SILO. – Dié priestersdorpie, wat se hele bestaan wentel om die tempeldiens, en wat vir geslagte lank die trotse bewaarder van die verbondsark van God was, se dae is getel.

Berig is laat gistermiddag uit Afek ontvang dat die Filistyne bo-oor die Israelitiese leër geloop het en ook die verbondsark gebuit het. Dit lyk seker dat die Filistyne nie sal rus voordat hulle ook die verbondsark se tuiste, Silo, verwoes het nie, om daarmee finaal te bevestig dat hulle nie net die Israeliete nie, maar ook die God van Israel verslaan het. Die opmars na Silo het reeds begin, en alle aanduidings is dat die dorp binne die volgende paar dae aangeval sal word. Inwoners het reeds begin om hulle huise te ontruim en suidwaarts te vlug na die dorpie Nob digby Jebus, ook bekend as Jerusalem.

Vir die huis van die hoëpriester is die oorlog ’n nagmerrie wat net nooit ophou nie. Die twee priesters Hofni en Pinehas het albei gesneuwel toe die verbondsark gebuit is, en hulle vader, hoëpriester Eli, het van skok beswyk by die aanhoor van die nuus dat die ark in die Filistyne se hande geval het. Daarby was die drie-dubbele tyding van haar man en skoonpa en die ark vir Pinehas se vrou een te veel. Sy het voortydig in kraam gegaan. Nie eens die nuus dat sy die lewe aan ’n seuntjie geskenk het, kon haar smart verlig nie. Sy het haar seuntjie “Ikabod” genoem, en toe gesterf.

Ikabod beteken, heel gepas: “Waar is die eer?”

 

 

JUDEËRS IN EGIPTE GEDOEM

– profeet voorspel die einde

TAGPANGES. – Die Joodse profeet Jeremia het gister hier konsternasie en woede uitgelok toe hy in ’n sterk bewoorde preek die Joodse ballinge gewaarsku het dat hulle besig is om ’n groot ramp oor hulleself te bring deur in Egipte te skuil.

Jeremia het onder meer gesê: “Julle sal almal deur die oorlog en deur hongersnood afgemaai word in Egipte … Daar sal nie een vrykom van dié wat van Juda oor is en wat in Egipte gaan woon het nie …”

Die rede vir dié harde woorde is tweërlei. Die Jode het teen ’n uitdruklike bevel van God in na Egipte gevlug, en verder gaan hulle voort om wierookoffers en drankoffers aan die hemelkoningin te bring.

Intussen het die leiers van die ballinge, Joganan seun van Kareag en Asarja seun van Hosaja, in ’n gesamentlike verklaring die Jode tot kalmte gemaan. Hulle wys daarop dat Jeremia ’n geestelike is en van die politiek niks weet nie. Hulle het ’n beroep op die ballinge gedoen om hulle leiding te vertrou. “Ons tree op in die beste belang van al ons mense,” het hulle gesê.

Joodse leiers met wie Bybelkoerant gesels het, het die profeet se woorde afgemaak as “die gekerm van ’n ou man wat nie sy sin kon kry nie.” Hulle sê Jeremia wou nie na Egipte kom nie omdat hy ’n vurige bewonderaar van koning Nebukadnesar van Babel is, en nie kan glo dat hy hulle in Juda sal bykom nie. “Jeremia se politieke voorkeure was al lankal verdag, maar na dié preek kan daar geen twyfel meer bestaan oor sy sentimente nie.”

Ondanks die leierskorps se versekeringe bly die ballinge onrustig. Een vrou het dit so uitgedruk: “Jeremia is nou wel nie ’n politikus nie, maar hy is ’n man van God. Ek dink dit is dwaas om sy woorde as belaglik af te maak.”

Wie reg is, sal net die tyd leer. Intussen hou die Jode hier maar die beweging van Nebukadnesar se gevegsmagte fyn dop.

 

 


God se eer

Ons is dikwels, soos Pinehas se vrou in haar sterwensuur, geweldig ontsteld as die eer van God op die spel is. En tereg ook, want wanneer God se eer aangetas word, spat die vonke. Daarom dat Hy by monde van Jeremia die Joodse ballinge so dringend vermaan. Hulle het Hom in sy eer gekrenk deur ander gode te vereer (Jer. 44:3).

Dit is daarom nogal ironies dat dit nie die heidene is nie, maar juis God se volk wat sy eer die meeste aantas. Want as heidene God minag, kan ’n mens dit nog verstaan. Maar as sy eie volk Hom misken soos in Jeremia se dae, of van Hom ’n afgod wil maak wat jy agter jou kan aansleep om vir jou ’n gunstige uitkoms te verseker, soos Hofni en Pinehas, dan ís sy eer op die spel.

In Mal. 1:6 roep God verslae uit: “’n Seun eer sy vader en ’n slaaf sy eienaar. As Ek dan vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan?”

God se eer sal ook vandag op verskillende maniere aangetas word. Doen jy iets daaraan?

image_pdfimage_print

Views: 98

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.