Toe ek ’n student was, was ek ’n keer op ’n stranddiensspan in Struisbaai. Ons het ’n baie frustrerende begin gehad. Daar was nie sprake daarvan dat ons strand toe kon gaan nie. Die wind was dae lank stormsterk; só erg dat ons dit nie kon waag om die tent waarin ons gebly het, selfs vir ’n oomblik te los nie, want hy wou net opstyg. Die tentpenne het die hele tyd uit die grond geruk. Ons moes later ’n paar droppers by ’n boer in die omgewing gaan leen, net om die tent behoorlik geanker te kry.
Ná omtrent ’n week het die spanleier ons bymekaargeroep. Hy het gesê ons moet oor die situasie bid, want ons kan nie só aangaan nie. Hy was baie verskonend daaroor, en het gesê hy weet ons het geen reg om God met so iets te pla nie, want ons verdien niks by Hom nie, maar hy voel tog dat ons in dié omstandighede daaroor moet bid.
Snaaks hoe só ’n insident ’n mens bybly. Ek onthou dat ek destyds nogal gebelgd gevoel het oor die spanleier se verskonende houding. Ek het gevoel ons hoef nie verskoning te vra dat ons met ons nood na God gaan nie. Maar ek het destyds nog nie die woorde gehad om my saak te stel nie.
Hebreërs 10:19-22 het my die woorde gegee: “… ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom …” sê die skrywer in vers 19. Die woord wat die NAV met “vrye toegang” (παρρησία, parresia) weergee, beteken eintlik “vrymoedigheid”, soos die BDV dit inderdaad vertaal: “… ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom …” Dié woord kom uit die Griekse demokrasie. In elke Griekse stadstaat het daar vryburgers, slawe en vreemdelinge gewoon, maar slegs die vryburgers het parresia gehad, wat hulle toegelaat het om aan verkiesings deel te neem, stadsvergaderings by te woon en daar aan die debatte en besluite deel te neem. As jy nie parresia gehad het nie, was jy by voorbaat daarvan uitgesluit. Parresia was nie net ’n voorreg wat vir enkele indiwidue gereserveer is nie. Ál die vryburgers het daardie reg gehad.
Nou sê die Hebreër-skrywer: Ons het óók parresia! Ons kan met vrymoedigheid voor God se troon gaan staan! Ons het die rég om dit te doen. Ons mág tot God nader, want Christus het dit vir ons verkry. Dis hoekom die voorhangsel geskeur het toe Hy gesterf het (vers 20): die skeiding tussen God en mens is weggeneem, want Hy het ons sonde, dít wat gemaak het dat ons vir God behoort weg te kruip (kyk gerus na Gen 3:8-10), met sy bloed weggewas.
Dis baie soos stemreg vandag. Elke volwasse landsburger van die RSA het stemreg. Jy hoef dit nie te koop of te verdien nie. Dis jou reg om aan die verkiesing deel te neem en jou stem uit te bring. Natuurlik help dit jou niks as jy nie gaan stem nie.
Ek en jy het die reg om na God te gaan. Ons mág dit doen. Ons móét dit doen. Trouens, God verlang daarna dat ons na Hom toe moet gaan en ons hart voor Hom sal uitstort. Dis ons reg, én ons plig. Kom ons maak van dié reg gebruik.
Dís die evangelie!