Ek en Elmien was ‘n tyd gelede by ’n leraarsontbyt van die Gideons. Dis ’n klomp gawe mense, dié Gideons. Hulle het ons gasvry ontvang, en ons het heerlik geëet. Maar voor die ete moes ons natuurlik eers na ’n bekendstelling van die Gideons luister. Die spreker het die Bybel opgehou en gesê hy is jaloers op ons, predikante, want ons het die ware Jakob. Daar is, anders as in die sakewêreld, niks wat die Bybel in die kerk kan vervang nie. In sy bedryf, sê hy, is daar altyd ander stelsels, of nuwe produkte, en jy moet die hele tyd teen dié kompetisie werk. Maar niks kan die Bybel vervang nie.
Ek is dit natuurlik roerend eens met hom dat niks, maar niks, die Bybel kan vervang nie, maar ek het ook met ’n tikkie hartseer geluister toe hy dit sê, want daar ís inderdaad deesdae ’n mededinger vir die Bybel: die evangelie volgens sosiale media. Dít het ongelukkig baie mense se (enigste?) geestelike verwysingsraamwerk geword. Dis natuurlik nou die goed wat mense met mekaar deel: tweets, memes, video’s, facebook-inskrywings – almal mooi en stigtelik en (gedeeltelik) waar. Ek sê gedeeltelik, want dikwels is dit gewone menslike wysheid wat goed klink, maar min met die lewende evangelie, die onvervalste Woord van God, te make het. Wat ewe goed in die mond van ’n Moslem of ’n Hindoe of Boeddhis kon pas. Want Jesus is nie daarin nie.
As dit maar net gebly het by die deel van dié “wyshede” op sosiale media, was dit een ding. Maar dit kruip al meer in die “teologie” van die kerk in. Dít, en nie die Woord nie, is dikwels die teks van die preek.
Ek weet nie wat was eerste nie, die hoender of die eier nie, maar ek weet dat hierdie dieet van geestelike kitskos ’n geleidelike vervlakking in mense se geloofsbeskouing en -lewe teweeg bring. Want mense glo dit vir die evangelie. Daarom dat ek op ’n kerklike beweging se webwerf lees dat hulle uitgangspunt die volgende is: dat jongmense die vermoë het om te droom, die kapasiteit om die onmoontlike te glo, en die grenslose energie om hulle drome te realiseer. En ek wonder: waar is die Here Jesus in hulle vertrekpunt? Waar is die Bybel in hulle visie? Of het ek iewers iets gemis?
By die ontbyt is ’n aangrypende getuienis van dr Ron Archer gespeel. Kyk gerus daarna; jy sal nie spyt wees nie. Hy sê daarin dat God deur die Bybel sy lewe en sy hele wêreld verander het toe hy begin het om groot dele van die Bybel te memoriseer.
Ek droom van ’n dag wat dít weer die ideaal van die kerk sal word, soos toe ek ’n kind was, en ons vir elke week se Sondagskool ’n teks moes memoriseer. En op laerskool moes ons dit ook doen. Ek onthou nou nog Psalm 24 uit my kop, want dit was een van die Skrifgedeeltes. In tye van swaarkry en geestelike toetsing kan ek en talle ander wat soos ek grootgeword het, getuig hoe die Heilige Gees dié gememoriseerde Skrifgedeeltes in hulle lewe gebruik om hulle deur te dra.
Hoeveel van die Bybel ken jý uit jou kop?
Views: 12