As daar een ding is wat my altyd weer verbaas laat oor God, is dit sy ongelooflike goedheid, sy genade – nie net vir ons, sy kinders nie, maar vir alle mense. Die Here Jesus het van Hom gesê: “Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” God se seëninge is nie net beperk tot sy kinders nie.
Dit lees ons natuurlik op feitlik elke bladsy van die Bybel. Dis juis waarom Hy vir Abraham roep: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” Dit is natuurlik nie altyd so maklik om jou daaroor te verwonder nie. Soms voel jy allesbehalwe lus om jou daaroor te verwonder, raak jy opstandig en kwaad en ontevrede omdat God vir ongelowiges ook goed is, soos ons in die week van Jona gelees het.
En nou weet jy hoe werk God. Hy gebruik mense. Hy skakel mense in by sy plan met hierdie wêreld. So gebruik Hy ook mense, sy kinders, vir jou en vir my, om sy seën na die nasies toe te laat gaan.
So het God vir Josef gebruik om sy seëninge na ander mense toe te laat oorvloei. Dit loop soos ’n goue draad reg deur die Josef-geskiedenis: waar Josef ook al gekom het, het God se seëninge na die mense om hom gevloei. Dit beteken nie dat hy altyd ’n maklike pad gehad het nie, maar omdat God by hom was, het sy pad vir die mense om hom seëninge gebring: vir Potifar wie se slaaf hy was, en vir die tronkbewaarder wie se gevangene hy was. En uiteindelik het God hom in ’n posisie gebring waar hy tot seën kon wees vir mense van die hele destydse wêreld. Want toe die wêreld wil vergaan van die honger, was daar danksy Josef se bemiddeling kos in Egipte.
Soms gebeur dit dat ons self ook deel in die seëninge wat God deur ons uitdeel, soos dit uiteindelik ook met Josef die geval was. In hierdie hoofstuk maak hy uiteindelik, na 13 jaar, opgang en gaan dit met hom baie goed. Maar ons sien in Josef se lewe ook die ander kant: dat God sy seëninge ook ten koste van ons kan uitdeel, soos Hy gedoen het deur Josef toe hy in Potifar se huis ’n slaaf was, en toe hy in die tronk ’n gevangene was. Want dit moet ons baie goed onthou: In hierdie hele geskiedenis gaan dit ten diepste nie in die eerste plek oor Josef en hoe hy koning geword het nie; trouens, die verhaal van Josef begin met die woorde: Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob (37:2). Want wat die skrywer ons wil vertel, is nie van Josef as sodanig nie, maar van God se handelinge met hierdie wêreld deur sy mense. Dit gaan dus in alles om God wat besig was met sy volk en sy wêreld, en hierin het Hy vir Josef gebruik.
Soos Hy ook vir jou en my in hierdie wêreld wil gebruik om sy seën na ander te laat vloei. Een ding weet ons baie goed: eendag sal ons openlik die eer ontvang, en dan sal dit vir almal duidelik wees dat ons God se kinders is (1 Kor 15). Maar intussen, terwyl ons na daardie dag op pad is, weet ons nie watter pad God met ons sal loop om ons tot seën vir ander te maak nie. Dit geld nou van ons as enkelinge, maar ook as groep gelowiges. Hoe weet ons tog wat God se pad met ons sal wees in hierdie land in die jare wat voorlê?
Dat God die mense van hierdie kontinent en die wêreld wil seën, dit weet ons, maar hoe Hy hierdie seën gaan uitdeel, dit weet ons nie. Dit gaan ten diepste tog nie in die eerste plek om ons en ons tydelike voorspoed nie, maar om God se weg met hierdie wêreld, wat Hy so liefhet dat Hy sy enigste Seun gegee het. Dit gaan daarom dat Hy ons wil gebruik om sy seëninge ook by die mense van hierdie land van ons uit te bring. Daarvoor moet ons bid: dat ons bruikbaar sal wees in sy plan, soos Josef.
En die seën wat God by die wêreld wil uitbring, is nie net geestelike seëninge nie; dit natuurlik óók. God wil deur ons die evangelie by mense bring. Daarom huiwer Josef ook nie om te getuig van God nie, teenoor Potifar se vrou, teenoor die skinker en bakker in die tronk, en selfs teenoor die magtige farao. Maar die seën het ook materiële dinge ingesluit. Dit het goed gegaan in Potifar se huis terwyl Josef daar was, en later in die tronk. En toe Josef in beheer van Egipte kom, gaan dit goed, want Egipte het kos vir almal.
Mense sê maklik hulle weet nie so mooi wat hulle vir die Here kan doen nie, want hulle weet nie altyd wat om te sê en hoe om te getuig nie. Maar ons taak kan ook deur ons dade uitgevoer word, deur liefde vir ander te gee, belang te stel, ’n oor te hê vir een in nood. So kan ons óók die seëninge van God by mense uitbring.
Nie dat ons almal die besondere plek van Josef in God se besig-wees met die wêreld inneem nie. Nie almal van ons word in ons eie omstandighede verhoog soos Josef nie. Party van ons se plek in God se plan is soos die van Josef se broers, wat maar op die agtergrond beweeg, wat dalk ook moet toesien hoedat ’n broer wat na ons mening dit nie eers verdien nie, die opgang maak wat óns graag sou wou maak.
Dan moet ons onthou: God het ’n plan, al loop dit soms anders as wat ons ons voorgestel het, en al is ons rol in die plan nie so luisterryk soos ons dit wil hê nie. Hoofsaak is nie dat ons almal verhoog moet word nie. Hoofsaak is dat God sy plan bereik, dat sy seën kan vloei na andere, dat ek vir ander tot seën kan wees. Of ek nou ’n hoofrol in die plan het, en of ek maar een van die byspelers is – solank God se plan voortgaan. Want uiteindelik deel ons almal in sy seëninge.
Amen.