Plaaslike korrespondent
SILO. – Die weldaad van ’n gasvrye boer het ’n lelike nadraai gehad toe die reisigers aan wie hy slaapplek verskaf het, ’n paar weke later met ’n roofbende teruggekeer het en sy tempel geplunder het.
Die ongelukkige man is Miga, ’n boer van die Efraimsberge. Hy het enkele weke gelede aan vyf mans uit Sora slaapplek gegee. Hulle was op ’n feitesending na die noorde om ondersoek in te stel na ’n nuwe woonplek vir hulle mense. Tydens hulle verblyf by hom het hulle ook in sy huistempel aanbid en die huispriester Jonatan, seun van Gersom seun van Moses, ontmoet. Jonatan het toe ook nog op hulle versoek die Here geraadpleeg en ’n voorspoedige afloop van hulle sending voorspel.
Die mans het vandeesweek dié gasvryheid lelik in Miga se gesig teruggegooi toe hulle met ’n bende van 600 gewapende mans by sy huis opgedaag het. Hulle het sy tempel geplunder, die beelde gesteel en boonop die priester omgepraat om saam met hulle na hulle nuwe tuiste in die noorde te kom.
Miga het sy bure se hulp ingeroep en die bende agterna gesit. Hy moes egter die aftog blaas toe die rowers hom met die dood gedreig het. Hy was hoogs ontsteld en wou nie met Bybelkoerant praat nie. Al wat hy gesê het, is: “Hoe sal jy voel as jy jou god wat jy gemaak het en jou priester op een dag verloor?”
Die polisie ondersoek die saak.
- Lees meer van hierdie dramatiese verhaal in Rig. 18.
Rabbi kasty Fariseërs in striemende aanval
– hulle maak glo hulle volgelinge “ryp vir die hel”
Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – Rabbi Jesus van Nasaret het gister hier een van sy skerpste aanvalle nóg op die skrifgeleerdes en Fariseërs gedoen.
In ’n toespraak voor ’n groot skare nuuskieriges het hy die skrifgeleerdes en Fariseërs by herhaling vir huigelaars uitgemaak, en hulle voorts onder andere “witgeverfde grafte” en “slange, addergeslag” en “blinde dwase” genoem. Hy het sy volgelinge aangeraai om te doen wat die skrifgeleerdes hulle leer, maar hulle belet om hulle voorbeeld te volg. Hy het gesê die Fariseërs is net daarop uit om indruk onder hulle volgelinge te maak.
Rabbi Jesus het die Fariseërs en skrifgeleerdes ook daarvan beskuldig dat hulle oor see en land rondtrek om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak hulle hom twee maal so ryp vir die hel as wat hulle self is.
In sy reaksie op rabbi Jesus se striemende aanval op die godsdiensleiers van die volk, het hoëpriester Kajafas gewaarsku dat Jesus nou te ver gegaan het. “Ons kan nie toelaat dat sulke mense ongehinderd hulle opinies lug nie,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat die rabbi se uitsprake grens aan godslastering. “As hy so voortgaan, sal ons geen ander keuse hê nie as om baie drasties teen hom op te tree. Hier is baie eenvoudige, gelowige Jode vir die pasgafees in Jerusalem byeen. Hulle sien op na die skrifgeleerdes en Fariseërs vir geestelike leiding, maar nou word hulle belaglik gemaak in die oë van die volk. Dit is jammer dat rabbi Jesus juis hierdie feestyd misbruik om sy verwronge idees die wêreld in te stuur.”
Die pasgafees begin oor twee dae.
- Lees hiervan in Matt. 23:1-39.
Selfgemaakte godsdiens
Een van die mees patetiese maar terselfdertyd veelseggendste uitsprake in die Bybel is seker dié van Miga in Rig. 18:24: “Maar julle het my god wat ek gemaak het, gevat en ook my priester … Wat het ek nou oor?” Want Miga het inderdaad niks oorgehad nadat hulle sy selfgemaakte god en priester gesteel het nie.
Dit is natuurlik die probleem met ’n selfgemaakte godsdiens: jy verloor dit net so maklik as wat jy dit maak. Want al jou goeie bedoelings ten spyt, is God nie daarin te vinde nie. Hy laat Hom eenvoudig nie indruk in ons skemas nie.
Dit was waarom Jesus so heftig teen die Fariseërs gekant was. In hulle misplaaste ywer het hulle ’n godsdiens ontwerp waarin God Hom geensins tuis gevoel het nie.
Ongelukkig is dit nie net ’n slaggat waarin die Fariseërs getrap het nie. Dit bly ’n wesenlike gevaar, ook vir ons vandag, dat ons só besig kan raak met ons godsdiens en allerhande kerklike aktiwiteite en vergaderings dat ons iewers, ongemerk, vir God langs die pad verloor. Dan voel Hy later ontuis in sy eie kerk. Niks kan die kinderlike afhanklikheid en opregte eenvoud van die gelowige leef-voor-God vervang nie.
O, dat ons weer soos Dawid voor God kan leef! “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd” (Ps. 131:2,3).
Views: 9