Bybelkoerant gesels met goewerneur Nehemia oor sy werk in Jerusalem
Hoewel hy nie ’n teoloog was nie maar ’n politikus, het min mense so ’n groot impak op die Jode se geloofslewe gehad as Nehemia. Dis hy wat saam met die skrifgeleerde Esra ’n hervorming in Judea deurgevoer het wat ’n blywende uitwerking op die volkslewe gehad het en daartoe gelei het dat die samelewing streng volgens die Wet van God ingerig is.
Naam van boek: Nehemia
Skrywer: ’n Onbekende outeur(s) wat Nehemia se aantekeninge in sy dagboek opgeneem het in ’n groter werk wat ons as 1 en 2 Kronieke, Esra en Nehemia ken
Ontstaanstyd: Iewers tussen 380 en 350 vC (dws omtrent 50 jaar na Nehemia se optrede)
Die ontvangslokaal van sy goewerneurswoning is met smaak gemeubileer, in skrille kontras met die meeste ander vertrekke waarin ek al in Jerusalem was, en ek moet myself daaraan herinner dat Nehemia vroeër die magtige koning Artasasta se skinker was; ’n pos omtrent gelykstaande aan ’n minister in ’n moderne regering. Dit sou sekerlik minstens ’n fyn opvoeding vereis. En toe hy kort ná my aankoms persoonlik uitkom om my te kom haal, sien ek dat ek reg vermoed het. Sy duifgrys kleed pas perfek by die donkerblou onderkleed en gordel.
Hy neem my na sy kantoor en bied my ’n drankie aan. Hy persoonlik verkies ’n rooiwyn uit Griekeland, hoewel die meeste van sy landgenote bier drink. Die plaaslike wyn sal hy liewer nie aanbeveel nie. Daar is ook koeimelk en bokmelk. Ek drink saam met hom rooiwyn. Wie is ek om met die voormalige skinker van die koning te stry?
Sy roeping
“Toe ek destyds hier aangekom het, was dit chaos, moet jy weet. Ek het gevoel om te huil. Ek was op daardie stadium gewoond aan ’n baie gerieflike lewe in Susan aan die koninklike hof, en hier kom ek aan en dis net ellende op ellende. Die stadsmuur het omgelê, die meeste huise was bouvallig, die mense se moed was gebreek, die geestelikes het handdoek ingegooi. En om alles te kroon was ons bure, die Samaritane, glad nie gelukkig met my planne om die stadsmuur te herstel nie.
Die mense was boonop agterdogtig teenoor my met my sagte handjies en deftige klere. Hier is maar min kultuur in dié plek, jy weet.” Hy glimlag gelate, maar word dan weer ernstig. “As ek nie vooraf lank oor hierdie werk gebid het en eers baie seker gemaak het dat dit God is wat my hierheen gestuur het nie, het ek net daar omgedraai. Maar met God se genade kon ek hulle oortuig om saam te staan en die bouwerk as ’n volkstaak aanpak. En ons het presies dit gedoen. Ons het die muur binne twee en vyftig dae voltooi.”
Hoogtepunt
Dit was seker die hoogtepunt van sy ampstermyn?
Nehemia skud sy kop. “Nee. Die hoogtepunt was nie die muur nie, hoewel ek daaroor baie bly was. Die hoogtepunt vir my persoonlik was dat ons dit saam gedoen het. Daar was feitlik nie ’n gesin in Judea wat nie op ’n manier gehelp het nie, en dít is vir my merkwaardig. Ons Jode is mos nie juis bekend daarvoor dat ons goed saamwerk nie. Maar deur die Here se genade het almal gehelp en kon ons talle terugslae en teenkantings te bowe kom.”
Verdere uitdagings
“Jy weet, my broer Ganani het my in Susan al gewaarsku dat die muur omlê en dat die vyande ons mense afdruk. Ek het toe gekom met die idee dat my groot taak sal wees om die mense sover te kry om die stadsmuur te herstel sodat ons onsself teen die vyand se aanvalle kan verdedig. Maar ek het gou agtergekom dat dit maar net een deel van die herstelproses is. ’n Sterk stadsmuur help jou net ’n entjie. Sterk morele mure is nodig om staande te kan bly in hierdie wêreld, want die vyand wat jy met die stadsmuur uithou, is nie die groot gevaar nie. Dis die vyand hier binne, in jou hart. Ek is bevrees, my mense leef nie soos God vra nie. Dit is hoekom ons voorouers in ballingskap weggevoer is destyds, en ons sal nooit as volk kan opstaan as ons ons nie tot God bekeer nie. Ek droom en bid van ’n dag dat ons mense hulle hele lewe, en die samelewing, inrig soos die Wet van God vereis. Anders het ons nie ’n kans om te bly voortbestaan nie.”
Sy geheim?
“Ek het geleer dat ’n mens niks in eie krag moet aanpak nie, want dan kan jy maar vergeet. Van dag een af was my koms en my werk hier ’n gebedsaak. Want dis net God wat mense se harte kan verander en hulle weer aan Hom kan vasbind. Daarom bid ek soggens, smiddae, saans, en sommer regdeur die dag ook. Praat met God. Vertel Hom alles, want Hy hoor jou en help jou.” Hy glimlag en lig sy hande op. “Maar ek is seker jy weet dit ook, of hoe?”
Views: 85