Van ons Newe Testament redaksie

KAPERNAUM. – Die rabbi Jesus het sy volgelinge opnuut verbaas toe hy tien melaatse mans genees het sonder om ’n vinger te lig.

Die rabbi, wat tans van Galilea na Jerusalem op pad is vir die paasfees, se reis is vanoggend onderbreek toe die tien melaatse mans hom gesmeek het om hom oor hulle te ontferm. Hy het hulle na die plaaslike priesters verwys. Volgens een van die tien, ’n Samaritaan, het hulle onderweg na die priesters ontdek dat hulle gesond geword het.

Die Samaritaan wou nie sy naam bekend maak nie, aangesien hy sy familie wil gaan verras. Hy het gesê dit sal vir hom ’n aanpassing wees om weer na die normale lewe terug te keer. “Dit voel nogal snaaks om naby mense te kom sonder dat hulle van jou af terugdeins. Ek was so lank gewoond om ‘melaats, melaats!’ te skreeu so ver as wat ek gaan. Ek kan dit nog nie glo dat ek weer gesond is nie!” Hy het gesê waarna hy die meeste uitsien, is om weer aan sy vrou en kinders te kan raak, en ’n bord warm kos.

Die ander nege mans wat ook genees is, kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.

 

Tempel nuwe werkkrag ryker

Van ons Ou Testament redaksie

SILO. – Die tempelpersoneel hier is van vanoggend af met een werkkrag versterk toe die driejarige Samuel seun van Elkana van Ramatajim hom vir diens kom aanmeld het. Die knapie was deftig uitgedos in ’n splinternuwe manteltjie wat sy ma, Hanna, spesiaal vir die geleentheid gemaak het.

Hanna het vier jaar gelede tydens die huttefees hier in Silo baie ernstig tot God om ’n seuntjie gebid. Sy was toe nog kinderloos. Sy het ’n gelofte aan God gedoen dat, as Hy aan haar ’n seun skenk, sy hom sy lewe lank aan die Here sal teruggee. ’n Jaar later is Samuel tot haar en haar man se groot vreugde gebore. Verlede maand is hy gespeen, en daarom het Hanna hom nou na die tempel gebring om hier vir God te werk.

Die priester Eli het by navraag gesê Samuel sal aanvanklik help om die tempel skoon te hou en die ark te versorg. “As hy groter is, sal hy seker ook met die offers kan help, maar dit sal met die tyd alleen duidelik word,” het hy gesê.

Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was nie baie ingenome met die nuwe personeellid nie. “Ons lewe van die priestersdeel van die mense se offers. Nou is daar nóg ’n mond wat uit dié bron gevoed moet word. As elke ma wat ’n bevlieging kry, haar kind hier kom aflaai, sal dit later meer na ’n weeshuis as ’n aanbiddingsplek lyk,” het Pinehas verontwaardig gesê.

Van al dié drama weet die kleine Samuel egter niks. Hy het dadelik met blink ogies saam met “oom Eli” deur die tempel gaan stap om sy nuwe blyplek en werkplek te verken. ’n Mens wonder wat nog van dié knapie gaan word …

 

 


Dankbaarheid

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag,” skryf die Paulus in 1 Tess. 5:18.

’n Mens voel lus om vir Paulus te sê dat dit darem sekerlik onnodig is om ons tot dankbaarheid op te roep. Ons ontvang daagliks soveel uit God se hand. Wie sal dan nie dankbaar wees nie? Tog is dit ’n hartseer waarheid dat baie mense – ek wil dit waag om te sê die meeste mense – ondankbaar is. Daarom kla ons so maklik, is die gras aan die ander kant van die draad meestal groener, het ander dit makliker in die lewe as onsself. Ons meet onsself graag teen dié wat meer as ons het, hoër sporte in die samelewing bereik het, slimmer kinders het, en dan wens ons ons het ook al dié dinge gehad. Dat ons, as ons ons gaan meet aan die miljoene wat minder as ons het, eintlik baie goed daaraan toe is, kyk ons so maklik mis.

In die twee gebeurtenisse op hierdie bladsy lees ons ook van dankbare mense. Mense wat, soos ons daagliks doen, by God om hulp gaan aanklop het, en tot hulle groot vreugde ontdek het dat God hulle versugtinge verhoor het. Maar ons lees nog ’n baie belangrike ding: dat die seëninge van God nie daar opgehou het nie. Hulle dankbaarheid teenoor God is beloon. Hanna ontvang méér as waarvoor sy ooit kon bid: nog drie seuns en twee dogters (1 Sam. 2:21). En die man wat omgedraai het, gaan uiteindelik met baie meer huis toe as die ander nege. Nie net gesond nie, maar ook gered (Luk. 17:19)!

Hoeveel seëninge het ons dalk al misgeloop omdat ons só besig is met wat ánder ontvang het, dat ons God se wondergawes in ons eie lewe mis kyk?

Dalk is dit tyd om weer ’n keer bestek op te neem. Daar is sóveel om God voor te dank.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.