Wanneer ’n mens lees wat mense oor die korona-pandemie te sê het, kom jy vroeër of later uit by verwysings na Psalm 91: “Ek bid net Psalm 91 oor my. Ek sal oukei wees.”

As jy die psalm lees, lyk dit nogal of daar waarheid in die woorde steek; asof God se beskerming eksklusief tot jou as indiwidu se beskikking is: “Daar kan duisend val aan jou linkerkant en tienduisend aan jou regterkant, naby jou sal dit nie kom nie,” sê vers 7 (BDV). Of vers 10: “Onheil sal jou nie tref nie …”

“Ek bid net Psalm 91 oor my. Ek sal oukei wees.”

Enige eerlike gelowige weet egter dat dit nie só eenvoudig is nie. Die lewe is nie so swart en wit dat gelowiges lank en sonder probleme leef, en ongelowiges kort en ellendig nie. Die enigste apostel van die Here Jesus wat ’n natuurlike dood op hoë ouderdom gesterf het, was Johannes, lees ek iewers. Die ander is almal “voortydig” gedood. Daarom maak die amper vermetele verwysing na die beskerming waarvan Psalm 91 praat, my baie ongemaklik. Is dit ’n geval dat ek maar net nie goed genoeg glo nie, en daarom huiwerig is om dié soort gebruik van die psalm goed te praat?

Satan praat saam oor dié psalm

Die wyse waarop Satan en Jesus presies hierdie psalm (veral vers 12) hanteer het, help my tog om te verstaan dat dit nie hier gaan oor ’n blanko tjek van beskerming, kom wat wil, nie. Presies dít was Satan se interpretasie van die psalm. Jesus kon enige tyd van die hoogste punt van die tempel afspring, want Psalm 91 sê immers die engele sal Hom beskerm (Matt 3:6). Só beweer Satan baie stellig. Maar Jesus val nie vir sy verwronge Skrif-interpretasie nie. “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie,” antwoord Hy (Matt 3:7).

So ek sal nie God op die proef stel nie. Ek dra my masker en doen alles menslik moontlik om my en ander teen die virus te beskerm. Dis nie kleingelowig nie. Dit is verantwoordelike Christenskap.

God is immers daar. Hy red waar jy nie kan nie.

Dié psalm wil ons dus nie troos dat ons ’n lang en veilige aardse bestaan sal hê nie. Dit sê ook nie dat ons ons nie hoef te steur aan die korona-virus solank ons onder die beskerming van Psalm 91 leef nie.

Wat wil die psalmis dan wel vir ons sê? Dít: dat jy tot rus kan kom te midde van al die gevare en bedreigings van die lewe, omdat God by jou is; dat jy by Hom kan skuil wanneer die lewe rof raak; dat jy nie bang hoef te wees vir noembare en onnoembare bedreigings nie – pessiekte en epidemies by name (vers 6). God is immers daar. Hy red waar jy nie kan nie. Daarom hoef jy nie angstig rond te kyk nie, of te dink jy is op jou eie nie. Nee, God belowe dat Hy by jou sal wees in nood en sal antwoord as jy Hom aanroep (vers 15).

Die belofte van ’n lang lewe waarmee God jou sal versadig (vers 16), is nie beperk tot hierdie ondermaanse lewe nie. Dit geld vir die hele werklikheid – materieel en geestelik, aards en hemels. Daarom kan jy uitsien na ’n lang lewe in God se teenwoordigheid, of dit nou hier is of in die hiernamaals.

’n sekerheid wat net geloof jou kan gee

Jou vertroue op God tel jou op, sodat jy elke aardse vrees, elke menslike twyfel en elke verhinderende oorweging kan agterlaat. Dit lig jou op tot bokant die neerdrukkende werklikhede van die alledaagse lewe, sodat jy met hoop kan leef – ’n sekerheid wat net geloof jou kan gee. Met hierdie hoop kan jy die lewe verduur en bemeester. Dit stel jou in staat om jou te onderwerp aan God se wil vir jou lewe, selfs wanneer Hy besluit om anders met jou te handel as wat jy verwag het.

So bid gerus Psalm 91, soek skuiling by die Allerhoogste, en kom tot rus. Jy is veilig in God se hand. Hy bewaar jou op só ’n wyse dat daar selfs nie ’n haar van jou kop kan val sonder dat die Vader by is nie, verseker die Heidelbergse Kategismus (vraag 1) jou, in navolging van die Here Jesus se uitspraak oor die mossies (Matt 10:29, OAV): “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.”

image_pdfimage_print
Volg my

Kry kennisgewings

Pin It on Pinterest

Share This