Die Here was by Josef. Dit is amper ’n opsomming van die antwoord van die 1ste vraag van die HK: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” Dat ek aan die Here behoort en Hy by my is en my bewaar. Dis tog waarom die Here Jesus gebore is – Immanuel, God by ons! Dit is waarom Christus aan die kruis vir ons van God verlate was – dat ons nooit weer deur God verlate kan wees nie. Jesus se laaste woorde was ook: “Onthou, Ek is by julle, al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld.”
Die gevolgtrekking wat ons daaruit kan maak, is: As die Here by jou is, moet dit met jou goed gaan. Dit staan tog so in die Nuwe Testament in Rom 8:31: God is vir ons is, wie kan dan teen ons wees? Dan kan dit mos nie sleg met my gaan nie, nie as die Here by ons is nie?
Hierdie hoofstuk 39 begin en eindig met hierdie woorde: Die Here was by Josef (vers 2, 21 en 23). Dit is soos twee arms wat hierdie hele geskiedenis wat hier beskryf word, omvou. Maar kyk net wat gebeur met hierdie Josef met wie die Here is. Hy probeer ’n reguit pad loop, maar loop hom vas teen die listigheid van ’n bose vrou, en hy staan weerloos voor haar vals beskuldiging, sodat hy op die ou end in die tronk beland. Is dit die dankie wat hy kry omdat hy met integriteit en eerbaarheid teenoor sy werkgewer opgetree het?
Dis darem baie onregverdig, voel ons om te sê. Dit gaan daar met hom soos ons dit in ons eie lewens so dikwels ervaar. Want dit lyk soms – as ons na die wêreld kyk en die manier waarop dinge gedoen word – of dit dié is wat die beste kan lieg en bedrieg, dié wat die hardste en koudste is en met die kortste humeur, asof dit die begeertes en luste en slimmighede van mense met bedenklike motiewe is wat die botoon voer en die uitkoms van dinge bepaal. Lees gerus Psalm 73, waar Asaf met hierdie einste vrae worstel.
En nou is daar ook vroom mense wat vir jou sê: As dit sleg gaan, is dit net omdat jy iewers aan die Here ongehoorsaam was. Daarom is ek so bly dat Josef hier so gehoorsaam was en so onberispelik opgetree het. Want as dié mense reg was, sou hy mos nie in die tronk beland het nie? En tog is dit waar hy beland – in die tronk. En nou is dit die merkwaardigste van alles: hierdie geskiedenis word omraam met die versekering: die Here was by Josef.
Ek dink ons moet dit baie goed raaksien in hierdie hoofstuk – ons wat soms aan die Here se liefde en trou twyfel, omdat ons in ’n wêreld leef waarin ons so min van God se teenwoordigheid en sorg direk kan sien, ’n wêreld waar die waarheid verdraai word, waar nie eers altyd na al die getuienis geluister word voordat iemand gekruisig word nie! ’n Wêreld waar dit dikwels die goddelose is wat die septer swaai, wat met moord wegkom, en die getroues bedroë daarvan afkom. ’n Wêreld wat dikwels nie luister na die een met integriteit en eerbaarheid nie, maar na die een met die mag en die geld en die kontakte en die invloed. In hierdie wêreld is God by ons. In en deur en rondom ons ellendes is God by ons in sy troue liefde, soos Dawid sê: Selfs al gaan ek deur donker dieptes …
Maar daar sit ook ’n ander baie belangrike perspektief in hierdie verse wat ons nie mag miskyk nie. Want ons leef in hierdie wêreld nie net saam met familie onder die verborge sorg van God nie. Ons leef ook saam met ongelowiges, mense wat God op ons pad plaas, mense met wie ons te doen kry sonder dat ons dit kan verhelp. Soos Josef se pad met Potifar gekruis het. In verband hiermee lees ons ’n baie interessante opmerking (vers 5): Van toe af het die Here die huis van die Egiptenaar geseën. Dit was oor Josef dat die Here dit gedoen het. Die seën van die Here het gerus op al Potifar se besittings, dié in sy huis en dié in die veld. Josef se teenwoordigheid bring God se seëninge na Potifar se huis. En later sou hierdie seën uitkring na die volkere, toe daar in Egipte, danksy die graanskure wat Josef laat bou het, kos was toe almal wou omkom van honger. Dit was ook die roeping van Abraham, en ná hom die Israeliete in die Ou Testament: Om die seën van die Here aan die nasies te bring.
Dit is ook ons roeping, al gaan daar van ons af seën uit na net een ander persoon. Al moet dit dan ook, soos in die geval van Josef, ten koste van ’n kind van God wees. Of soos in die geval van ’n ander Onskuldige, Jesus Christus, wie se swaarkry en lyding en kruisdood God se seën na al die nasies van die aarde laat uitkring het. Dalk wil God ook jou en my swaarkry gebruik om vir ander tot seën te wees. Wie weet?
Dit was eers aan die einde van sy lewe dat Josef hierdie waarheid helder en duidelik ingesien het: dat sy lyding nodig was, God se plan was, om só ’n groot volk in die lewe te hou (Gen 50). Eers tóé kon hy sien dat God eintlik die hele tyd teenwoordig was in sy lewe, ook daar in Potifar se huis toe die vrou hom wou verlei, ook daar in die tronk, waarin hy onskuldig gegooi is.
Miskien is ons net te ongeduldig, of kyk ons net te vlak, sodat ons nie die doel van ons swaarkry en lyding kan insien en verstaan nie. Gen 39 leer vir ons: ook deur die swaarkry is God met ons besig, is Hy by ons!
Amen.