Van ons militêre verslaggewer

BET-EL. – Duisende soldate het gesneuwel en die stam Benjamin is op seshonderd man na uitgewis in ’n sinnelose burgeroorlog tussen Benjamin en die res van Israel.

Verdwaasde Israelitiese volksleiers het gister hier byeengekom om bestek op te neem van die afgelope vier maande se gebeure. ’n Droewige prent het in die verslag ontvou: meer as veertigduisend Israeliete het gesneuwel. Verder het meer as vyf en twintigduisend Benjaminitiese soldate omgekom. Elke stad en dorp van Benjamin is in puin gelê en al die inwoners en selfs die diere is gedood. Slegs seshonderd man het ontkom en skuil tans by die Rimmonrots.

Stamleiers het saamgestem dat hulle in hulle ywer om die straatboewe van Gibea te straf, heeltemal oorboord gegaan het. “Ons het ons ongelukkig laat opsweep deur ’n uiters emosionele Leviet wat sy byvrou op ’n hartverskeurende manier in Gibea verloor het. ’n Mens kan sy emosionele oproep om wraak nog verstaan, maar dat ons almal in die proses kop verloor het, kan nie goedgepraat word nie,” het die priester Pinehas seun van Eleasar aan Bybelkoerant gesê.

Die dilemma waarvoor die stamleiers nou te staan gekom het, is dat die stam Benjamin gevaar loop om uit te sterf. Slegs seshonderd van hulle het oorgebly, en hulle het alles verloor: vrouens, kinders, diere, besittings. Daarby het die Israeliete ’n eed gesweer dat niemand van hulle hulle dogters met ’n Benjaminiet sal laat trou nie. Die Benjaminiete het dus ook nie die vooruitsig om weer huwelike aan te gaan en voor te begin nie.

Die stamleiers is dit eens dat hulle nie kan toelaat dat die stam Benjamin verdwyn nie. Hulle vergader môre weer om na moontlike oplossings vir die dilemma te kyk.

 

HUWELIKSKLOKKE LUI VIR SIGEM

SIGEM. – Die hubaarste man in Sigem, die Hewiet Sigem seun van Gamor, gaan trou. Die gelukkige bruid is Dina, enigste dogter van die Hebreër Jakob seun van Isak.

Gamor het gister by ’n groot onthaal in die stad sy seun se verlowing bekend gemaak. Sy aankondiging kom aan die einde van ’n week waarin daar druk onderhandel is tussen hom en Dina se pa en broers, en daarna weer tussen hom en die stadsvaders van Sigem. Die huwelik sal na verwagting groot voordele vir die stad Sigem inhou, aangesien Jakob ’n baie vermoënde man is.

’n Groot struikelblok wat uit die weg geruim moes word, is die kwessie van die besnydenis. Dina se broers het as voorwaarde vir hulle toestemming tot die huwelik geëis dat al Sigem se mans besny moet word, aangesien hulle godsdiens ’n huwelik met ’n onbesnedene verbied. Nadat Gamor die burgers van Sigem omgepraat het, het hulle hiertoe ingewillig. Al die volwasse mans van Sigem sal nou volgens ooreenkoms môre besny word.

  • Lees van hierdie gebeurtenis wat toe nooit op ’n huwelik uitgeloop het nie, in Gen. 34.

 


’n Beter opsie

’n Mens verbaas jou elke keer weer vir die verstommende kapasiteit wat ons mense het om van een duiwel tien te maak. In ons ywer om reg en geregtigheid te laat geskied, verloor ons alte dikwels kop, en word dit later nie meer ’n ywer vir die reg nie, maar ’n wraaktog waarin die straf alle verband met die oortreding verloor, soos die optrede van Dina se broers en die Israeliete se uitwissingsveldtog teen Benjamin maar te duidelik illustreer.

Sonde kan nooit met mag en geweld reggestel word nie. Dit bring net groter ellende. Die Spreuke-digter se raad (Spr. 15:1) is daarom nie te versmaai nie: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam.”

Gelukkig is God anders as ons. Gelukkig dat Hy nie ons sonde met groter woede beantwoord nie. Gelukkig dat Hy nie volgens die “oog vir ’n oog en tand vir ’n tand”-skema (Matt. 5:38) werk nie. God se liefde vir ons breek deur hierdie bose kringloop van sonde. Daarom sterf Christus vir ons toe ons nog vyande van Hom, goddelose sondaars was (Rom. 5:6-10).

Kom ons bid dan saam met Franciscus van Assisi: “Here, maak my ’n instrument van u vrede. Waar daar haat is, laat my liefde saai; waar daar onreg is, vergifnis; waar daar twyfel is, geloof; waar daar wanhoop is, hoop; waar daar duisternis is, lig; waar daar droefheid is, blydskap … Gee dat ek nie soseer sal soek om getroos te word nie as om te troos … Dit is deur te vergewe dat ons vergewe word …”

image_pdfimage_print

Views: 1

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.