Godsdiensverslaggewer

SILO. – Die jaarlikse huttefees het gister hier in chaos geëindig toe ’n bende mans op die dansende meisies by die fees toegesak het. Altesaam tweehonderd meisies is ontvoer.

Sover vasgestel kan word, is die ontvoerders almal Benjaminiete wat vir hulle vrouens kom haal het. Nadat die stam Benjamin vroeër vanjaar in vergeldingsaanvalle so te sê uitgewis is, het hulle sonder vrouens agtergebly. Volgens ’n plegtige eed kon geen Israeliet sy dogter met ’n Benjaminiet laat trou nie.

Onbevestigde berigte lui dat dié menseroof nie die Benjaminiete se plan was nie, maar deur die stamleiers bedink is om die eed wat hulle destyds teen Benjamin afgelê het, te omseil. Volgens dié plan sou die ouers van die dogters wat op hierdie wyse die Benjaminiete se bruide word, onskuldig wees aan die verbreking van hulle eed om nie hulle dogters met Benjaminiete te laat trou nie.

Ouers en broers van die geroofde meisies is egter woedend. Hulle sê die stamleiers het nie die reg om hulle dogters aan die Benjaminiete uit te veil nie. Een ontstoke vader het teenoor Bybelkoerant opgemerk: “Ek het ’n dogter én die bruidskat wat sy moes inbring, verloor, en nou probeer hulle my paai en sê ek moet my nie bekommer nie, ek verbreek nie ’n eed omdat my dogter met ’n Benjaminiet trou nie! Bid jou aan!”

Intussen het die organiseerders van die huttefees hier in Silo hulle ernstige misnoeë met die hele toedrag van sake uitgespreek. Hulle sê dit is betreurenswaardig dat ’n belangrike godsdienstige fees op hierdie manier misbruik is. In ’n verklaring wat hulle vanmiddag op ’n perskonferensie voorgelees het, sê hulle onder andere: “Die hele aangeleentheid getuig van ’n totale gebrek aan aanvoeling en begrip vir die godsdienstige sentimente van ons mense.” Hulle het gesê hulle sal nie rus voordat die stammeraad ’n bevredigende verduideliking oor hulle aandeel in die saak gegee het nie.

  • Lees dié geskiedenis in Rig. 21.

 

Israel verdryf Filistyne, maar volg nie op

GIBEA. – Die Israeliete het gister ’n historiese oorwinning oor die Filistyne behaal toe hulle die Filistyne uit die hele gebied van Mikmas tot by Ajalon verdryf het.

Die held van die oorwinning is kroonprins Jonatan. Hy en sy wapendraer het eiehandig die Filistynse besettingsmag in die Mikmaspas aangedurf en twintig Filistyne gedood. Paniek en verwarring het daarna onder die Filistynse soldate uitgebreek, en dit is vererger deur ’n aardbewing.

In hierdie stadium het koning Saul en sy mag van seshonderd man tot die stryd toegetree, asook talle Israeliete wat uit vrees vir die Filistyne in die berge geskuil het. Hulle het die Filistyne agtervolg tot by Ajalon. Hier is die agtervolging gestaak sodat die soldate hulle kragte kon herwin, aangesien koning Saul hulle met ’n eed verbied het om iets te eet voor die aand.

Militêre waarnemers het hulle verbasing uitgespreek oor die feit dat koning Saul die agtervolging gestaak het. Volgens hulle het hy ’n gulde geleentheid om die Filistynse oorheersing finaal te verbreek, deur sy vingers laat glip.

’n Hewige rusie laat gisteraand tussen koning Saul en Jonatan is skynbaar die rede vir die voortydige beëindiging van die agtervolging. Jonatan het glo sy pa se eetverbod verontagsaam.

 


Met integriteit en ootmoedig voor God

As dit nie so tragies was nie, was dit seker skreeusnaaks, dié pogings van die stamleiers om hulle brouwerk reg te maak. En ’n mens kan maar net jou kop skud vir Saul se optrede.

In beide gevalle is die probleme gekompliseer deur ’n eed wat, hoewel opreg en vroom bedoel, sake lelik omgekrap het. Geen wonder nie dat die Here Jesus sê (Matt. 5:34-37): “Moet glad nie ’n eed aflê nie … Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

As jy in afhanklike ootmoed voor God en in openhartige eerlikheid teenoor ander lewe, raak kunsmatige metodes om jou integriteit te toon oorbodig.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.