Bybelkoerant gesels met die skrywer van die boek Prediker

Skrywer: Tradisioneel is aanvaar dat dit koning Salomo was, maar meer waarskynlik was dit ’n Joodse wysheidsleraar uit die Hellenistiese tyd (die tyd ná Aleksander die Grote se wêreldoorheersing)
Ontstaanstyd: Waarskynlik iewers in die 3de eeu v.C.
Doel: Bevraagteken die tradisionele siening dat dit (noodwendig) goed gaan met die opregtes en sleg gaan met die goddeloses.

Pessimistiese lewensuitkyk?

My vroegste herinneringe aan die boek Prediker is die sinsnede: “Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” (Pred. 1:2 OAV). Dit het nog altyd vir my na ’n baie negatiewe en fatalistiese soort lewensbenadering gelyk; ’n lewensuitkyk wat nie pas by dié van ’n gelowige nie.

Die grysaard glimlag oor my woorde en trek sy skouers op. “Maar is dit nie waar nie, ou seun? Die son kom op en gaan weer onder, net om die volgende dag weer op te kom. Die water in die riviere loop jaar na jaar see toe, maar die see word nie vol nie. Of jy nou ryk is of arm, jy sal eendag sterwe, en al is jy nou die wysste mens op aarde, die dood kan jy nie ontwyk nie. En hoe meer jy probeer om sin in die lewe te soek, hoe meer ontwyk dit jou. Ek het álles probeer: geld, invloed, mag, plesier, seks – noem maar op! Baie van die goed wat ek probeer het, was vir ’n rukkie lekker ook, dit kan ek nie ontken nie, maar op die lang duur het dit nie sin aan my lewe gegee nie.”

Ek trek my asem in om te protesteer teen dié swartgallige siening van die lewe, maar hy hou sy hand op om my stil te maak. “Jy sien, ou seun, as ’n mens probeer om sin in die lewe te vind, moet jy nie na hierdie lewe en alles wat die wêreld bied, kyk nie. Op die ou end sal jy dan met my moet saamstem dat dit alles tevergeefs is. Maar – en dít is wat ek met my boek wou sê – daar is ’n ander manier ook om na die wêreld te kyk.”

Die lewe hét sin

Hy glimlag en sit effens terug om die dramatiese oomblik uit te rek, totdat ek my nuuskierigheid nie langer kan beteuel nie en vra: “En wat is dit?”

“Aha! Dis die groot vraag, nie waar nie? Wat gee sin aan die lewe as jy dit nie in geld, roem, plesier of mag kry nie?” Hy buig vertroulik vorentoe en sy oë vonkel van lewenslus. “Jy moet God raaksien, dís die geheim. Sonder God maak niks op aarde sin nie; is dit alles net ’n gejaag na wind, soos ’n hond wat al in die rondte agter sy stert aan jaag. Maar as jy toelaat dat God jou lewe beheer; as jy ontdek dat Hy ’n plan het met jou en met jou mense, dán raak die lewe die moeite werd. Dis asof God jou losbreek uit die sinlose kringloop van elke dag se eet, werk, slaap, kinders grootmaak en sterf waarin ’n mens in hierdie wêreld vasgevang is.

“Kyk, as jy God inlaat in jou lewe en wêreld, ontdek jy dat Hy nie die Ongenaakbare is nie, maar die Goeie Gewer. Die lewe self is ’n gawe uit sy hand. Hy maak dit moontlik om die lewe werklik te geniet en gelukkig te wees. Dít was die fout wat ek gemaak het toe ek na sin gesoek het: ek het God buite rekening gelaat. Ek het geleef asof Hy nie daar is nie, asof Hy nie seggenskap in my lewe het nie. Maar so ’n selfgesentreerde lewe bevredig nie, ou seun. Dit laat net ’n wrang smaak in jou mond. Vat dit van my. Ek het my moeg gemaak in die proses, en dit was alles sinloos. Jy kan net so min sin in die lewe vind sonder God, as wat jy die wind kan vang en in jou sak steek.”

God is betrokke by ons daaglikse bestaan

Ek vertel hom dat daar vandag mense is wat glo God is in die hemel en Hy sal nie op bonatuurlike wyse ingryp om dinge op aarde te verander nie. Daarom help dit byvoorbeeld nie om te bid nie; God sal tog nie iets aan jou situasie doen nie.

Die wyse man skud sy kop. “Siestog. Wat mis hulle nie! En dit terwyl God elke dag vir ons sorg. Alles wat ons elke dag het om te geniet, gee Hy dan vir ons. Ek bid saam met jou dat dié misleide mense se oë sal oopgaan, ou seun. Die lewe is ’n fees, juis omdat God op soveel maniere by ons betrokke is en vir ons voorsien.”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.