Fil 4:4-9: Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! … Moet oor niks besorg wees nie …Verder … alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees, daarop moet julle julle gedagtes rig … En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Dis natuurlik die boodskap van die Bybel, nie waar nie? Die Here leer ons dit al eeue lank in die Bybel. In Spr 15:15 staan daar bv: Dit gaan altyd sleg met ’n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees. Jesus het dit ook gesê (Matt 6:25-34): Ons moet ons nie bekommer nie, want ons hemelse Vader sorg vir ons.

Maar – en dís die groot probleem – ons leef dit nie uit nie! Ons loop ook, soos al die ander mense, met hangskouers. Ons lyk en klink net soos al die ander mense wat nie die wonderlike wete het dat hulle deel van God se plan met hierdie wêreld is nie. En dít is die groot krisis met moderne Christene: ons het vergeet dat Christenskap elke enkele faset van ons lewe bepaal; dat geloof nie iets is wat in die kerk en in my binnekamer uitgehaal word nie, maar ’n lewenswyse is wat my hele lewe, my denke, my gedrag, my optrede teenoor ander bepaal, soos Paulus in Gal 5:25 sê: Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Ek hoor te veel mense wat sê: Ek weet die Bybel sê so, maar in die praktyk werk dit nie. Ek weet die Bybel sê ons moet sag en inskiklik wees, maar die lewe is hard, en daarom maak ek my kinders hard groot. Ek weet die Bybel sê ’n mens moet rein leef en wag tot jy getroud is, maar ek is ook maar net ’n mens. Ek weet die Bybel sê ons moet ’n tiende van ons inkomste vir die Here se werk gee, maar ek sal nooit met my geld uitkom as ek dit doen nie. Ek weet die Bybel sê ons moet vergewe en so, maar jy ken nie my kollega nie. Ek weet die Bybel sê ons moet bly wees, maar die politiek en die ekonomie en die pandemie en wat nie alles nie kom steel my vreugde.

Ons weet dit alles, maar leef ons dit? Lyk ons lewens anders as mense wat nie die Here as sorgende Vader ken nie?

Paulus en Silas het verstaan dat jy nie net Christen is as jy by die bidplek met mense oor die Here praat nie. Jy is ook Christen as jy onskuldig in die tronk beland, flenters geslaan en met jou bene wyd oopgesper in ’n folterblok. Daarom lees ons in vers 25: Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister … Hulle het verstaan dat jou geloof elke enkele sekonde van jou dag kleur. Dat jy nie maar net ’n boodskap ontvang het om met mense te praat oor die Here nie, maar dat jyself die boodskap is. Alles wat jy doen en sê (of nie doen en sê nie) is deel van die boodskap dat God die wêreld liefhet.

Miskien moet ek dit weer ’n keer sê: Ons het nie net ’n boodskap vir die wêreld nie. Ons ís die boodskap. Jou hele lewe vertel vir almal wat wil en nie wil hoor nie, wie jy is en Wie jou God is. Jy is die boodskap. Jy verkondig iets, nie net met wat jy sê nie, maar veral met wat jy is, hoe jy leef, hoe jy reageer en redeneer, hoe jy werk en hoe jy ontspan en hoe jy koop. Jy is die boodskap. Ons is die boodskap. Die vraag is natuurlik: Watter boodskap is ons?

Ek dink dit word soveel belangriker as ons in ag neem dat woorde eintlik ’n klein deel van kommunikasie uitmaak. Die grootste deel van die boodskap wat jy oordra, geskied nie deur wat jy sê nie. Ek lees dat slegs 7% inligting deur woorde oorgedra word; die ander 93% word deur nie-verbale kommunikasie oorgedra. Dit beteken dat letterlik alles wat jy is, deel uitmaak van die boodskap wat jy oordra aan die wêreld. En wat dié feit nog meer betekenisvol maak, is dat as mense meer waarde aan die nie-verbale boodskap heg.

Daarom dat Paulus en Silas se optrede daar in die tronk so ’n ontsaglike indruk op die mense om hulle gemaak het. Hoekom het nie een van die ander gevangenes gevlug toe die tronkdeure oopswaai nie? Hoekom wil die tronkbewaarder by hulle weet wat hy moet doen om gered te word? Omdat die manier waarop hulle die swaarkry in die tronk hanteer het, ’n onmisverstaanbare boodskap oorgedra het dat God by hulle is. Dít is hoekom.

Dit gebeur nie sommer net vanself nie. Vanself sal ’n mens, wanneer die krisis kom, sug en sê: “Ag, arme ek!” Maar as jy elke dag begin met die wete dat God by jou is, dat Jesus jou lei, dat die Gees jou gedrag bepaal, dan begin dit gebeur dat ek en jy, soos Paulus en Silas, selfs in die moeilikste omstandighede God kan prys, nie omdat ons die moeilikheid geniet nie, maar omdat ons weet dat selfs die grootste probleme ons nie van die liefde van God skei nie, en dat dit in sy hande vir ons, of ander, tot seën kan word.

God is in beheer, en daarom kon Paulus en Silas in die tronk lofliedere sing, want hulle het verstaan dat ook die tronk deel kan word van God se plan vir die wêreld. En so kom die tronkbewaarder en sy huishouding tot bekering. Ek wonder wat sou gebeur het as hulle daar in die tronk gesit en hulle lot bekla het.

Ek wonder wat sal gebeur as ons elke dag begin leef met die wete: Ons is die boodskap. Of nee wag, ek wonder nie. Ek wéét dit sal die fondamente van Petrusburg skud, net so seker soos wat die stad Filippi daardie nag geskud is, want mense sal die boodskap duidelik hoor: God is by ons (vgl. Sag 8:23)! Ons is immers draers van hoop in die wêreld.

image_pdfimage_print

Views: 37

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.