Bybelkoerant gesels met Johannes oor sy Evangelie
Skrywer: Johannes, die dissipel vir wie Jesus liefgehad het
Eerste lesers: die gemeente in Efese waar Johannes leraar was
Doel van die brief: Jesus het van God gekom om die mens te kom verlos
Ontstaanstyd en -plek: Efese, ongeveer 95 n.C.
Hy sit oud en klein op sy stoel in die huisie waar hy sy laaste dae slyt. Maar dis nie sy brose ouderdom wat my opval toe ek hom die eerste keer ontmoet nie. Dis die liefde wat uit sy hele wese straal. Hier is iemand, besef ek dadelik, wat soos sy Meester geword het: ’n verpersoonliking van liefde. Ek weet dat hy nie altyd so was nie. Die bynaam wat die Here Jesus aan hom en sy broer Jakobus gegee het, was nie verniet “Boanerges” – seuns van die donder – nie. En was dit nie ook dié twee broers wat by geleentheid vuur uit die hemel wou afroep om ’n Samaritaanse dorp te verbrand omdat die inwoners hulle nie wou ontvang nie? Maar van dié vuurvreter is daar niks meer oor nie. Sy Meester se liefde het hom heeltemal verander.
Ek wou by hom weet hoekom hy besluit het om nóg ’n verhaal oor Jesus op skrif te stel. Dié taak is tog reeds deur ander soos Markus en Matteus en Lukas ook opgeneem.
“Kan ’n mens ooit sê daar is genoeg oor die Here opgeteken?” antwoord hy met ’n weervraag. “Ek wens ek kon selfs méér skryf. Ek het so baie om te vertel. Maar nouja, ’n boekrol het ook net sóveel plek. Toe skryf ek maar die belangrikste dinge neer, dat my mense iets van sy heerlike Godheid, maar ook iets van sy weerlose mensheid kan snap. Ek dink dít is een van die groot sake wat ons nie lekker met ons verstand kan uitpluis nie: dat Hy God is, én mens.
Mense probeer na die een of die ander kant toe kies, want so-iets maak mos nie vir ons gewone sterflinge sin nie. Ek bedoel, ek het Hom tog van my kinderdae af geken. Sy ma en my ma is susters, jy weet. Ons het dikwels saam gespeel, en later, toe ek sy dissipel geword het, was ek vir meer as drie jaar dag en nag by Hom, en tog het ek dit vir die eerste keer eers regtig verstaan toe Hy uit die dood opgestaan het.
Ek dink dít is een van die groot sake wat ons nie lekker met ons verstand kan uitpluis nie: dat Hy God is, én mens.
Maar dis moeilik vir mense om te begryp. Party glo hy was net ’n baie besondere mens, die grootste van alle profete en begenadig deur die Gees van God. Ander sê weer Hy was God self wat in ’n menslike gedaante onder ons rondgegaan het. Maar hulle is verkeerd, my vriend. Hulle is verskriklik verkeerd! Daar was nog nooit Iemand soos Hy nie, en daar sal ook nie weer Een soos Hy wees nie. Hy is God, van voor die skepping af, maar omdat God die wêreld nie in sy sonde wou los nie, het Hy mens geword soos ek en jy, wat honger geword het en moeg, wat kon lag en huil en kwaad word, maar bo alles liefgehad het.
Dis tog hoekom Hy na die wêreld gekom het: omdat Hy mense liefhet. Alle mense – rykes, armes, belangrikes, eenvoudiges, by Hom is daar nie onderskeid nie. Ek sal nooit die dag vergeet toe Hy vir daardie vrou wat in owerspel betrap is, in die bresse getree het nie. Dit was suiwer liefde, my vriend! Suiwer liefde. En dit het die vrou verander, hoor. Sy was daarná nooit dieselfde nie. Só is Hy: sy passie is om mense te red.”
My hart word warm terwyl hy praat. “Wanneer het u dit die eerste keer verstaan dat die Here Jesus God én mens tegelyk is? Dié vraag is vir my belangrik, want in my tyd is daar nou weer mense wat oor dié kwessie vrae het. Hulle sê dis nie moontlik dat God Jesus se Vader is nie.”
Sy gesig val. “Ag nee! Mense kan hulle tog so maklik verbeel hulle is slim, en dan verstaan hulle niks. My vriend, ek dink die antwoord lê nie in ons verstand nie, maar in ons hart. Kyk, met jou kop kan jy dit nie vat nie. Wie kan nou ook die dade van God mooi begryp? Hy is daarvoor heeltemal te groot en ons te klein. Daarom het Hy dikwels vir ons geleer dat jy soos ’n kind moet glo. Maar jy vra wanneer ek dit die eerste keer verstaan het. Ek dink dit was daardie dag toe Hy uit die graf opgestaan het. Ek het die doeke daar in die graf sien lê en net geweet: dis nie die werk van grafrowers nie. En toe Hy daardie selfde aand na ons toe kom waar ons agter geslote deure weggekruip het, het al my twyfel weggeval. Ons Here leef, my vriend! Hy leef.”
Sy boodskap aan die mense vandag? “My vriende, julle moet mekaar liefhê, want dan sal die wêreld in Hom glo. Dit is tog net Hy wat mens se hart vol liefde kan maak.”