Korona virus.

As ek dié woorde ’n jaar gelede gesê het, sou nie een van julle geweet het waarvan ek praat nie. Maar vandag weet ons almal. Ons konteks help ons om dit te verstaan.

So is dit ook met die Bybel. Die Bybel is onder leiding van die Heilige Gees geskryf, deur die gebruik van mense wat deur die Heilige Gees meegevoer is, soos 2 Pet 1:21 sê, maar dan tog mense wat nie in ’n lugleegte gelewe het nie, maar mense wat kinders van hulle tyd was, beïnvloed deur gebeurtenisse uit hulle eie tyd. En daarom staan daar dinge in die Bybel wat ons net regtig ten volle kan begryp as ons gaan kyk na die wêreld van destyds, toe die Bybel geskryf is.

Een so ’n gedeelte in die Bybel wat ’n mens net regtig ten volle kan begryp as jy die tyd van destyds ken, is die skeppingsverhaal in Gen 1. Want die volkere wat rondom Israel gewoon het, het ook hulle eie skeppingsverhale gehad om te verklaar hoe die wêreld wat ons ken, tot stand gekom het. Een van hierdie verhale was die Enuma Elisj, ’n verhaal oor die skepping wat in Babilonië ontstaan het. Volgens hierdie verhaal het daar aan die begin slegs ’n groot oer-oseaan bestaan, met die naam Tiamat. En Tiamat het aan ’n aantal gode geboorte gegee. Een van hierdie gode, Marduk, het toe in opstand teen Tiamat gekom, sodat daar ’n hewige oorlog ontwikkel het tussen Tiamat en haar volgelinge, en Marduk en sy trawante. Ná ’n geweldige woeste geveg, wat in kleur en geur in die Enuma Elisj beskryf word, slaag Marduk uiteindelik daarin om vir Tiamat, die oer-oseaan, te oorweldig. Tóé eers kon Marduk met sý skeppingswerk begin. Tiamat, die groot oseaan, het hy in twee verdeel: van die een helfte word die hemel gemaak, en van die ander helfte maak hy toe die aarde. Dan vertel die verhaal verder hoe Marduk die sterre gemaak het as blyplek van die gode, die nag en dag ingestel het en die jaar ontwerp het.

En al hierdie verhale was bekend in die ou tyd. Ook die Israeliete het dit geken. Hier en daar in die Bybel kom ons dit agter, soos bv. in Ps 89 waar ons lees: “U heers oor die onstuimige see: as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar” (v 10), waar gesinspeel word op hierdie oerstryd tussen God en die oer-oseaan. Israel het hierdie verhale geken. Trouens, hulle voorvaders het eers ook hierdie vreemde gode oorkant die Eufraat gedien, en self het hulle voortdurend agter vreemde gode aangeloop. Israel het geweet van die geweldige geveg teen die seemonster. En wanneer die Bybel nou vertel hoe God die hemel en die aarde gemaak het, gebruik die skrywer hierdie kennis om God se grootheid te verkondig.

Dit lyk amper of die verteller wil hê sy hoorders moet aan die Babiloniese skeppingsverhaal dink, aan die geweldige stryd waarmee die wêreld begin het. Want ook hy begin deur te vertel van die geweldige oer-oseaan, oftewel die diep waters soos ons vertaling dit noem. In Hebreeus, waarin die Ou Testament geskryf is, word die diep waters Tehoom genoem, dieselfde naam as Tiamat, wat in die Babiloniese verhaal gebruik word. ’n Ongekende duisternis hang oor hierdie oer-oseaan, Tehoom (oftewel Tiamat). En nou het die luisteraars begin regskuif vir die groot geveg wat hulle geweet het gaan kom. So het dit mos gebeur. Marduk het teen Tiamat oorlog verklaar en verslaan. Binnekort gaan hy seker vertel hoe Jahwe, die God van Israel, die stryd aanknoop! Op watter manier sal Hý die oer-oseaan oorwin? Laat ons hoor!

Die Bybel vertel verder: Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. Kort en kragtig staan dit daar. Geen stryd. Geen geweldige oorlog. Geen woeste geveg. Net ’n woord, en dit is genoeg! Wat ’n God om te dien!

Hy het gepraat en dit was so,
Hy het beveel en dit was daar.

Só jubel Ps 33 dit uit. Nie God, die Oorwinnaar nie, maar God, die Skepper! God is die Skepper! Net maar ’n woord, en dit gebeur! Hoor Israel, die Here onse God is die enigste Here! Daar is geen ander God nie, daar is geen mag wat teen Hom die stryd kan voer nie. Niks wat soos ’n bedreiging oor ons koppe hang nie!

Dít is die groot nuus, die evangelie, wat Gen 1 vir ons wil vertel. God heers. God is Koning. God is in beheer. Hierdie skepping, hierdie wêreld, is sý wêreld. Hy het dit nie geroof nie, of met oorlog in die hande gekry nie. Hy het dit self gemaak. Dis syne.

Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here, want Hy het … dit … gemaak …, sê Ps 24.

Die aarde en die see en die hemelruim met sy ontelbare getal sterre is God s’n. Hierdie skepping is God se koninkryk. Hier gebied Hý. Hier eis Hý gehoorsaamheid. Niks kan sy heerskappy bedreig nie, want Hy het nie, soos Marduk van Babilonië, deur ’n staatsgreep aan bewind gekom, sodat die oermagte die gesag dalk weer by Hom kan oorneem nie. God oorwin nie, God skep. Hierdie aarde was nog altyd sy gebied, en dit sal ook altyd Syne bly.

En al het die sonde ’n breuk in God se pragtige skepping gebring, beteken dit nie dat hierdie wêreld nie meer God s’n is nie. Daarvan vertel die ander verhaal van die skepping wat ons saam gelees het. Die lig skyn in die duisternis, sê Johannes, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Die sonde, die Bose, probeer tevergeefs. Hierdie wêreld is God s’n. Niks kan sy mag uitdoof nie. Dit het die Here Jesus vir ons kom leer, toe Hy gesê het: Niemand kan julle uit my hand ruk nie. Dit het God gewys toe Hy die dood oopgebreek het en Christus uit die graf opgestaan het.

Kom ons onthou dit in hierdie dae as ons harte wil inkrimp van angs en bekommernis oor die pandemie en die land: Hierdie wêreld is God s’n.

Wat ’n voorreg om met só ’n God elke dag te lewe!

Amen.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.