GILEAD. – Die historiese oorwinning wat Jefta oor die Ammoniete behaal het, het vandeesweek ’n lelike nadraai gehad toe Efraim teen Gilead opgeruk het. Jefta het weer die manne van Gilead aangevoer om die aanval af te weer, en altesaam twee en veertigduisend Efraimiete het in die geveg gesneuwel.

Die oorsaak van die burgeroorlog was Efraim se ontevredenheid omdat Jefta nie hulle hulp ingeroep het vir die stryd teen die Ammoniete nie. Daarom kan Efraim ook nou nie aanspraak maak op ’n deel van die aansienlike oorlogsbuit nie. Jefta het hierdie beskuldiging ten sterkste ontken. Hy beweer op sy beurt dat hy tevergeefs op Efraim se hulp gewag het. Toe hulle hom in die steek gelaat het, was hy genoodsaak om sonder hulle die geveg te begin.

Politieke kenners wys daarop dat die oorlog teen die Ammoniete eintlik net die vonk was wat ’n kruitvat wat oor jare tussen Efraim en Gilead opgebou het, in Efraim se gesig laat ontplof het. Die Efraimiete is al baie lank ontevrede omdat Gilead hom nie aan die Efraimiete se stamgesag onderwerp nie, terwyl Gilead histories deel van Efraim is. Klaarblyklik het die Efraimitiese leiers daarop gereken dat die Gileadiete verswak is in die oorlog teen Ammon en daarom eerder Efraim se gesag oor hulle sal aanvaar as om in nog ’n stryd betrokke te raak.

Ironies genoeg was dit ’n spraakverskil, wat ’n duidelike bewys is dat die Gileadiete nie Efraimiete is nie, wat die mense van Gilead gehelp het om die Efraimiete te verslaan. Toe die Efraimiete na die aanvanklike gevegte na hulle grondgebied wou terugkeer, het die manne van Gilead die Jordaandriwwe na Efraim beset. Slegs diegene wat “sjibbolet” reg uitgespreek het soos die Gileadiete dit sê, is deurgelaat. Die Efraimiete, wat dit “sibbolet” uitspreek, is op die plek gedood.

 

Boer herstel van geheimsinnige siekte

US. – ’n Welbekende boer van die omgewing, Job, het oornag wonderbaarlik van ’n onbekende velsiekte herstel waaraan hy al maande lank ly.

Job was destyds in die nuus toe hy al tien sy kinders en sy aansienlike rykdom op een dag deur ’n reeks rampe verloor het. Hy het ook kort daarna ’n ernstige velaandoening ontwikkel.

’n Vriend van Job, Elifas die Temaniet, wat hom gedurende sy siekte ondersteun het, het gesê sy vriend se genesing is ’n wonder. “Ons was besig om ’n offer vir die Here te bring toe dit gebeur het. Toe Job begin bid het by die offer, was hy nog siek, en toe ek na die gebed my oë oopmaak, was hy gesond!”

Elifas het gesê hy beplan ’n groot feesmaal om sy vriend se genesing te vier. Al Job se vriende en sakevennote is na die fees genooi.

 

RABBI LAAT WENKBROUE LIG MET VREEMDE VRIENDE

Van ons Nuwe Testament redaksie

KAPERNAUM. – Plaaslike Fariseërs het gister hulle ontsteltenis uitgespreek omdat die rabbi Jesus van Nasaret talle gure karakters onder sy volgelinge duld.

Rabbi Jesus het gister selfs aan die huis van ’n tollenaar, Levi seun van Alfeus, geëet. Daar was ook heelwat ander tollenaars en sondaars aan tafel. Enkele prostitute is ook opgemerk.

Toe hy om kommentaar genader is, het Jesus gesê: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

 


Genaakbare harte

Ons leef in ’n wêreld waarin mense verstommend onverdraagsaam geword het. Ander standpunte word net nie geduld nie. Daarom is boikot-aksies en stakings aan die orde van die dag, en is daar selfs oorlog op talle plekke tussen strydende groepe. Dit is natuurlik niks nuuts nie. In die Rigtertyd het dit ook so gegaan, soos die tragiese oorlog tussen Efraim en Gilead onderstreep. En solank mense van mekaar verskil, sal die duiwel ’n gerieflike aanknopingspunt hê om wanorde en haat te saai.

Daar ís natuurlik ’n ander opsie: die liefde. Daarom kon Job bid vir die “vriende” wat hom in sy tyd van nood veroordeel het. Daarom is tollenaars en sondaars by Jesus welkom. Die liefde vra nie dat jy die verkeerde in ander se lewe moet goedpraat nie. Maar dit vra dat jy met ’n minsame, genaakbare hart ander moet aanvaar en nader trek. Só oorwin jy die kwaad met die goeie (Rom. 12:21, vgl. 1 Pet. 3:9). Dit is immers hoe Christus se liefde vir ons lyk: Hy het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8).

image_pdfimage_print

Hits: 10

Volg en laaik my asb:
onpost_follow
Tweet
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.