Bybelkoerant gesels met die profeet Hosea
Skrywer: Die profeet Hosea seun van Beëri, bygewerk deur sy volgelinge
Datum: In die laaste helfte van die agtste eeu v.C., veral voor die val van Samaria in 722/1 v.C.
Doel: Om Israel se ontrou, maar ook God se trou en liefde vir sy sondige volk te illustreer en te verkondig
Eerste lesers: Die geestelike en politieke leiers in Israel (noordelike stamme)
Min ander boeke in die Ou Testament beskryf die liefde van God vir sy volk so aangrypend soos Hosea. Die woorde in hoofstuk 11 maal deur my kop toe ek by die profeet se huis aankom: “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? … Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.”
Hosea lyk moeg, maar sy glimlag is hartlik toe hy my innooi. “Gomer? Bring vir ons iets om te drink asseblief,” roep hy oor sy skouer toe ons die koelte van die laatmiddagluggie op sy huis se dakstoep gaan opsoek. Die lieflike stad Samaria lê uitgestrek voor ons, en ver onder die stad lê die vrugbare vallei.
“Ja, dis mooi hier, nè. Maar kyk daar.” Hy beduie na die bokant van die stad waar die silhoeët van die Baältempel teen die naderende skemer afgeëts is. “Daardie plek en alles waarvoor dit staan, gaan nog hierdie mooi stad en sy mense se einde wees.”
Gomer kom in met die bekers wyn, en Hosea se gesig straal. “Dankie, Skatlief.”
Sy glimlag skalks na my voordat sy weer sonder ’n woord afklim. ’n Mooi vrou, maar daar is iets ontwykends in haar oë.
“Ek móés net met haar trou, al het ek van die begin af geweet ek gaan probleme hê,” begin Hosea praat toe hy sien hoe my oë haar met die trap af volg. “Dis asof die Here destyds ’n las op my gelê het. Ek het dit aanvanklik nie verstaan nie. Hoekom sou Hy van my verwag om met ’n losbandige vrou te trou? Dit was eers later, toe die probleme ernstig word, dat die ooreenkoms tussen my en Gomer se huwelik, en God en ons volk, my al meer opgeval het. Nou weet ek dat God my gedryf het om met haar te trou, al het sy tóé al ’n wilde streep in haar gehad: sodat ek iets kan begryp van hoe Hy voel oor ons mense se heuling met die Baäls.” Hy skud sy kop. “Ons mense is net soos ’n ontroue vrou wat haar man se liefde in sy gesig teruggooi. Dit maak seer, my vriend.”
Hy sug diep en sit sy wyn neer. “Ek wil nie sonder haar wees nie, maar sy maak my óp.”
Ek hoor die voordeur oopgaan. Hosea moes dit ook gehoor het, want hy staan op en stap na die rand van sy dakstoep. Ek volg hom, net betyds om te sien hoe Gomer in die kronkelende pad wegstap. “Waarheen gaan sy?” vra ek.
Hy trek sy skouers op en ek skrik vir die seer in sy stem toe hy antwoord: “Wie weet? ’n Kêrel iewers? Of dalk gaan sy haar dienste by die tempel aanbied vir die Baäl-aanbidders.”
Toe ons weer sit, sê hy: “Ek dink partykeer ek moet haar wegjaag, want dit is wat sy verdien. Maar hoe kan ek? Sy is dan my vrou, en ek is lief vir haar. Ek sal enige iets vir haar doen, as dit net sal maak dat sy aan my getrou bly. Maar as ek weer sien, is sy weg. Ek verstaan dit nie, want as sy by my is, kry ek tog die indruk dat sy vir my lief is. Sy sê sy is lief vir my, maar as dit waar was, sou sy tog nie só gemaak het nie.” Hy beduie met sy kop na die straat, sy wange nat. “Wat moet ek met haar maak?”
***
Ek is diep terneergedruk toe ek die eensame profeet groet. ’n Las soos syne kan nie maklik wees nie. Ek begryp nou hoekom juis hý met soveel passie oor God se liefde vir sy ontroue volk kon skryf. En ek wonder onwillekeurig hoe God voel oor óns, moderne gelowiges, wat Hom so gemaklik vir ons ambisie- en sport- en geld- en plesiergode verruil.
Goeiedag. Ek sal graag meer van die bybelse artikels wil ontvang….
Hallo Diana
Ek sien jy het reeds ingeteken op ‘n paar van my rubrieke. Welkom by my epos-bediening!