Maar vir my sal God loskoop uit die mag van die dood; ek sal aan Hom behoort. (vers 16)
Materialisme en gierigheid is nie net beperk tot die rykes nie. Daarom rig die digter hierdie psalm tot elke mens, sonder uitsondering, ryk en arm (vers 2).
Ryk mense se versoeking is dat hulle op hulleself en hulle goed vertrou. Arm mense se versoeking is dat hulle afgunstig kan word op dié wat meer as hulle het.
Hy wys ons daarop dat rykdom en besittings geen blywende waarde het nie; dit kan nie jou hiernamaals koop nie. Net God kan dit doen.
Die Here Jesus waarsku ons teen gierigheid (Luk 12:15). Hy het ook gesê ons kan nie God én Mammon dien nie (Luk 16:13). Paulus noem dit afgodery (Kol 3:5) en lys dit saam met ontug en onsedelikheid as sondes wat jou die ewige lewe gaan kos (Efes 5:5).
Jesus het ook gesê ons moet ons nie bekommer oor die lewe nie; die Vader sorg vir ons (Matt 6:25-34). Skuif jou fokus weg van die materiële, sê Hy: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt 6:33)