Ons aanbid ’n wonderlike God. Paulus praat daarvan in die gedeelte wat ons nou gelees het, en hy stel dit so mooi dat ’n mens eintlik net wil sit en daaroor nadink. Byvoorbeeld hierdie sin: “Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.” Lewe en asem en alles – ook joune. Dit kom van God. Of: “… deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.”

Ek wonder of ons genoeg ons verwonder en verbly in God, en oor Hom nadink. Dit is immers een van die oudste Christelike dissiplines en loop terug tot in die Ou Testamentiese tyd. Dawid skryf bv in Ps 27:4 (BDV): “Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef: om my lewe lank in die huis van die Here te woon, om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor na te dink in sy tempel.”

Paulus was so vol verwondering oor God dat hy dit met almal wou deel. Daarom, toe hy in Athene kom, gryp hy die geleentheid aan om met die mense daar oor God te praat. Hulle het selfs ’n spesiale forum, die Areopagus, gehad vir sulke gesprekke, en dis waar Paulus sy toespraak maak.

Partykeer wonder ek hoekom ons nie méér oor God praat nie. Dalk omdat ons te min oor Hom dink? Oor Hom verwonderd is? Nie vol genoeg is van Hom nie? Paulus skryf in 2 Kor 5:14 dat die liefde van Christus hom dring, hom dryf om vir ander van Jesus te vertel, ’n gesant van Christus te wees (2 Kor 5:20).

As ek na hierdie gedeelte kyk, is dit duidelik dat dit nie ’n eenvoudige saak is om mense tot geloof in God te lei nie. Want hier in Athene het Paulus gesukkel, ten spyte van ’n baie filosofiese aanpak, soos wat die Atheners gedoen het. Hy probeer met die Atheners redeneer om hulle só te oortuig. En uiteindelik bereik hy baie min. Die mense lag hom uit. Ander sê dis interessant, dalk kan ons later weer gesels. Maar baie min mense reageer positief op sy woorde.

Waar Paulus destyds met die Epikureërs en Stoïsyne geredeneer het, het ons vandag die agnostici en ateïste. Ek het ook al met mense probeer redeneer en probeer bewys dat God nie deur mense uitgedink is nie, of met argumente mense probeer oortuig dat hulle God nodig het. In die ou dae het party mense nog geluister, maar deesdae trek die meeste mense net die skouers op en sê dis wat ék dink, maar dit maak nie vir húlle sin nie. Selfs as jy hulle in ’n hoek het met jou argument, help dit nie. Iemand merk tereg hieroor op: niemand het nog begin glo omdat hy ’n argument verloor het nie.

Mense vandag praat graag met jou oor God en geloof, net soos die Atheners van destyds, maar meestal nie omdat hulle na God soek nie; eerder omdat hulle opgehou soek het en nou probeer om dié wat nie soos hulle ophou glo het nie, af te maak as naïef. So probeer hulle hulle eie besluit om die rug op God en die kerk te draai, regverdig. Maar daarmee ontken hulle iets wat in hulle is, iets waarmee ons almal geskape is. Paulus sê dit in vers 27: “God het (ons) gemaak om Hom te soek …” Laat ons dit nie vergeet as ons met ongelowiges praat oor die hoop wat in ons lewe nie: hulle soek God, al wil hulle dit nie eers aan hulleself erken nie. Die kerkvader Augustinus het mos gesê die mens bly onrustig totdat hy rus vind in God.

Die vraag is nou: hoe bring jy iemand wat nie glo nie, by God uit? Paulus se aanpak in Athene was, ondanks sy beste poging en bedoeling, nie juis geslaagd nie. Want redenasies en argumente en bewyse beïndruk ongelowiges nie. Jy kan maar probeer, maar jy gaan sukkel.

Ek dink een van die foute wat ons maak in ons gesprekke met ongelowiges, is dat ons meen ons moet hulle oortuig. Dis nie ons werk nie; dis die Heilige Gees se werk. Ons kan hoogstens getuig van wat God vir ons beteken, van die vreugde en die hoop en die vrede wat ons in Christus het. Dis al.

Een van die moeilikste dinge vir my is om afstand te doen van ’n agenda as ek met ’n ongelowige praat. Want dit gaan nie goed af by ’n ongelowige as hy die indruk kry dat ek dink ek kan hom reghelp, hy is verkeerd, en dis hoekom ek met hom praat nie.

Ons dink dikwels ons taak is om mense in die kerk te kry; dis waarmee die kerk besig moet wees. En alles wat ons as gemeente en as gelowiges doen, moet daarop afstuur. Maar daar is mense wat nooit in die kerk sal kom nie, wat nie belangstel om in die kerk te wees nie, om verskillende redes. Dit beteken nie ons het niks vir sulke mense te sê nie, of dat ons misluk as gemeente as die mense nie kerk toe kom nie. Ons kan steeds ons getuienis uitleef deur die manier waarop ons leef, waarop ons praat, waarop ons gelowiges is, waarop ons liefde uitleef, waarop ons in ander belangstel, nie om hom of haar ’n Christen te maak nie, maar omdat hy of sy ons naaste is.

Onthou verlede week se preek oor Paulus en Silas in die tronk: “Ons is die boodskap”. Ek en jy is dit wat mense oor God moet weet en sien. Die kerk is die venster vir die wêreld, waardeur hulle iets van God kan sien, van God se liefde, van God se omgee, van God se toekoms.

So kom ons gaan leef as God se kinders in die wêreld, volgelinge van Jesus wat sy liefde uitdeel. Kom ons gaan leef sonder ’n houding van meerderwaardigheid, van ek-is-reg-en-jy-verkeerd, en ek wil jou help om dit in te sien nie. Dan, wie weet, sal God self mense deur ons aanraak, soos Hy ook mense in Athene deur Paulus se optrede aangeraak het.

Daar is ’n wonderlike profesie in Sag. 8:23 waar hy praat van ’n tyd wanneer 10 heidene ’n gelowige sal vasgryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.” “Hieraan sal almal weet dat julle dissipels van My is: as julle liefde onder mekaar het,” het Jesus mos gesê.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.