Spesiale verteenwoordiger
GOSEN. – Die leier van die Israelitiese slawe, Moses seun van Amram, het vanoggend woedend uit die paleis by Memphis gestap nadat die farao hom met die dood gedreig het en alle onderhandelinge finaal opgeskort het.
Dié doodsdreigement volg op wekelange onderhandelinge wat Moses en sy broer Aäron namens die Israeliete met die farao gevoer het. Hulle wou van die farao toestemming kry vir ’n offerfees in die woestyn. Dit het ’n paar keer gelyk asof daar ’n deurbraak in die onderhandelinge gekom het, maar elke keer het die farao op die nippertjie die doelpale verskuif.
Moses het groot aansien onder die Israeliete én die Egiptenare verwerf deur sy diplomatieke vernuf en leierskap tydens die moeilike onderhandelinge. Daarom is dit onbegryplik dat die farao, selfs teen sy raadgewers se advies in, steeds weier om sy toestemming te gee.
Moses het laat vanmiddag die Israelitiese leiers hier in Gosen ontmoet om verslag te doen van die stand van sake. Hy het gesê daar wag ’n ramp van ongekende omvang op die Egiptenaars vanweë die farao se onversetlike houding. Volgens hom sal die Here in een nag al die eersgeborenes in Egipte doodmaak om die farao te forseer om hulle te laat gaan. “Ek wens met my hele hart dat dit anders kon wees, want duisende onskuldige mense het deur die dwaasheid van een man ’n doodsvonnis gekry,” het Moses gesê.
In opdrag van Moses het die Israeliete nou in alle erns met die voorbereidings vir die trek begin.
- Lees hiervan in Eks. 10:28-29 en 11:1-10.
Pes in Asdod maai talle af
Gevalle ook in Gat en Ekron aangemeld
ASDOD. – ’n Doodse atmosfeer heers sedert builepes twee maande gelede hier in die stad en omgewing uitgebreek het. Honderde mense het reeds gesterf, en baie ander is besmet. Dokters wat nog nie self siek is nie, weier nou om nuwe gevalle te ondersoek uit vrees dat hulle kan aansteek.
Intussen berig ons korrespondente in Gat en Ekron dat gevalle van die gevreesde siekte ook daar aangemeld is. ’n Massa-histerie het daar posgevat, en in Ekron is dit so erg dat die geskreeu in die stad baie ver gehoor kan word.
Die stad Asdod se gesondheidsdepartement het inwoners versoek om die lyke van geliefdes buite die stad te verbrand in ’n poging om die siekte hok te slaan, maar tot dusver het dit nie enige merkbare verbetering in die toestand gebring nie.
Die siekte het ’n baie kenmerkende verloop: buile (knoppe) en pesswere breek oor die hele liggaam uit. Die sieke ontwikkel ’n hoë koors en raak deurmekaar. Geweldige hoofpyn en braking kom ook voor, en die sieke se liggaam word swart.
Die vermoede bestaan dat die siekte verband hou met ’n muisplaag wat die stede van die Filistyne die afgelope weke teister. Dokters het aan Bybelkoerant bevestig dat ’n verband tussen muise, rotte en die pes lank reeds vermoed word.
Priesters en waarsêers hou egter vol dat die siekte veroorsaak word deur die god van die Israeliete. Hulle wys daarop dat die siekte net mooi uitgebreek het toe die verbondsark van die god van Israel ná die slag van Afek na Asdod gebring is. Die pes het ook eers na Gat en later Ekron versprei nadat die ark daarheen gestuur is.
- Lees hiervan in 1 Sam. 5.
God se eer
Dat ons deur ons lewe aan God eer moet bring, daarmee sal enige kind van God saamstem. Dat dit helaas so dikwels nie gebeur nie, is ongelukkig ook ’n feit waarvan min Christene sal verskil.
Dit laat ons soms bekommerd wonder wat dan van hierdie wêreld en van God se aansien en eer in hierdie wêreld gaan word. Maar as ’n mens die Bybel lees, kom jy gou agter dat dié vraag so ietwat aanmatigend is. Want God kan sy eer natuurlik baie beter handhaaf as wat ons ooit kan droom om te doen. Daarom dat selfs die Dagon-beeld in Asdod in aanbidding voor Hom neerval, en die Filistyne kort voor lank nie kan wag om die verbondsark na sy regmatige tuiste terug te stuur nie. Daarom moes die farao sy woorde aan Moses (Eks. 5:2: “En wie is die Here nogal dat ek na Hom sal luister …?”) later sluk. God laat Hom nie uitdaag nie.
“Here, almagtige God, wie is soos U? U krag is groot, u trou is oral!” (Ps. 89:9).