Van ons misdaadverslaggewer

MISPA. – ’n Leviet wie se byvrou beswyk het nadat sy die hele nag lank deur straatboewe verlaag is, het in sy ontreddering die vrou se lyk in twaalf stukke opgesny en die stukke toe deur die hele Israel gestuur.

Dié wanhoopsdaad het selfs die gehardste burger van Israel tot in sy siel geskok en met weersin vervul. ’n Blitsberaad is deur die leiers van die twaalf stamme van Israel byeengeroep om op die omstandighede van die gruweldaad in te gaan. Die beraad sal môremiddag hier in Mispa begin.

Die gebroke Leviet wou nie verlof gee dat sy naam gepubliseer mag word nie. Hy het aan Bybelkoerant vertel dat hy, sy vrou en sy slaaf van Betlehem af na sy huis in die Efraimsberge op pad was toe die nag hulle ingehaal het. Hulle het besluit om sommer op die dorpsplein in Gibea te oornag, maar ’n bejaarde inwoner het vir hulle onderdak aangebied. Kort daarna het straatboewe by sy huis opgedaag en geëis dat die Leviet aan hulle uitgelewer moet word sodat hulle geslagsgemeenskap met hom kan hê. In ’n poging om die boewe te kalmeer, het die Leviet toe sy byvrou by die deur uitgestoot na hulle toe. Dit was die laaste keer dat hy haar lewend gesien het. Toe hy die volgende oggend na haar gaan soek, het sy dood by die voordeur gelê.

Na verwagting sal die leiers sterk optree teen die oortreders. ’n Afgevaardigde van Juda het gesê dié skandvlek moet uitgewis word. “Het ons dan nou net soos Sodom en Gomorra geword?” het hy verslae gevra.

  • Lees van hierdie swart dag in Israel se geskiedenis in Rig. 19:1-20:2.

 

KERKLEIER SE BRIEF VEROORSAAK OPSKUDDING IN GEMEENTE

TIATIRA. – Daar heers konsternasie en ontsteltenis in die Christelike gemeente hier sedert die plaaslike leraar verlede Sondag ’n brief van ’n prominente kerkleier aan die gemeente voorgelees het.

Die brief kom van die apostel Johannes, voormalige leraar van die naburige gemeente in Efese en tans ’n balling op die eiland Patmos. Skynbaar het hy die brief geskryf in opdrag van die Koning van die kerk, Jesus Christus.

Veral Isebel, een van die gemeente se profetesse, en haar aanhangers is woedend. Die rede vir hulle ontsteltenis is die kras oordeel wat in die brief oor Isebel en haar volgelinge se leer en lewe uitgespreek word.

Die leraar het, nadat hy die brief voorgelees het, ’n dringende beroep op al die lidmate gedoen om die brief ter harte te neem, en ook ’n ernstige oproep tot Isebel en haar volgelinge gerig om hulle te bekeer. Na bewering het Isebel egter in die erediens opgespring en die gesag van die brief bevraagteken. Sy het onder andere gesê sy weier om te aanvaar dat die brief van Jesus Christus af kom. Sy het voorts gesê sy sal haar nie aan die wilde hersenskimme van ’n seniele ou balling steur nie. Daarna het sy uit die kerkgebou gestorm, gevolg deur ’n aantal van haar aanhangers.

Die kerkraad vergader vanaand om die aangeleentheid verder te bespreek.

 

IN ’T KORT

MAN VOORSPEL GROOT VLOED

EDENVERLOREN. – ’n Man het hier uit sy werk bedank en begin om ’n skip te bou omdat hy verwag dat ’n groot vloed die hele aarde sal verswelg.

Die man is Noag seun van Lameg. Sy skip van goferhout sal groot genoeg wees om sy gesin en ook diere te huisves, sodat hulle die vloed kan oorleef.

 


Weerstaan die listige aanslae

’n Mens skrik partykeer vir die beeld in die spieël wat die Bybel voor jou ophang. Die verskriklike verval in Noag se tyd kan ons nog afmaak en sê hulle het nie die Here geken nie. Maar die Benjaminiete van Gibea was deel van die Godsvolk, en die vrou Isebel en haar volgelinge het tot die kerk van die Here Jesus behoort.

Dít is stof tot nadenke. Paulus waarsku nie verniet nie dat ons met die “liste van die duiwel” te doen het, dat ons in ’n “worstelstryd” teen hom gewikkel is (Ef. 6:11 en 12, 1953-vertaling).

In hierdie stryd is ons egter nie weerlose slagoffers nie. Ons behoort immers aan dié Een aan Wie alle mag gegee is in die hemel en op die aarde (Matt. 28:18). Die apostel Johannes skryf hieroor (1 Joh. 4:4): “Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.”

Ook vandag se listige aanslae sal nie sterker wees as wat jy in God se krag kan weerstaan nie!

image_pdfimage_print

Views: 40

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.