Woedende Filistyne eis sy uitlewering

TIMNA. – ’n Jong bruidegom was hier so woedend toe hy verneem het dat sy skoonpa sy bruid aan ’n ander man, nogal sy strooijonker, gegee het, dat hy man-alleen die hele distrik se koringoes vernietig het.

Die man wat vir die skade verantwoordelik is, is ’n Israeliet, Simson seun van Manoag van Sora. Hy het driehonderd jakkalse gaan vang, hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak, en die jakkalse toe met brandende fakkels aan hulle sterte in die Filistyne se koringlande ingejaag. Skade ter waarde van etlike miljoene sikkels silwer is aangerig toe graanlande en miedens op talle plase afgebrand het. Baie wingerde en olyfboorde het ook in die slag gebly.

Die woedende boere het daarop die vrou en haar pa verbrand. Dit het sake egter net vererger, want toe Simson van die lot van sy eertydse bruid verneem, het hy berserk geraak en die Filistyne verwoed aangeval. Talle is afgemaai voordat hy in ’n rotskloof by Etam gaan skuil het.

Die Filistynse owerhede eis nou dat Simson uitgelewer word sodat hy tereg kan staan vir sy misdade. ’n Filistynse veiligheidsmag het reeds by Legi saamgetrek en dreig met vergeldingsaanvalle op die Israeliete as Israel hom nie aan hulle uitlewer nie.

In ’n persverklaring wat gister deur koning Abimelek van Gasa uitgereik is, sê hy dit is nou tyd dat die Israeliete vasgevat word. Hy het gesê hy is van voorneme om van Simson ’n voorbeeld te maak, sodat Israeliete wat dink hulle kan in sy ryksgebied maak en breek soos hulle wil, vir goed afgeskrik kan word.

  • Lees van Simson se stormagtige optrede, en ook van die rampspoedige gevolge van die uitlewering, in Rig. 15.

 

BEKENDE BOETEPREDIKER IN TRONK

MACHAERUS (PEREA). – Die bekende boeteprediker van die Jordaanvallei, Johannes seun van Sagaria, ook bekend as die Doper, is verlede week in hegtenis geneem op ’n klag van crimen injuria.

Vermoedelik staan die inhegtenisname in verband met kritiek wat Johannes vroeër op koning Herodes se huwelik met sy skoonsuster Herodias uitgespreek het. ’n Woordvoerder van koning Herodes wou egter nie hierdie gerugte bevestig of ontken nie.

Volgens vriende van die Doper is sy gemoedstoestand tans nie baie goed nie.

  • Lees van Johannes se geloofstryd in die tronk in Matt. 11:2-19.

GASA YSTERSMEDE

Is jy moeg van sukkel met jou bronsimplemente?

Ons het die antwoord!
Ons maak ploeë, sekels, messe en talle ander implemente van YSTER!
Tien maal harder en sterker as brons!

Kom besoek ons sommer vandag nog!


Om God God te laat wees

Die ongelooflike wonder van God se liefde is dat Hy die afstand tussen ons en Hom oorbrug. Sy liefde vir ons dryf Hom elke keer weer om na ons toe te kom, ons op te soek, terug te trek na Hom toe. Hierdie opsoekende liefde van God bereik sy hoogtepunt op Golgota. “God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was,” sê Paulus (Rom. 5:8). Daarom kan Johannes dit uitjubel in 1 Joh. 3:1: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.”

Kinders van ’n hemelse Vader. Dit is ons status voor die lewende God. Tog beteken dit nie dat ons op ’n familiêre wyse met God mag omgaan nie. Die arrogante manier waarop Simson met God praat (Rig. 15:18) getuig nie van ’n vrymoedige lewe voor God nie. Dis veeleer ’n teken van uiterste astrantheid. In Simson se denke het God opgehou om die aanbiddingswaardige God te wees, het Hy ’n bediende geword wat aan al Simson se nukke en grille moes beantwoord. Miskien is dit ook die rede waarom Johannes die Doper in die tronk met soveel teleurstelling na Jesus kyk. Want Jesus was nie Messias soos hy dit verwag het nie. Johannes wou ’n God hê wat voldoen aan sý vereistes.

Miskien is dit goed dat jy vandag opnuut weer na jou verhouding met God kyk. Laat jy Hom toe om God te wees en op sý manier in jou lewe te regeer? Of besluit jy hoe en waar Hy moet optree?

image_pdfimage_print

Views: 8

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.