’n Eenvoudige soektog met my Bybelprogram lewer die volgende resultate: die woord “blydskap” kom 98 keer voor in Bybel, en “vreugde” 128 keer. Dit lyk my God is nogal ernstig oor dié saak! God wil hê ons moet bly mense wees. Stroef en somber en terneergedruk is nie karaktertrekke wat Hy by sy kinders wil sien nie.

Maar as die korona-pandemie oral om jou mense siek maak, as anargie dreig om die land in sy greep te kry, as die berigte van nóg ‘n moord in die land jou tussen die oë tref, as die knieë kraak wanneer jy in die oggend uit die bed sukkel, as jy sonder jou bril nie meer ’n woord kan lees nie, as jou blaas nie meer elasties genoeg is om jou ’n nag lank rus te gee nie, as jy ontdek jou kinders is groot en maak nie meer noodwendig soos jy sê nie, as jy agterkom jou spaargeld is nie soveel soos wat jy gehoop het nie, dán raak hierdie opdrag van die Here dat jy bly moet wees, nie meer so maklik uitvoerbaar nie.

Ons leef in ’n wêreld waarin mense nie juis verstaan wat blydskap beteken nie, ten spyte van al die moderne uitvindsels om dinge vir ons makliker te maak. Hou maar mense se gesigte dop as jy in ’n tou by die supermark staan, of in die verkeer by duisende motoriste verby ry. Die gesigte is stroef, onvergenoegd selfs. Want die lewe druk van alle kante, en jy moet alles uithaal om bo te bly.

Blydskap? Moderne mense soek dit in ’n bottel of ’n blikkie of ’n kapsule. Hulle soek dit by die klub, langs die sportveld, in die Lotto-ry. Oral behalwe waar hulle eintlik moet soek: in hulleself. Want blydskap kom nie van buite nie. Jy kan dit nie inneem of op ’n vinnige manier in die hande kry of beleef nie. Sulke soort blydskap is hoogstens kortstondige plesier.

God verstaan dit goed. Hy het ons immers gemaak. Hoe staan dit nou weer in Ps 103:14? “Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit ingedagte dat ons stof is.” Daarom dat Hy nie net beveel dat ons Hom met blydskap moet dien (Ps 100:2) en altyd bly moet wees (Fil 4:4) nie; Hy bewerk self ook die blydskap in ons lewe deur die inwoning van sy Gees. Daarom is die tweede aspek van die vrug van die Gees in ons lewe juis blydskap (Gal 5:22). Blydskap is iets wat ’n mens in jouself ontdek namate die Gees van God in jou werk en die Seun van God in jou lewe gestalte begin kry. Dis die soort blydskap wat nie afhang van die politiek of die ekonomie of jou liggaam se soepelheid nie, maar van die seker wete dat jy geborge is in God se sorg.

Moderne mense verstaan dit dikwels nie. Daarom die gebrek aan vreugde in ons wêreld. Maar óns verstaan dit! As die Here Jesus sê ons is die sout vir die aarde (Matt 5:13), ons is die mense wat ’n lawwe wêreld weer smaak moet gee, is blydskap een van die dinge waarmee ons Christene die mensdom wat so naarstiglik op al die verkeerde plekke na blydskap soek, kan help.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.

Pin It on Pinterest

Share This