In Johannes 8:1-11 lees ons die bekende verhaal van Jesus en die vrou wat in owerspel betrap is. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het vir Hom kom vra wat hulle moet doen, want die wet van Moses sê sy moet gestenig word. Dis tóé dat Jesus sê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” Ons lees dat die aanklaers een vir een weggeloop het, totdat Jesus later alleen met die vrou was.

Die boodskap is duidelik: ons het almal sonde, en dit pas ons nie om ewe skynheilig ander te veroordeel nie. Dit pas ons eerder om hand in eie boesem te steek. Op ’n ander plek het Jesus gesê ons moet eers die balk uit ons eie oog haal sodat ons goed kan sien voordat ons splinters in ander se oë begin soek.

Ek het hieraan gedink toe ek die anderdag ’n videoclip sien van pres. Donald Trump, waar hy praat oor sonde.

Dit was vir my ’n eye opener, om dit sag te stel. Hier het ons die moderne mens in al sy hubris. En dis nie net hy nie. Ek dink sommer nou terug aan ’n klompie jare gelede, toe ’n lidmaat vir my sê sy wil nie kerk toe gaan om te hoor sy het sonde nie. Sy wil kerk toe gaan om te hoor sy is oulik. Sy wil goed voel.

Toe wonder ek oor die toneel daar op die tempelplein, en ek wonder sommer of Jesus se antwoord vandag die mense sou laat afsien van hulle plan om die vrou te stenig. Mense dink nie vandag meer dieselfde oor sonde nie. Baie mense vandag dink nie hulle het sonde nie, en hou nie daarvan om daaraan herinner te word nie. In die woorde van Trump: Hulle dink nie meer só oor sonde nie, en vind dit nie nodig om God om genade en vergifnis te vra nie.

Snaaks dat moderne mense, wat nie in terme van sonde dink nie as hulle hulleself en hulle dade beoordeel, nie skroom om ánder se sonde uit te wys nie. Gelukkig het Jesus die owerspelige vrou in ander tye in die tempel gekry, want vandag se mense sal nie twee keer dink voordat hulle die klippe op haar laat reën nie.

image_pdfimage_print

Views: 89

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.