KIRJAT-ARBA. – Een van die groot veeboere van Kanaän, Esau seun van Isak, gaan die land verlaat om hom in die Seïrberge te gaan vestig.

Volgens Esau het hy besluit om te trek omdat sy veekuddes te groot geword het. “Die land kan nie soveel vee hanteer nie, en noudat my pa oorlede is, is daar niks oor wat my hier hou nie,” het hy gesê. Esau se vader, Isak seun van Abraham, is onlangs hier in Kirjat-Arba oorlede.

Plaaslike inwoners met wie Bybelkoerant gesels het, het hulle teleurstelling met Esau se besluit uitgespreek. “Esau se vertrek is ’n gevoelige verlies vir die land,” het ’n ekonoom van Jerusalem gesê. Sy vertrek sal talle mense werkloos laat.

Gerugte doen egter die ronde dat Esau se vertrek eerder aan spanning met sy tweelingbroer, Jakob, te wyte is as aan die tekort aan weiveld in Kanaän. Jakob het glo jare gelede met ’n slenterslag die eersgeboorteseën van sy pa gekry, en Esau, die oudste, het na al die jare nog steeds nie dié onreg vergeet nie. Toe Jakob verlede jaar na ’n ballingskap van twintig jaar uit Haran na Kanaän teruggekeer het, was die land net te klein vir hulle albei. Dis dié dat Esau nou sy geliefde geboortegrond verlaat.

 

SAMARIA VAL VOOR SALMANESER

JERUSALEM. – Die hoofstad van Israel, Juda se noordelike buurstaat, is gister, na ’n beleg van drie jaar, deur Salmaneser van Assirië ingeneem. Koning Hosea is ook gevange geneem. Talle Israeliete sal ook saam met hom na Assirië weggevoer word. Volgens ’n woordvoerder van koning Salmaneser sal die Israeliete in Galag en aan die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van Midian hervestig word.

Dié verowering beteken die einde van die staat Israel, wat twee eeue gelede tot stand gekom het toe die ryk van koning Rehabeam seun van Salomo in twee geskeur het. Jerobeam I was destyds die koninkryk van Israel in die noorde se eerste koning.

Koning Hiskia het laat gisteraand ’n verklaring uitgereik waarin hy sy diepe meegevoel met koning Hosea en sy onderdane uitgespreek het. “Ons het nie altyd met ons noordelike bure saamgestem nie en in die verlede selfs teen hulle oorlog gemaak, maar tog bly hulle ons broers. Hulle is ook nasate van ons vader Abraham. Daarom is dit met diepe leedwese wat ons gehoor het dat Israel tot niet is.”

 

GEBOORTES

Manoag en sy vrou kondig met trots aan die geboorte van ’n allerliefste seuntjie, Simson, ná jare van kinderloosheid. Ons innige dank aan die Goeie Gewer. Dankie ook aan die vroedvrou.

  • Lees hierdie besondere geboorteverhaal in Rig. 13.

 

Oudrabbi deur goewerneur Feliks verhoor

SESAREA. – ’n Gewese rabbi en tans voorste kampvegter vir die post-Joodse godsdiens van die Nasareners word môre hier deur goewerneur Feliks verhoor. Hy staan tereg op ’n klag van opstokery en skeurmakery.

Die oudrabbi is Saulus van Tarsus, ook bekend onder sy geloofsgenote as die apostel Paulus. Hy was in sy jong dae een van die briljantste studente van die beroemde teologiese professor Gamaliël. Sedert hy hom egter by die godsdiens van die Nasareners, oftewel navolgers van Jesus van Nasaret, aangesluit het, het hy ’n uitgeworpene in die Joodse samelewing geword.

Hoëpriester Ananias en die advokaat Tertullus het vanoggend spesiaal vir die verhoor hier aangekom, en sal die saak teen Paulus aanvoer.

Na verwagting sal goewerneur Feliks reeds môre uitspraak in die saak lewer.

  • Lees meer van die hofsitting en Feliks se optrede in Hand. 24.

 


Gryp elke kans!

As ’n mens ’n lysie van tragiese figure in die Bybel wil opstel, sal daar sekerlik baie kandidate wees: Judas, koning Saul, Lot … En onder hulle sal Simson en Esau ook genoem moet word: manne wat soveel moontlikhede gehad het, aan wie God op ’n besondere wyse sy genade geskenk het. En tog eindig hulle lewe tragies, omdat hulle nie die geleenthede wat God hulle gegee het, benut het nie. Esau minag die voorreg om as eersgeborene draer van Gods beloftes te wees. Simson verruil sy Nasireërsbelofte vir die kortstondige geluk in Delila se arms. Goewerneur Feliks maak Paulus stil as hy oor God se wil begin praat. Die volk Israel jaag profete soos Elia weg uit die land.

Moenie die geleenthede wat God in sy milde goedheid oor jou pad stuur, laat verbygaan nie. Gryp elke kans, ook vandag, en lewe voluit vir Hom!

image_pdfimage_print

Views: 3

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.