Ons is steeds by Jakob: daardie JR Ewing-figuur uit die Ou Testament. Die ou wat niks of niemand ontsien het as dit by eie gewin gekom het nie. Sy grootste ongelukkigheid as kind was dat hy tweede gebore is, enkele minute ná sy tweeling-ouboet Esau. Twee keer het hy probeer om dié probleem reg te stel. Eenkeer het hy Esau se eersgeboortereg by hom gekoop vir ’n pot lensiesop, en ’n ander keer hy het selfs sy eie pa bedrieg om Esau uit sy erfporsie te kul. Daardie keer het hy te ver gegaan, en Esau het wraak gesweer. Hy het gesê: “My pa se dood is nie meer ver nie, dan maak ek my broer Jakob dood.”
Toe het Jakob gevlug en by sy oom Laban gaan woon. En daar het hy streke voortgesit. Ons sê mos: ’n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie. Op die ou end is hy onder ’n wolk van beskuldiging uit Haran weg.
En Gen 32 tref ons hom aan waar sy verlede en sy gekonkel hom ingehaal het. Hy het hom vasgeloop. Agter hom is sy skoonpa-oom Laban, met wie hy ’n strammerige nie-aanvalsverdrag moes sluit om uit Haran weg te kon kom (Gen 31). En voor hom wag Esau met ’n geselskap van 400 man. En hy is in die middel. Dis nie ’n aangename vooruitsig nie! Daarom stuur hy ’n reusegeskenk vooruit om Esau te paai, en boonop verdeel hy sy mense in groepe op, sodat Esau nie almal gelyk kan afmaai nie. Hopelik sal hy en Ragel en Josef in die agterste groep Esau se wraak oorleef. So redeneer hy.
Toe Esau daardie oggend opgestaan het, het hy waarskynlik gesis: “Oor my dooie liggaam sal hy sy voete in Kanaän sit!” In sy gedagtes het die toneel van 20 jaar tevore weer so duidelik voor hom afgespeel asof dit gister gebeur het: hy kom uit die veld met die bokkie wat hy vir sy pa geskiet het, oor sy skouer. En dan kom Jakob triomfantelik uit hulle pa Isak se tent, nogal met sý beste klere aan! En die verbystering en teleurstelling toe hy kort daarna by sy pa moes hoor dat Jakob die eersgeboorte-seën by hom gesteel het, stoot vandag nog bitter in sy keel op as hy net daaraan dink. Ja-nee, Jakob se dae is getel, dié is seker.
En tog, toe Jakob alleen en al hinkende-pinkende voor sy mense uit met ’n bonsende hart sy broer Esau en sy gevegsmag van 400 man tegemoet gaan, wag Esau hom nie met ’n swaard in sy hand in nie. Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels, sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil, lees ons in vers 4.
Hoekom omhels hy sy broer? Hoekom maak hy hom nie dood, soos hy homself moontlik voorgeneem het toe hy daardie oggend opgestaan het nie? Is dit maar ’n geval van bloed wat dikker is as water?
Ek dink daar is twee dinge wat Esau se hart verander het: natuurlik het God alles daarmee te doen gehad. Hy is die een wat gesindhede kan verander en mense tot versoening kan bring (vgl 1 Sam 10:9). Natuurlik was Hy hier aan die werk. Dis die eerste ding wat ons moet raaksien. As ons nie in God se beskikking, ook in ons verhoudings met mense, glo nie, kan ons maar vandag nog ophou probeer.
Maar daar is nog ’n verskriklik belangrike ding: Jakob het verander. Dit was nie dieselfde man wat 20 jaar tevore niks daarvan gedink het om sy eie pa te bedrieg, wat nou voor Esau gestaan het nie. Dis ’n man wat deur God op die heup geslaan is, vermurwe is, nederig gemaak is, wat na Esau aangehink gekom het, en op pad sewe keer gebuig het voordat hulle by mekaar gekom het. Weg is die arrogansie van vroeër jare, toe hy niks daarvan gedink het om Esau se ganse erfenis te eis in ruil vir ’n bord lensiesop nie. Daarom is dit nogal opmerklik dat Jakob, anders as Esau, sy broer nooit “jy” en “jou” nie, en volhard om as “u” aan te spreek en “my heer” noem (vers 10 BDV). Hiermee gee hy iets van hierdie hartsverandering te kenne. Hy erken dat Esau sy meerdere is, die oudste broer en regmatig die erfgenaam.
Wat het dan met Jakob gebeur? Daarvoor moet ons terugblaai na Gen 32, wat die paar dae vóór die ontmoeting in Gen 33 beskryf. Dit begin waar Jakob ’n leër van engele teëkom by Maganajim. Onwillekeurig dink hy 20 jaar terug, aan Bet-El, toe hy op die vlug was uit Kanaän, waar hy ook ’n skare engele in die nag gesien het, en God dié nag aan hom belowe het dat Hy hom sal bewaar in die vreemde, en dat hy eendag weer sal terugkeer. Vir die eerste keer in die Bybel lees ons daar dat Jakob bid. Twee dae later trek hulle deur die Jabbokdrif, en daardie nag ontmoet hy God in sy worsteling met ’n geheimsinnige man. Daardie nag het Jakob se hele lewe verander. Na daardie nag was Jakob nooit weer dieselfde nie; hy was mank aan sy heup, en sy naam het verander na Israel, wat beteken “God voer sy stryd”.
Hiér lê die geheim van Jakob en Esau se versoening. Jakob het uiteindelik met God vrede gemaak, en daarom kon hy ook met sy broer gaan vrede maak. Dis nogal interessant dat ons ná Gen 32 nie weer van een enkele skelmstreek van Jakob lees nie. Jakob is nie meer wat hy was nie. God het hom voorgekeer.
Hoor dit vandag: Selfs die diepste skeure in jou verhouding met iemand anders kán herstel. Gen 33 is daarvan vir ons ’n klinkklare bewys. Maar dit kan net gebeur as jý verander. As jy ophou om te bid: verander so-en-so se hart, dat daar vrede kan kom. As jy begin bid: verander asb mý hart, dat daar vrede kan kom.
Dis wat hier gebeur het. Jakob het verander, en Esau het dit agtergekom. Uiteindelik het dit hóm ook verander, en daarmee was die eerste wankelrige treetjies op pad na versoening gegee. Ek sê eerste treetjies, want daar was nog ’n lang pad voor. Stukkende verhoudings word nie in ’n oogknip herstel nie. Wonde moet eers genees, en agterdog verdwyn nie oornag nie. Daarom sien ons vir Jakob en Esau, lank aan die kibbel oor die geskenk wat Jakob aan Esau gegee het, en oor of hulle saam sal trek of nie. Jakob en Esau het nog harde werk gehad om die gesindhede weer van voor af op te bou. Maar hulle het begin, deur God se genade. En daarom kon hulle later, toe hulle pa Isak dood is, saam-saam vir hom in Hebron gaan begrawe (35:29).
Die bekende Duitse teoloog Dorothee Sölle het by geleentheid geantwoord, toe ’n joernalis haar gevra het of sy regtig glo iemand kan verander, dat dit die mees ongelowige vraag is wat sy al gehoor het.
’n Jakkals kán van streke verander. Jakob het, toe God hom voorgekeer het. En stukkende verhoudings kán herstel, nee, móét herstel. In God se krag word dit moontlik. Mits ek en jy bereid is om te bid: Here, begin in my eie hart. Verander mý, sodat ek wat stukkend is, kan heelmaak. Amen.
Views: 54