Met Nasionale Vrouedag en Vrouemaand in Augustus loop my kop half onwillekeurig deur die Bybelblaaie na die vroue van weleer. Veral twee vroue het om een of ander rede hulle by my aangemeld: Ragel en Lea. Of is dit Lea en Ragel? Sien, dis die hele probleem met dié twee susters. Wie kies jy nou eintlik?
Ek het altyd ’n sagte plekkie vir Ragel gehad. Miskien omdat sy Jakob se eerste liefde was. Of miskien omdat sy toe nie Jakob se eerste vrou geword het nie. Of miskien omdat sy so lank kinderloos was, en uiteindelik net twee seuns gehad het terwyl Lea ’n halfdosyn seuns en ’n dogter kon wys, Jakob se afskeep-aandag ten spyt. Of miskien omdat sy met Benjamin se geboorte dood is.
Miskien. Maar die antwoord lê dalk eerder opgesluit in Gen 29:17, waar staan dat Lea sagte oë gehad het, maar “Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon.” Dalk het ek my deur haar mooi gesiggie en uurglas-lyfie laat vang. En dis gevaarlik. Want toe ek so ’n bietjie begin nadink oor Ragel en verder as haar uiterlike gekyk het, ontdek ek tot my teleurstelling dat sy glad nie die dierbare engeltjie was wat ek altyd geglo (gehoop?) het sy is nie. Die feit dat sy mooi was, is omtrent die enigste positiewe ding wat die Bybel vir ons van haar vertel. Jakob was baie lief vir haar. Vier maal in Genesis 29 staan daar dat hy haar liefgehad het. Maar nie een keer vertel die Bybelskrywer ons hoe Ragel oor Jakob gevoel het nie. Dalk moet ons nie te veel in dié weglating lees nie. Of dalk tog … Dit was mos sy wat haar pa se afgodsbeeldjies gesteel het toe hulle uit Haran weg is, dan nie?
Lea het sagte oë gehad
Ek is bevrees Ragel was een van daardie mense wat feitlik alles het, maar nie daarmee tevrede is nie en ook nog die bietjie wat ander het wil inpalm. Sy was gewoond daaraan om almal om haar fraai pinkie te draai. Daar was so ’n meisie in ons skool ook. Die seuns het om haar aandag meegeding. Heel voorspelbaar het sy uiteindelik, nadat sy baie seuns probeer het, die sportster van die skool – self ’n hartebreker – gekies. Maar iemand wat gewoond is om al die aandag te kry, wat gewoond daaraan is om die middelpunt van belangstelling te wees, leer nie van kleins af die soort deugde aan wat die Here by ’n vrou soek nie. Daarom was sy glad nie goeie troumateriaal nie. Hulle huwelik het nie baie lank gehou nie.
Lea, daarenteen, het nie eintlik die oog met haar grasieuse skoonheid gevang nie. Maar ’n wonderlike ding word van haar gesê. Sy het sagte oë gehad. Hoe sê die Bybel nou weer in 1 Pet 3:3,4? “Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge … nie. Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde.”
Ek dink Jakob was ’n swaap. Ek kies vir Lea.