Dís die vraag waarmee ek al ’n hele rukkie worstel. Baie van ons weet dat jy nie iemand kan dwing om te glo nie. Jy kan ’n perd tot by die water bring, maar jy kan hom nie maak drink nie, sê die spreekwoord. En van die geloof is dit 100% waar. Menige een van ons het al die frustrasie beleef dat jy ’n lang gesprek met iemand gehad het, of dalk ’n reeks gesprekke, waarin jy die ander persoon probeer oortuig het dat God daar is, dat geloof in God se bestaan sin gee aan joune, dat Hy leef en jou hele lewe verander het, maar telkens versand die gesprek(ke) in ’n skouer-ophaling by die ander persoon. Verby is die dae dat jy iemand kan bangmaak met die hel en die ewige verdoemenis, of kan wys op sonde en die noodsaak van verlossing. Mense steur hulle deesdae al hoe minder aan sulke soort emosionele afpersing.

CS Lewis skryf iewers dat niemand nog ooit ’n gelowige geword het omdat hy ’n argument verloor het nie. Argumente werk nie baie goed as evangelisasie-instrument nie. Dalk het dit vroeër; ek weet nie. Dit werk in elk geval beslis nie nou nie.

So, om terug te kom by my vraag: hoe gemaak om iemand by die Here uit te bring?

Ek dink ons het te lank die proses agterstevoor-om aangepak. Die gesprekke oor Jesus as die enigste Weg, Waarheid en Lewe is natuurlik noodsaaklik, maar dis nie waar ’n mens begin nie. Dis waarby jy uiteindelik uitkom, nadat jy ’n lang pad met iemand geloop het. Die ander persoon sal eers begin belangstel in wat jy sê as hy/sy besef jy stel belang in hom of haar; dat dit vir jou om baie meer gaan as net sy of haar siel vir die Here wen. Trouens, jou aanpak moet só wees dat die ander sal beleef dat hy of sy as persoon vir jou belangrik is, ongeag die feit dat hy of sy nie glo nie.

Daarom moet ’n mens nie iemand bevriend met ’n agenda nie. Wees net lief vir die ander. Dis tog die groot gebod, dan nie? En bid in jou binnekamer dat julle vriendskap uiteindelik die ander een só sal raak dat hy ook wil glo soos jy. Jy kan dit nie vir hom ingee nie, dis God se deel. Wees jy maar net ’n toegewyde, Geesvervulde Christen. Dís jou deel.

image_pdfimage_print

Views: 192

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.