Ons ken almal vir Abraham, die vader van die gelowiges. ’n Baie belangrike figuur in die Ou Testament, sal almal saamstem. Maar in die wêreld van destyds was Abraham nie juis besonder belangrik nie. Om die waarheid te sê, as daar toe al koerante was, sou daar seker nie ’n voorbladberig gewees het oor sy besluit om uit Ur uit weg te trek nie.

Tog is Abraham vir ons, gelowiges, so ’n belangrike figuur dat Paulus hom in Rom 4:16 “die vader van ons almal” kan noem. In ons gelese gedeelte sien ons iets daarvan. Want rondom die beloftes wat God aan hom gemaak het, is daar ’n raamwerk wat ons moet raaksien. Vers 1 sê: “Die Here het vir Abram gesê …” en vers 4 sluit daarby aan as daar staan: “Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here …”

Abraham is ’n belangrike figuur in die geskiedenis van God met die wêreld omdat hy iemand was wat gehoor het as God praat, en gehoorsaam daarop gereageer het.

Dít is hoekom hy ons almal se vader in die geloof is. Want dit is wat geloof beteken: om te luister na God se stem, om te hoor as Hy praat, en daarop te reageer. Paulus skryf daarvan in Rom 12:2 as hy sê: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. En in Efes 5:10 sê hy: Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is …

As ons ’n verskil wil maak in die wêreld, is dit één aspek waarop ons veral bedag moet wees: ons moet sy stem goed leer ken, sodat ons fyn ingestel sal wees op wat God sê. Want as Hy praat, maak Hy altyd aanspraak op ’n mens. Om na God te luister, eis iets van my, soms selfs iets groots. Van Abraham het Hy verwag om weg te trek van alles wat vir hom lief en dierbaar was, van al sy sekuriteite.

Ek dink ons moet dit goed hoor: God se aanspraak op ons lewens is nie aldag maanskyn en rose nie. Om God te gehoorsaam, kos ’n mens iets. Dit vra offers van ons: offers van tyd, van kundigheid, van prioriteite. Dit vra jouself! (Rom 12:1) Ek wonder dikwels of ons regtig bereid is om dié offers te bring. Ek ontdek in myself ook dikwels ’n onwilligheid om my program te verander sodat God se prioriteite meer tyd kry en myne minder. Ek het ’n idee ons is heeltemal te gemaklik as ons bid: “Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied …” Besef ons werklik dat hierdie gebede iets van ons óók vra, en nie los van ons gehoorsaamheid verhoor sal word nie?

Natuurlik eis God nie net nie. Sy eise kom altyd saam met beloftes van seën en sorg, soos vir Abraham. Nie noodwendig presies soos jy dit jou voorgestel het nie, soos Abraham moes leer. Van die land wat God hom beloof het, het hy met sy dood niks meer besit nie as net ’n stukkie grond met ’n grot waarin hy begrawe kon word. En van die groot nasie waarvan God praat, was daar ook maar min te sien: net ’n enkele seun Isak wat op sy oudag gebore is. Dis asof God se beloftes aan hom so half getalm het om in vervulling te gaan.

Ek wil graag aanhaal uit ’n roman oor Abraham se lewe. Abraham en Sara is al oud, en hulle kyk terug. Dan sê Abraham vir Sara:

“Toe ons vyf en dertig jaar gelede hier aangekom het, was ons nog jonk en vol ideale. En nou het ons altwee oud geword. So baie dinge het gebeur. Ek het destyds daar in Ur geglo dat ons self nog die vervulling van God se beloftes sal belewe; dat ons met ons eie oë die groot nageslag sal sien, en dat die land wat God ons belowe het, volledig ons s’n sal wees.” Sy stem raak stil terwyl hy na die Beloofde Land kyk. Dan dwaal sy blik na die boom voor hulle, soek hy na hulle seun wat hoog in die boom op ‘n tak sit. Dan gaan hy voort: “Maar dit het toe nie so gebeur nie.”
“Is jy teleurgesteld?” [vra Sara]
“As ek jou vyf en dertig jaar gelede moes antwoord, sou ek seker ja gesê het.”
“En vandag?” [wil Sara weet]
“God het my geleer dat sy tydtafel anders as ons s’n lyk.” Hy beduie na die land wat wyd en oop voor hulle lê. “Eendag sal ons nageslag so talryk soos die sterre aan die hemel wees, en sal hierdie land, dit alles aan God se volk behoort. Ons staan hier op die drumpel van die nuwe begin. En al wat ons het, is ‘n jong seun en ‘n lappie grond. Maar vir God is dit genoeg. En vir my.”

Dít is geloof: om God te hoor praat, en Hom dan gehoorsaam te volg, wel wetende dat dinge nie noodwendig sal loop soos jý wil nie. Langs die pad mag daar ’n verrassing of twee op jou wag. Maar ’n mens wat bereid is om God te gehoorsaam, ontdek weldra dat sy lewe nooit weer dieselfde is nie, want jy begin leef in die ruimte van God se voorsiening en seëninge.

Die tekens van God se teenwoordigheid en sy seën is soms maar effentjies, gemeet aan wêreldse standaarde. Abraham moes tevrede wees met ’n seun en ’n lappie grond. Ons het dikwels ook maar min om ons aan God se seëninge te herinner: ’n Bybel wat ons vertel van Jesus wat mens geword het vir ons, ’n kerk wat ons op talle maniere daaraan herinner dat Jesus ons gekruisigde en opgestane Here is, ’n gemeente waar ander gelowiges saam met ons op reis is, gehoorsaam aan God se stem soos Abraham, die Gees wat in ons woon en werk, ’n stukkie brood en ’n slukkie wyn … Dis tekens wat ons daaraan herinner dat God se beloftes wáár is, al lyk dit soms anders as wat ons dit sou wou hê.

Soos Abraham moet ons hierdie tekens vasgryp en gehoorsaam God se pad stap. En weldra ontdek jy: God se tekens is karig, maar genoeg. En dan kan jy moed skep en begin leef.

image_pdfimage_print
Volg my

Kry kennisgewings

Pin It on Pinterest

Share This