Van ons Ou Testament redaksie
SAMARIA. – ’n Paleiswoordvoerder het vanoggend bekend gemaak dat die toestand van koning Ahasia kommerwekkend is. Volgens die dokters is hy “ernstig, maar stabiel”. Hy het verlede week deur die traliewerk van sy bokamer geval en veelvuldige beenbreuke asook inwendige beserings opgedoen.
Dit het intussen ook aan die lig gekom dat die koning ’n afvaardiging na Ekron gestuur het om die god Baäl-Sebub oor sy toestand te raadpleeg. Baäl-Sebub van Ekron is die Kanaänitiese god van lewe en gesondheid. Die afvaardiging is egter langs die pad voorgekeer deur ’n man in velklere en met ’n velgordel om sy middel. Hy het hulle na Samaria teruggestuur met die boodskap dat die Here die koning sal laat sterf omdat hy die god van Ekron wou raadpleeg, en nie die God van Israel nie.
Hoewel die boodskappers nie die man kon eien nie, bestaan die vermoede dat dit Elia die Tisbiet was.
Elia het enkele jare gelede koning Ahasia se ouers, Agab en Isebel, die stryd aangesê omdat hulle die Baäldiens in Israel ingevoer het. Onder sy aanvoering is honderde Baälpriesters destyds op Karmelberg gedood.
In antwoord op ’n vraag van Bybelkoerant het die paleiswoordvoerder bevestig dat die koning ’n lasbrief uitgereik het vir die inhegtenisneming van Elia op ’n aanklag van hoogverraad. ’n Offisier met vyftig soldate het glo reeds vertrek om Elia in hegtenis te neem.
- Lees hiervan, en van die tragiese lot van die offisier en sy troepe, in 2 Kon. 1.
JONG RABBI TREK GROOT SKARES
Van ons Nuwe Testament redaksie
KAPERNAUM. – ’n Jong rabbi van Nasaret, Jesus seun van Josef, is besig om ’n groot gevolg te versamel met sy kragtige prediking en genesingswonders. Mense uit die hele Joodse gebied en ook uit die gebied van Tirus en Sidon stroom na Galilea om hom te sien en te hoor, of in die hoop dat hy hulle gesond sal maak.
Rabbi Jesus het onlangs uit die groot aantal volgelinge die volgende mense as sy apostels (“gestuurdes”) aangewys: Simon en sy broer Andreas, die broers Jakobus en Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die fanatikus, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot.
- Lees hiervan in Luk. 6:12-19.
PERSOONLIK
Elkana seun van Jerogam en sy twee vroue, Hanna en Peninna, vertrek môre uit Ramatajim na Silo om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Hulle sal ook die jaarlikse huttefees daar bywoon. Peninna se kinders gaan ook saam. Hulle sal weer teen 24 Etanim terug wees.
- Lees hiervan in 1 Sam. 1:1-19a.
Sukkel jy met ’n kwaal?
Het jy al ALLES probeer, maar
jy bly SIEK?
Raadpleeg vandag nog
Baäl-Sebub
by die tempel in Ekron!

Gebed is ‘n voorreg
Wat ’n ongelooflike voorreg om, soos Hanna van ouds, na God te kan vlug met al ons bekommernis in die wete dat Hy vir ons sorg (1 Pet. 5:7)! En hoe armsalig was ’n man soos koning Ahasia nie, dat hy sonder God, en daarom sonder hoop, in hierdie wêreld geleef en gesterf het. ’n Mens kan jou nie ’n meer troostelose lot indink nie.
Van Jesus lees ons dat Hy, voordat Hy sy apostels kies, die hele nag in gebed tot God deurgebring het (Luk. 6:12). Dit is ook waarvandaan die krag gekom het wat uit Hom uitgegaan het elke keer dat Hy iemand genees (Luk. 6:19).
Lukas meld nogal dikwels dat Jesus gebid het (3:21; 5:16; 6:12; 9:18; 9:28; 11:1; 22:41). Dat ook die Seun van God – Hy wat “een in wese met die Vader” is (Geloofsbelydenis van Nicéa) – nie sonder ’n innige gebedsafhanklikheid met God die Vader kon leef nie, is stof tot ernstige nadenke. Want dit is ongelukkig ’n hartverskeurende waarheid dat juis ons gebedslewe so ’n brose teiken vir die duiwel is, sodat ons gesprekke met God alte dikwels sleg tekortskiet.
Gelukkig verstaan God dit: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede het nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp” (Heb. 4:15). Daarom pleit Hy self vir ons aan die regterhand van God (Rom. 8:34), en het Hy sy Gees aan ons geskenk om ons in ons gebede te lei (Rom. 8:26).
Toe Hanna van haar knieë af opstaan, was sy nie meer bedruk nie, lees ons in 1 Sam. 1:18. Want al het sy nog nie geweet of haar gebed verhoor gaan word nie, het sy geweet haar hartsversugtinge het nie op dowe ore geval nie. Dít is die weelde van God se sorg.
Views: 6