“Dis ’n rotte-ren!” Dié gevleuelde uitspraak van oom GG in ’n sitkom van weleer bly my by. Seker omdat ons almal sukkel met ’n gejaagde lewe, en ons weet nie hoe om te ontsnap van die mallemeule nie. Alles moet gouer gedoen word. Mense verwag vinniger reaksie, om nie te sê oombliklike reaksie nie, op navrae of bestellings. As jy ’n WhatsApp of sms of epos gestuur het en jy kry nie binne minute ’n antwoord terug nie, raak jy geïrriteerd. En omdat jy ’n selfoon het, moet jy te alle tye beskikbaar wees, en móét jy die oproep beantwoord of die boodskap lees, al onderbreek dit ’n ete of ’n gesprek.

Dan is daar natuurlik nog die “multi tasking” wat ons genoodsaak is om te doen, net om by alles uit te kom. So maak jy oproepe terwyl jy ry, trap oefenfiets terwyl jy TV kyk, beantwoord epos as jy al in die bed is … G’n wonder nie dat navorsing sê ons het eintlik ’n 27 uur dag nodig, en dat die meeste mense te moeg is om enige iets meer te geniet.

Iemand merk op dat jy moet weet dat, selfs al wen jy die rotte-resies, jy nog altyd ’n rot bly. En so jaag ons voort, dag na dag. Almal kla, maar niemand slaag daarin om te breek met die dolle gejaag nie. Want ons het verslaaf geraak aan kits en die verbruikerskultuur. En boonop wil ons niks mis nie. Daar is selfs ’n akroniem daarvoor: fomo, “fear of missing out”. Daarom bly jy facebook oopmaak, want dalk het iemand iets geplaas waarvan jy moet weet. Of jyself het iets geplaas, en nou wag jy reaksie in. En jy volg ’n reeks op TV, daarom móét jy vanaand se episode kyk, want as jy dit mis, ja, wat dan? Wat daarvan as jy nie al die nuutste plasings op facebook of instagram of twitter gesien het nie? Wat daarvan as jy ’n episode in die reeks gemis het? Sal die wêreld gaan staan? Sal jy ’n armer mens wees?

Laat ons eerlik wees: ons het te veel keuses in die lewe. Te veel dinge eis ons aandag en tyd op. Ons kinders doen hokkie en netbal en rugby en krieket en tennis en atletiek en redenaars en skaak en perdry en ballet en moderne dans en koor en … o ja, dan is daar nog die skoolwerk ook wat iewers ingepas moet word. Is ons verbaas dat al meer tieners onder die druk knak?

Wanneer laas het jy in die oomblik geleef? Wanneer laas het jy een ding gedoen sonder om dit af te jaag omdat jy by die volgende taak of afspraak moet kom? Gaan stap, of draf, of fietsry sonder ’n ipod wat in jou ore geprop is, of ’n selfoon in die hand vir ingeval iemand jou bel of teks?

Ek dink dit het tyd geword dat ons ons voet neersit. Ek het opgehou om gereeld na facebook te kyk, en, vreemd soos dit mag klink, ek is nie armer as gevolg daarvan nie. Ja, ek het sekerlik ’n klomp nuus en videotjies en oulike memes en grappies van vriende en kennisse en vreemdelinge misgeloop, maar wat daarvan? As dit regtig nodig is dat die nuus by my moet uitkom, sal dit, want daar bestaan ander roetes van kommunikasie ook. Daarom het ek besluit om facebook en twitter heeltemal te los, want die tyd wat ek daardeur wen, is vir my meer werd as die nuusbrokkies en memes wat ek verloor.

Jesus (in Lukas 9:25) het in dié verband gesê: “Wat help dit ’n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.