Vir die kinders:
Weet julle, in die Bybel lees ons ook van mense wat soms bang was, soos Jakob. Jakob het sy broer Esau só kwaad gemaak dat Esau hom gehaat het. Jakob het sy pa bedrieg en in die proses sy broer besteel. Hy het hom soos Esau vermom en so het hy die erfporsie gekry wat sy pa eintlik vir Esau bedoel het.
Esau was natuurlik nie baie beïndruk met die toedrag van sake nie. Hy het wraak gesweer, en Jakob moes vir sy lewe vlug, weg van sy geliefde ma, en weg van die grond wat sy pa in die seën aan hom toegesê het; weg van die beloofde land wat God al aan sy oupa Abraham belowe het.
Jakob het gedink hy is stoksielalleen in die wêreld, en daar is niemand by hom nie, maar hy was verkeerd! Daar was baie, baie engele by hom. God het hulle gestuur om vir Jakob op te pas. En – dit moet ons nooit vergeet nie – God was ook by hom. God laat ons nooit alleen nie. Hy is altyd by ons. Ons lees in die Bybel dat God by Jakob kom staan het en dit vir hom belowe het.
As jy weer bang is, onthou dan: die Here is by my. Hy pas my op, en Hy stuur sy engele om na my te kyk. Jy is tog sy kind! Daarom is jy gedoop in sy Naam.
Jakob vlug weg van sy mense. Hy sou sy ma nooit weer sien nie. Dís wat sonde doen. Dis wat gebeur as jy met lis optree en die reg in eie hande neem. En so vlug Jakob na sy ma Rebekka se mense in Haran. Nouja, in daardie dae was daar mos nie motors of treine of vliegtuie nie. Nee, Jakob moes te voet vlug, dae en dae lank. En hy was alleen. Enige iets kon met hom langs die pad gebeur het: ’n wilde dier kon hom dalk vang en opeet, of rowers kon hom besteel of selfs doodmaak. En boonop kon Esau hom agterna sit!
Hy het seker heelpad omkyk-omkyk gedraf-loop. Dié aand kom hy by ’n plekkie genaamd Lus, en hy slaap sommer in die veld onder die sterre. Daar was mos nie hotelle of gastehuise en dinge nie! So hy lê sommer so op die grond, en vir ’n kopkussing gebruik hy ’n klip, seker dat daar nie goggas in sy ore inkruip terwyl hy slaap nie. Gerieflik kon dit nie wees nie.
En hy voel stoksiel-alleen. Bang. Onseker. Mismoedig. Verlate.
Ons moet onthou hoekom Jakob alleen daar in die veld was. Hy het gesondig, en dit het hom ingehaal. Dalk het hy gedink hy vlug nie net van Esau af weg nie, maar sommer van God ook! Soos Adam en Eva in die Tuin van Eden, wat vir God weggekruip het nadat hulle van die verbode vrug geëet het. Dis mos wat sonde doen: dit bring verwydering tussen jou en God; jy raak bang vir Hom.
Toe hy aan die slaap raak, droom hy. Dis ’n angswekkende droom, van ’n leer wat langs sy kop geplant is en tot in die hemel reik, met engele wat op en af op die leer klim, en aan die bopunt van die leer is God! Jakob het verniet gedink hy kan vir God weghardloop, want daar staan God. Hy weet presies waar Jakob is!
Ons kan nie vir God wegkruip nie. Dit het Dawid ook besef in daardie wonderlike Psalm 139, nie waar nie? Daar sê hy mos: Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. (vers 7-12)
Jy kan nie vir God wegkruip nie. Dit het Adam en Eva in Eden uitgevind, en dit vind Jakob ook uit, daardie nag in die veld. Want God is oral, en Hy sien oral! Ek dink Jakob het hom boeglam geskrik. Wat gaan God sê? Hoor wat sê hy toe hy wakker skrik (vers 16): Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.
Die evangelie is dat dit nie nodig is om vir God weg te kruip nie! Want Hy kyk nie na ons met wraakgierige oë nie! Hy kyk na ons met genadige oë, ook – veral! – wanneer ons dit nie verdien nie. Dit het Jakob daardie nag uitgevind. Want – kyk net hoe wonderlik is God! – God het nie in die hemel aan die bopunt van die leer bly staan nie. Ons lees dat God by Jakob kom staan het (vers 13) en dit vir hom belowe het (vers 15a): Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan.
Nie oordeel nie, maar troos en ’n belofte! Want jy sien, God se beloftes, en die waarmaak van sy beloftes, is in die eerste plek nie van óns afhanklik nie, maar van God en sy trou.
Dis ’n woord wat ek en jy vir ons ook kan neem vanoggend: Die Here is by my. Hy pas my op, en Hy stuur sy engele om na my te kyk. Jy is tog sy kind! Dis immers wat Jesus belowe het in Matt 28: “Onthou, Ek is by julle al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld.”
Dis die God wat ons aanbid. Ons is nooit alleen nie, want God is by ons om ons op te pas, elke dag.
Amen.